SS Plus

MEDIAVERKLARING OOR DIE MIV-VIGSPANDEMIE

Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) neem met hartseer kennis van een van die grootste krisisse wat die mensdom nog ooit getref het met die sorgwekkende afmetings wat die pandemie van vigs aangeneem het en steeds aanneem. Statistiek RSA: Geïnfekteer 3.5 miljoen (2003); 5.3-6.1 miljoen (2005); 6-7.5 miljoen (2010). Sterftesyfer (per jaar): 90 000 (2002), 383 000 (2005) 635 000 (2010).*

Die Sinode het ook sy kommer uitgespreek oor die kerke se gebrekkige rol ten opsigte van bestryding van hierdie tragedie. Die verwoestende effek wat vigs uitoefen op die gesinslewe (ouerlose kinders), die beroepslewe (verminderende arbeidskorps) en die mediese diens (oorlading by dokters en hospitale) is enorm. Daarmee saam die toenemende armoede en magteloosheid in agtergeblewe gemeenskappe waar vigs ‘n welige teelaarde vind. Met afsku is ook kennis geneem van die gevaarlike mites wat onder sekere mense oor vigs bestaan en wat gelei het tot verkragting van kinders.

Teleurstelling is ook uitgespreek oor die landsregering se oënskynlike onvermoë om die vigs-pandemie op betekenisvolle wyse die hoof te bied met sy pro-kondoomveldtog asof dit veilige seks sal waarborg. Daarom is daar waardering vir die nuwe benadering van die regering, naamlik sy MIV-VIGS-program A (“abstinence”) en B (“be faithful”).

‘n Beroep word op die kerke gedoen

- om te waarsku teen stigmatisering, diskriminering en verwerping van MIV-positiewe persone;

- om in die gesindheid van die liefde van Christus ‘n veilige hawe te wees waar MIV-positiewe mense en vigslyers en hulle naasbestaandes die grootste vrymoedigheid het om hulle status bekend te maak;

- om deur middel van morele voorligting (aan veral jongmense), pastorale begeleiding en versorging van vigspasiënte en weeskinders die genesende krag van die evangelie van die Here Jesus Christus in die samelewing sigbaar te maak;

- om as vennoot formeel betrokke te raak by multi-dissiplinêre aksies om vigs te voorkom en te bestry;

- om te offer ten einde ook finansieel ‘n beduidender rol te speel.

n Beroep word op die jeug gedoen om te besef dat daar geen veilige seks bestaan nie, maar wel verantwoordelike seks binne die raamwerk van die monogame huwelik. Seksuele losbandigheid is nie alleen ‘n hoë risiko nie, maar ook teen die wil van God.

‘n Beroep word op die sentrale owerheid gedoen om MIV-VIGS tot ‘n aanmeldbare siekte te verklaar ten einde MIV-VIGS-pasiënte doeltreffend te identifiseer en te behandel. Hierdie beroep het besondere betrekking op situasies van gedwonge saamgroepering van mense - soos veral in hostelle en in gevangenisse waar homoseksualiteit en verkragting ‘n hoë risiko is.

Die owerhede (nasionaal, provinsiaal en munisipaal) word ook versoek om met nog groter doelgerigtheid alles in die werk te stel om deur middel van voorligting, voorsorg, finansiële voorsiening en voorkomende maatreëls die pandemie te probeer stuit sodat ons ‘n gesonde samelewing mag hê.

‘n Beroep word ook op die media gedoen om nie advertensieruimte vir prostitusie te gee nie aangesien prostitusie teen die wil van God en sy Woord is én ook vanweë die direkte verband tussen prostitusie en MIV-VIGS-besmetting.

·        Bron: loveLife. Henry J Kaiser. Family Foundation.

Hierdie is die webblad van Dr Hennie van Wyk. Standpunte op hierdie blad is sy eie of die van outeurs wie se werk geplaas word, in watter geval die standpunte die van die genoemde outeur is.