SS Plus

Hierdie artikel het verskyn in DIE KERKBLAD 9 Okt 1996

Wit Teologie of “Israelvisie” – ’n nuwe gevaar vir die kerk van Jesus Christus

Ds. Gert Kruger

Dit is onmoontlik om alle leerstellings van die Wit Teologie in ’n enkele artikel weer te gee. Daarom slegs enkele van die belangrikste leerstellings. Kommentaar is dikwels oorbodig.

Die Wit Teologie is ’n godsdienstige kulte in Suid-Afrika wat beweer dat die blanke volke afstam van die stamme van Israel. Al God se beloftes aan sy verbondsvolk Israel geld dus net so vir alle blankes. Hulle noem hulleself dan ook “die gemeente van die verbondsvolk”. ’n Lid van hierdie beweging kan maklik uitgeken word. U sal gou hoor dat so ’n persoon sê: “Ek is ’n Israeliet”, met die doel om sy blanke rassuiwerheid godsdienstig te regverdig.

 

’n Ou dwaling met nuwe aanhangers!

Die Wit Teologie se oorsprong vind ons in die sogenaamde “Brits-Israelbeweging” wat reeds so vroeg as 1822 in Londen ontstaan het. In 1962 is ’n pamflet getiteld “British-Israel Identity Truth” hier in Suid-Afrika versprei. Ook die tydskrif “The Plain Truth” wat wyd in Suid-Afrika gelees word, versprei hierdie gedagtes. Om nie eers te praat van die menigte pamflette wat gratis in Gereformeerdes se posbusse beland, onder andere die pamflet getiteld “’n Roepstem in die woestyn”, nie. Wanneer ’n mens let op die essensie van hulle argumente, word dit duidelik op watter merkwaardige gronde dié opvatting gebou is.

Propageerders van die “Brits-Israelbeweging” beweer dat die woord “British” afgelei is van die Hebreeuse woord “berit” (beteken “verbond”) en “ish” (beteken “man”). Dan word beweer dat al die lede van die verbondsras, al die nasies wat afstam van Israel, gevind word onder die “Berit-ish” oftewel “British”.

Verder word gesê dat die Angele, die Saksers en die Kelte, wat die basiese samestelling van die nasie van die Britse Eilande vorm, die direkte afstamming van Israel van ouds is, deur wie God beloof het dat Hy sy koninkryk op aarde sou vestig. En as jy dit nog nie wil glo nie, die Engelse woord vir Saksers is “Saxon”, en hierdie woord is ’n verbastering van die begrip “Isaac-sons”. Dit lyk vir my meer na verbeelding as na waarheid!

Teenoor die “British Israelites” se teorie dat die Engelssprekende lande die somtotaal van die verlore tien stamme van Israel is, beweer die Wit Teologie in Suid-Afrika dat die Engelse nasies net één van die tien stamme is. Die Duitsers, Hollanders, Franse en Engelse en indirek dan ook die blanke Suid-Afrikaners is volgens die Wit Teologie direkte afstammelinge van die verlore tien stamme van Israel. Die Wit Teologie is dus maar net ’n variasie op die tema van die “British Israelites”, en met hierdie 19de-eeuse opvattings aangaande die Engelse nasie word vandag gepoog om die blankes in die Nuwe Suid-Afrika te bemoedig.

 

Jahweh van ons vaders

Ons bely elke Sondag in die erediens: Ons glo in God, die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde (Apostoliese Geloofsbelydenis). Die Wit Teologie bely God as Jahweh van Israel, die Almagtige van ons vaders. God word gereduseer tot die “God van ons vaders” en hieruit word dit duidelik dat die soewereiniteit van God oor sy ganse skepping, en daarom oor al die volkere, nie gehandhaaf word nie.

As in ag geneem word dat stellings gemaak word soos: “Israel kan gesoek word onder die blanke volkere van die aarde!”, en dat “Israel, die vaders, blank is”, maak die Wit Teologie net soos die Swart Teologie die fout om te veronderstel dat God aan hulle kant is. Die Swart Teologie sê God is aan die kant van die armes en onderdruktes (swartes); die Wit Teologie sê God is aan die kant van die blankes (Israel). Die kern van die evangelie, naamlik dat Jesus Christus ons van ons sondes verlos, word op hierdie wyse vervals. Nie meer verlossing van sondes nie – nee, God sal jou red omdat jy ’n Israeliet is, omdat jou velkleur blank is.

 

Die Verlosser is Yashua

Yashua beteken “Yahwe verlos” en by die Wit Teologie verlos Yashua slegs sy uitverkore volk Israel, dit is slegs die blankes. Dit is dus die Israelbloed in jou are, in plaas van Christus se bloed aan die kruis wat mense red. Op hierdie wyse word die genoegsaamheid van Jesus se kruisdood vir sondaarmense ontken. Ons bely in die Dordtse Leerreëls (2:3) dat Jesus se dood van oneindige krag en waarde is, oorvloedig genoeg om die sondes van die hele wêreld te versoen.

Die Wit Teologie sê egter verlossing kom net die blankes toe. Sodoende poog hulle om slimmer te wees as God. Dat God mense red alleen langs die weg van geloof in Jesus Christus, uit loutere genade – mense uit Israel en die heidene (vgl. Rom 11: beeld van die mak en wilde olyfboom) – word moeilik deur ’n Wit Teoloog aanvaar.

 

Die werk van die Heilige Gees

Die Heilige Gees wat soos die wind waai waar Hy wil (vgl. Joh 3) word deur die Wit Teologie tot die fisiese Israel beperk. Die genadige werk van God die Heilige Gees op Pinkster, waar die Heilige Gees uitgestort is sodat al die nasies in hulle eie taal kan hoor van die groot dade van God (vgl. Hand 2), word ontken deur die Wit Teologie omdat die werking van die Heilige Gees gereduseer word tot slegs Israel, vandag slegs die blanke Westerse, Protestantse nasies.

 

Die Name van God

Soos dit al vir u duidelik geword het, gebruik die Wit Teologie nie die Name van God soos Here, Jesus en Christus nie, want die woord “Here” is volgens hulle nie ’n naam nie en beteken maar net “meneer”, “meester”, “baas” of “Baäl”, ’n “afgod”. Hulle gebruik konsekwent die Hebreeuse Name van God, Yahweh of Yashua, met die oproep: “Kom weg van vervalste Name van ons Skepper wat ons nie kan identifiseer na die Hebreeus nie.”

Dit is volgens die Wit Teologie ’n absolute sonde om die Naam van die Here vertaald te gebruik. Wanneer hulle egter grootmense doop (hulle verwerp die kinderdoop), word hulle gedoop in die Naam van Yahweh, Yashua en die Heilige Gees. Dit is merkwaardig dat die Wit Teologie nie die Hebreeuse Naam van die Heilige Gees gebruik nie.

 

Raadsplan van God

Die Wit Teologie leer dat God ’n unieke plan het wat strek vanaf die skepping van Adam tot aan die einde van die duisendjarige vrederyk (chiliasme) met die aanbreek van die ewigheid. Die kern van die Wit Teologie se leer oor God se Raadsplan sentreer rondom die stelling dat die huis van Israel (tien stamme) en die huis van Juda (twee stamme) afsonderlik bly tot en met die wederkoms van Christus. Op grond van hierdie stelling word die gevolgtrekking gemaak dat albei, die Twee Stamme (Juda en Benjamin) en die Tien Stamme, vandag nog uitkenbaar moet wees.

Die Wit Teologie sien dan die gebeurtenisse in die geskiedenis soos skakels in ’n ketting. As die een skakel nie ’n werklikheid word nie, as Juda en Israel nie herenig word nie, verhinder dit die aanbreek van die duisendjarige vrederyk en kan Christus se wederkoms nie plaasvind nie.

 

Die stryd om die hede

Omdat die uitvoering van die Raadsplan van God vlot moet verloop, is die hede (die tyd waarin die onvervulde profesieë vervul sal word) vir die Wit Teologie ’n baie belangrike skakel in die Raadsplan van God. In essensie beteken dit dat die hele menslike geskiedenis gekenmerk word deur ’n stryd om heerskappy. Dit is ’n stryd tussen God en Satan en daarom is dit ook ’n sigbare stryd op aarde tussen die fisiese familie of kinders van God en die fisiese familie of kinders van Satan.

Die Wit Teologie gaan sover as om daarop te wys wie is wie: die kinders van God is Adam (wat volgens hulle “blank” beteken), wat Israel genoem word en die kinders van Satan is Kain, wat Jood genoem word (by party skrywers is dit sommer al die ander nie-blanke nasies). Die stryd kom in kort daarop neer dat Satan probeer om die volk van God (blankes) te vernietig deur rassevermenging en verbastering.

Dit is duidelik dat die Wit Teologie alles wat hulle uit hulle verbeelding opdiep, toeskryf aan die onveranderlike Raadsplan van God. God se Raadsplan bestaan vir ewig (vgl. Ps 33:11), dit bly God se Raadsplan. God openbaar wat Hy wil, allermins openbaar Hy sy Raadsplan volledig om die mens se nuuskierigheid daarmee te bevredig. Sondige mense kan nie ’n rekonstruksie van God se Raadsplan maak nie, nog minder kan ’n “plan” in die Bybel ingeforseer word. Dit is nie die een of ander plan nie, maar die wil van God waarna die gelowige in die Bybel moet soek. Die eer van God vir wat Hy uit genade alleen bewerk, moet voorop staan.

 

Die swartes is diere!

Israel is blank, en die Bybel sê dit ook in Esegiël 36:32 – “Skaam julle en bloos oor julle weë, o huis van Israel”. Die argumentering loop dan soos volg: Israel was en is dus ’n volk wat bleek kan word en kan bloos, met ’n blanke vel en blosende rooi wange en lippe. Dan die interessante gevolgtrekking: “Israel van die Bybel was blankes net soos u en ek, terwyl die kinders van die Bose, die krom en verdraaide geslag, anderskleuriges was.”

Dit is nie net op grond hiervan dat die Wit Teologie sê dat die swartes diere is nie; nee, die Bybel getuig daarvan. In Genesis 1:24 word van drie soorte diere gepraat, naamlik vee, kruipende diere en wilde diere. Die “wilde diere” is verskillend van die vorige diere, anders sou hulle nie apart genoem word nie. En let wel, hulle is geskape “volgens hulle soorte” – dit verklaar die groot verskeidenheid van nie-wit of gekleurde rasse.

Dit word kort en saaklik gestel: “Die Israeliete is witmense!” Uit die mond van die Wit Teoloë self word die volgende stellings gemaak:

 

Die Wit Teologie is anti-kerk

Geheel en al word probeer om die kerk van Jesus Christus te skeur. Die predikante word skerp aangeval, want hulle is die mense wat die Woord verdraai en die dwaalleer verkondig. Die predikante word selfs daarvan verdink dat hulle die waarheid van die gelowiges weerhou en dat hulle die Bybel vervals het.

Die Wit Teologie verwerp die Gereformeerde belydenis omdat dit in totaal nie op die Skrif gebaseer is nie, so ook teologiese dogma. Die Gereformeerde belydenis word verwerp as ’n “belaglike kompas” om die rigting in die Bybel te vind. Die Wit Teologie spoor inderdaad Gereformeerde lidmate aan om op te hou om hulle offergawes te gee en om die kerk te verlaat. Lidmate word aangespoor om te “vlug vir hulle lewe” en by die Wit Teologie aan te sluit.

 

Nie maklik nie

Die Wit Teologie verkondig ’n teologie van haat. Dit is nie maklik om hierdie mense te benader nie. Maar soos teenoor alle dwaalleraars, moet die aanhangers en simpatiseerders van hierdie rigting liefdevol maar ernstig vermaan word om hulle dwaling te laat vaar – ter wille van God se eer en hulle eie heil.

Teenoor alle vervalsing van die evangelie van Jesus Christus sal die gesonde leer van die Skrif gestel moet word (2 Tim 3:15) soos dit saamgevat is in ons belydenisskrifte. ’n Gesprek met hierdie mense is moeilik. In plaas van eindelose twisvrae sal daar na die kern van die evangelie, naamlik dat die Here sondaarmense alleen red uit genade langs die weg van geloof in Jesus Christus, teruggekeer moet word.

Daar is ook geen bewyse hoegenaamd uit die volkekunde of uit die argeologie vir hulle standpunte nie. Israel staan onder die oordeel van God en daarom het God hulle laat wegvoer in ballingskap en hulle oor die aarde verstrooi. Die “Israelwaarheid” is die Wit Teologie se boodskap, met Bybeltekste versier, en dit word nou eers geopenbaar. Die aandag word meesterlik afgetrek van die selfopenbaring van God in sy Seun, Jesus Christus, die gekruisigde en opgestane Here.

Die vraag sal aan hulle gestel moet word: “Behoort God net aan die Jode, die Israeliete en die blankes, en nie ook aan die ander heidense nasies nie?” Paulus antwoord hierop: “Ja, ook aan die heidene, want daar is net een God” (Rom 3:28, 29). Die volk of kerk van die Here (kerk=volk=gelowiges) is nie “Godsvolk (Edms) Bpk” nie, maar so wyd soos die Here se genade.

Voorwaar, ’n Wit Teoloog sal hom eers moet bekeer van sy rassisme. Die gevaar is ook dat God in hulle skema ’n eksklusiewe Wit-god gaan word wat almal aan hulle lot oorlaat, uitgesonder die blankes.

Hierdie is die webblad van Dr Hennie van Wyk. Standpunte op hierdie blad is sy eie of die van outeurs wie se werk geplaas word, in watter geval die standpunte die van die genoemde outeur is.