SS Plus

Hierdie artikel het verskyn in DIE KERKBLAD 9 Okt 1996

Die Ou Apostelkerk (AOK) – sewe boser geeste vul die leë huis

Ds. Jacob Pretorius

• “Die Christus wat eenmaal in die geskiedenis geleef het, is dood en kan nou niks meer vir ons saligheid doen nie.”

• “Daar sal geen wederkoms wees nie.”

• “God is ook nie ewig nie, Hy kom van Teman af.”

• Ons sal nie werklik uit die dood opstaan nie.”

• “Die hemel is in jou kop.”

• “Ouma wat dood is, se gees is nog hier by ons in die huis.”

• “Van Riebeeck het nou wel met die Gereformeerde belydenis in die Kaap aangeland, maar hy moes darem seker tot ander insigte gekom het toe hy die Twaalf Apostels (berge) gesien het.”

As iemand so praat, dan weet jy ’n Ou Apostel is aan die woord. Maar hoe kom iemand tot sulke eienaardige, onbybelse stellings?

 

’n Bose gees in die Here se huis

Die OAK se wortels lê in die tydperk van die sogenaamde “Verligting” (begin van die 19de eeu). Dit was die tyd kort na die Franse Revolusie. Die mens het vertrou op sy verstand of rede om “vryheid, gelykheid en broederskap” tot stand te bring. Selfs predikante dryf in hierdie tyd openlik die spot met lewensbelangrike waarhede wat nie met die verstand verklaar kan word nie.

Die wonderbaarlike wedergeboorte, die twee nature van Christus, sy wonderwerke op aarde, sy opstanding, hemelvaart en wederkoms bly in die slag. Ja, geloof self sneuwel, want geloof is die bewys juis van die dinge wat nie bewys kan word nie, maar wat geglo moet word (vgl. Heb 11:1)! So ontstaan ’n “kerk” wat op sy ergste ’n vereniging van ’n meerderheid ongelowiges was! In die plek van die ware Lig het ’n bose gees genaamd “Verligting” in die Here se huis kom woon en byna alles donker gemaak (vgl. Matt 12:43-45; 6:22-23).

 

Die huis word skoongemaak

Reaksie moes kom. Die twee strome van die sestiende eeu (Reformatore en Anabaptiste) sien weer die lig. Aan die een kant begin mense weer om onder kragtige leiding van die Heilige Gees die ongelooflike Woord van God in eenvoud te glo. So het die moderne Gereformeerde kerke wêreldwyd (ook in Suid-Afrika) ontstaan.

Ander wil egter (soos die Anabaptiste van ouds) meer as dit sien. By Albury Park (naby Londen) word met goeie bedoelings “huis skoongemaak” in die dooie kerk met opwekkingsbyeenkomste. Edward Irving spoor mense aan met kragtige preke om hulle gereed te maak vir die wederkoms en verskeie datums word voorspel (vgl. hierteenoor Matt 24:27; 36:44). ’n Wanordelike spreek in tale verdedig hy as die besliste stem van die Heilige Gees. Toe hy preek dat Christus self wedergebore moes word omdat Hy ook ’n sondige natuur gehad het, word hy finaal as predikant geskors.

Irving laat hom egter nie hieroor vermaan nie, maar verkondig dat die Here weer apostels, profete, evangeliste, herders en leraars gaan roep in sy kerk (vgl. Ef 4:11). Na sy dood in 1835 het sy volgelinge die hele “ware Christendom” onder die heerskappy van 12 apostels ingedeel om die wederkoms van Christus af te wag en om intussen getuienis te lewer aan die ander kerke wat as vals of Babilon veroordeel is. Hierdie “ware kerk” onder die apostels is die Apostoliese of Katoliek Apostoliese Kerk (AK) genoem.

Toe die 12 apostels egter die een na die ander sterf sonder dat die Here kom, kom daar ’n skeuring. ’n Groep wat meen dat nuwe apostels aangewys mag word, breek weg, noem hulleself die Herstelde Apostoliese Sending-gemeente (HAS) en beskou die AK as ’n valse kerk. Toe ’n sekere Krebbs uit die HAS geban word, vorm hy weer die Herstelde Apostoliese Sending-gemeente in eenheid van die Apostels en spreek die banvloek uit oor die HAS. Sedert 1905 staan hierdie groep bekend as die Nuwe Apostoliese Kerk (NAK) en kom ook na Suid-Afrika.

In Suid-Afrika word die sogenaamde apostel vir Afrika (mnr. Klibbe) egter deur die hoofapostel in Duitsland afgesit en ’n derde skeuring volg. Na ’n hofsaak oor die verdeling van bates, gaan Klibbe en sy volgelinge voort onder die naam Ou Apostelkerk van Afrika (OAK) en beskou hulleself as die enigste ware kerk. Die OAK se leer verskil egter nie wesenlik van dié van die NAK nie.

Maar is die huis met ’n beter gees gevul na die bose gees van die Verligting?

 

Die bose gees keer terug met sewe boser geeste

nie terugkeer na die Woord nie, sal met die tydsgees tevrede moet wees. Dat die volgelinge van Irving teruggekeer het na die gees van die Verligting, is nie moeilik om aan te toon nie. Die sewe geeste wat hiermee saam teruggekeer het, is egter skokkend erger as die eerste. Dit is asof die een die ander in die lewe roep. Ek noem slegs sewe (die getal van volheid), maar in werklikheid is die onbybelse leerstellings van die OAK legio, en (soos die man in Mark 5) baie moeilik om vas te vat.

1. Volgens die OAK het Jesus slegs in die gedagtes van sy dissipels uit die dood opgestaan, opgevaar en weer gekom. Hy sal beslis nie weer fisies kom nie, want Hy is nooit werklik die hemel in nie. Waar Irving en sy volgelinge die letterlike wonderbaarlike wederkoms van Christus voorspel en afgewag het, word dit dus nou met die verstand (verligtingsdenke!) weggeredeneer. ’n Werklike hemelvaart soos die Bybel leer (vgl. Hand 1:9) word blatant as die leerstuk van Satan beskou.

2. As Jesus nie opgevaar het nie, het ons ook nie ’n Middelaar wat aan die regterhand van die Vader vir ons pleit nie (vgl. Rom 8:34). Meer nog: die OAK sê dat die historiese Jesus dood is, en nou niks meer vir ons saligheid kan doen nie. Daar is ook geen Vader in die hemel tot wie ons kan bid nie. Tereg kan gevra word: Sou Irving ooit kon dink dat sy leerstuk oor die “sondige natuur van Christus” uiteindelik daarop sou uitloop dat mense nie eers vir hierdie lewe op Christus hoop nie (vgl. 1 Kor 15:19)? ’n Mens se gedagtes gaan ook onwillekeurig terug na die beskuldiging van die Jode in Johannes 9:34 – “Jy is van jou geboorte af die ene sonde, en wil jy ons staan en leer?” En hulle het hom uitgeban.

3. As daar nie eers Vader of Seun in die hemel is nie, volg logies dat geen mens hemel toe kan gaan nie. Die hemel is nou reeds hier op aarde (of in jou kop, soos sommige Ou Apostels sê).

4. Maar waar is God dan te vind? Die werk van Vader, Seun en Heilige Gees word volledig aan die apostelamp gekoppel. In ’n Duitse liedereboek word van die apostel gesing: “In die vlees staan hier God voor ons ...” In hulle Kategismus word gevra: Wie kan vandag Christus sien, hoor en ontvang? Telkens word “die Apostels” dan as antwoord gegee.

5. As Christus slegs deur die Apostels hoorbaar is, wat is dan die rol van die Bybel? In die Kategismus van die OAK word van die bybel (kleinletter!) as dooie letter gepraat en hierteenoor gestel dat die Woord van God uit die mond van die Apostel (hoofletter!) kom. Soos met uitsprake van die pous, dra die woorde van die moderne apostels selfs meer gesag as die woorde van die apostels in die Bybel. Tog het die OAK hierdie eeue-oue bose gees van Rome baie “ratser” gemaak. Anders as die Roomse Kerk wat die amptelike uitsprake van die pous opteken, werk die OAK met ’n gesproke woord. Hierdie bybel of Woord wat telkens gespreek word, kan dus nie gelees word nie. Die deursnee lidmaat besit ook nie ’n Kategismus nie en in gesprekke weier sommige selfs dat jy aantekeninge neem of bandopnames maak. Sodoende kan die talle weersprekings nie op wit en swart bewys word nie en beroem die OAK hulle dan ook daarop dat geen ampsdraer of selfs gewone lidmaat mekaar weerspreek nie.

6. Met hierdie gesproke woord word die lewens van lidmate gemanipuleer. As die apostel of selfs priester amptelik praat, praat Christus. Sondes word vergewe “deur een lewende apostelmond” en priesters besluit selfs vir lidmate watter soort motors hulle mag koop.

7. Maar dit is veral die apostel se mag oor die dooies wat hulle ’n houvas op mense gee. Hulle glo dat die gees van afgestorwenes deur die ampsdraers kan praat en boodskappe aan die agtergeblewenes kan gee. Hiermee beweeg die OAK op die terrein van die okkulte (sien hierteenoor Deut 18:9-14).

Inderdaad: sewe boser geeste het saam met die gees van verligting intrek geneem! Tog het ons teenoor hierdie mense ’n groot roeping.

 

Kan die sterk man gebind word?

Die OAK kan vergelyk word met ’n sterk man wat baie moeilik gebind kan word. Wie op hulle terrein met hulle wapens wil veg, sal bedroë daarvan afkom. Redenasies op sigself wen niemand vir die lewende Christus nie. Alleen die Heilige Gees kan die hart van die Ou Apostel waarlik opruim en ’n nuwe hart laat gebore word (Joh 3:3). Nie die skerp verstand (die wapen van die Verligting) nie, maar vertroue op God is nodig.

Wie met ’n Ou Apostel wil praat, sal eers vir God moet vra om die sluier oor so ’n persoon se verstand weg te neem (vgl. 2 Kor 3:15; Matt 17:20, 21). En, kom ons erken maar, ook teenoor Ou Apostels, dat die gees van die Verligting ook in die GKSA sy honderde verslaan het.

Kom ons getuig dan dat alleen die skerp tweesnydende swaard van die Gees, die Woord van God, ons van verdere slagting bewaar. Daarom, omdat ons self deur groot genade vrygeraak het, bring ons die goeie nuus van Jesus Christus wat waarlik leef en sondaars bevry omdat Hy self geen sonde gehad of gedoen het nie (vgl. 1 Pet 2:21; 3:18; 1 Joh 3:5). Daarom is die Woord van God opgeteken, vertaal en gepubliseer in baie tale en wil ons ons belydenis ook skriftelik en mondelings aan almal gee. •

Hierdie is die webblad van Dr Hennie van Wyk. Standpunte op hierdie blad is sy eie of die van outeurs wie se werk geplaas word, in watter geval die standpunte die van die genoemde outeur is.