SS Plus

Hierdie artikel het verskyn in DIE KERKBLAD 9 Okt 1996

Die Jehovah-getuies

Prof. PJ de Bruyn

 

Grepe uit die geskiedenis

Die stigter van die kulte van die Jehovah-getuies is Charles Taze Russell, wat in 1858 in die VSA gebore is. Sy ouers was Presbiteriane, maar hy kon hom nie met hulle geloof vereenselwig nie. Hy was baie rasionalisties in sy siening van die godsdiens. Die gevolg was dat hy nie bereid was om iets te aanvaar as dit nie logies verklaarbaar is nie.

Daarom was hy nie bereid om die leer van die drie-eenheid van God te aanvaar nie, want logies is dit volgens hom nie moontlik dat een drie kan wees of drie een kan wees nie. Met hierdie siening van hom het hy ’n blywende stempel op sy volgelinge afgedruk, want tot vandag toe is hulle baie rasionalisties in hulle siening van die godsdiens. Maar juis in die lig hiervan verbaas dit ’n mens dan dat sy volgelinge soms standpunte huldig wat logies op geen manier verklaar kan word nie.

In 1879 het Russell begin om die tydskrif wat in Afrikaans bekend is as Die Wagtoring uit te gee. Daarom word 1879 gewoonlik ook gesien as die stigtingsdatum van die Jehovah-getuies. Van sy ontstaan tot vandag toe word dit wat in Die Wagtoring geskryf is, aangebied as “openbaring van die goddelike wil”.

WJ Schnell, wat self vir 30 jaar lank ’n lid van die Jehovah-getuies was voordat hy tot bekering gekom het, sê egter dat dit wat in Die Wagtoring staan 6½ Bybel en 93½ “nuwe Wagtoring-lig” of blote spekulasie is. Hoewel Russell voorgegee het dat hy ’n kenner was van die oorspronklike tale waarin die Bybel geskryf is, moes hy in die hof erken dat hy dit nie ken nie.

Russell se opvolgers as leier van die Jehovah-getuies of die Wagtoring-organisasie was Rutherford (1917-1942), Knorr (1942-1977) en Franz (1977-1992). Sedert 1992 is Henschel die leier.

 

Hulle eie Bybel

Soos wat die Jehovah-getuies as organisasie in die loop van die jare ontwikkel het, is daar leerstellings geformuleer wat in stryd is met dit wat in die Bybel staan. Dat dit vir hulle ’n ernstige probleem geword het, is te verstane. Om hierdie probleem te oorkom, het hulle besluit om ’n eie Bybelvertaling daar te stel waarin die probleemgedeeltes so “vertaal” is dat dit nie verder aan hulle probleme verskaf nie.

Die volgende voorbeeld is ’n aanduiding van hoe hulle met hulle sogenaamde vertaling te werk gegaan het. In 1 Johannes 1:1 skryf die apostel: “In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God.” Die implikasie van hierdie woorde is dat Christus (die Woord) waaragtige God was en is. Maar dit is vir die Jehovah-getuies ’n probleem, want hulle ontken die godheid van Christus. Daarom het hulle dié betrokke vers in hulle Bybel soos volg vertaal: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God en die Woord was ’n god” (d.w.s. ’n verhewene). Hy staan dan wel baie naby aan God, maar is self nie God nie, maar slegs ’n god – soos daar ook ander sogenaamde gode in die wêreld is.

Dit is duidelik dat as ’n mens die Bybel so gaan vertaal, jy bykans enige denkbare leerstelling daaruit kan opbou.

 

Die naam Jehovah

Hierdie kulte noem hulleself die Jehovah-getuies. Volgens hulle is Jehovah die enigste regte weergawe vir wat in ons Bybel weergegee word met HERE in die 1953-vertaling en Here in die 1983-vertaling. Maar juis in die gebruik van die naam Jehovah openbaar hulle hulle onkunde, want dié naam het onder die Jode in werklikheid nooit bestaan nie. Dit moet eintlik Jahweh wees of Jahveh in Engels. Oorspronklik het die Jode net in medeklinkers (k, l, m, n, ens.) geskryf, sonder om die klinkers (a, e, i, o, u) in te voeg. Dit is eers later ingevoeg. Die naam Jahweh is toe Jhwh geskryf.

Op grond van die derde gebod was die Jode van oordeel dat die naam Jahweh glad nie uitgespreek mag word nie. Om nou te voorkom dat iemand wat die Ou Testament lees per ongeluk die naam Jahweh gebruik, het hulle die klinkers van ’n ander naam van God, naamlik Adonai (die “a” aan die begin moet uitgespreek word soos die “i” in is of soos die ’n) geneem en dit by die medeklinkers Jhwh geplaas. Dan het hulle Adonai gelees terwyl daar in werklikheid Jahweh staan. Indien die medeklinkers Jhwh saam met die klinkers van Adonai uitgespreek word, kry ’n mens Jehowah (of Jehovah in Engels).

Dit is waar die naam Jehowah vandaan kom. Vir die Jode het die naam Jehowah egter nooit bestaan nie. Daarom slaan die Jehovah-getuies die bal heeltemal mis as hulle sê dat Jehovah die enigste korrekte naam vir God is.

 

Hulle valse leer

Dit is onmoontlik om binne die bestek van hierdie artikel die leer van die Jehovah-getuies volledig te behandel. Daarom sal slegs die vernaamste aspekte van hulle leer hier aangedui word en die getuienis van die Skrif daarteenoor gestel word.

 

Die godheid van Christus

Volgens die Jehovah-getuies is Christus nie waarlik God nie. Hy is volgens hulle die eerste van God se skeppings en Hy is ’n magtige persoon, maar Hy is “nie almagtig soos Jehovah God nie”. Verder identifiseer hulle Christus met die aartsengel Migael.

Teenoor hierdie siening van hulle leer die Bybel baie duidelik dat Christus waarlik God is. Hy word ook uitdruklik God genoem (Jes 9:5; Joh 1:1; 20:28; Rom 9:5; Tit 2:13, 14; 1 Joh 5:20). En as ’n mens Jesaja 40:3 met Johannes 1:23 vergelyk, dan is dit duidelik dat Christus selfs HERE (Jahweh) genoem word. Daarbenewens is daar talle ander aanduidings in die Skrif dat Hy waarlik God is.

 

Die godheid van die Heilige Gees

Ook die godheid van die Heilige Gees word deur die Jehovah-getuies ontken. Volgens hulle is Hy selfs nie ’n persoon nie, maar ’n blote krag – ’n onpersoonlike krag van die almagtige God.

Daarteenoor getuig die Skrif dat die Heilige Gees nie maar net ’n krag is nie, maar ’n Persoon. Van die Heilige Gees word gesê dat Hy die wêreld oortuig van sonde (Joh 16:8); Hy praat, hoor en verkondig (Joh 16:13); Hy gee opdrag (Hand 13:2); Hy roep (Openb 22:17); Hy kan bedroef word (Ef 4:30); en teen Hom kan gesondig word (Matt 12:31, 32). Dit alles kan tog nie van ’n onpersoonlike krag gesê word nie!

En dat die Heilige Gees waarlik God is, blyk veral duidelik uit Handelinge 5:3, 4 waarvolgens Petrus eers vir Ananias gesê het dat hy vir die Heilige Gees gelieg het, en direk daarna het hy gesê: “Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God.”

 

Die drie-eenheid van God

Dit spreek eintlik vanself dat as die Jehovah-getuies die godheid van Christus en die godheid van die Heilige Gees loën dat hulle ook die belydenis van die drie-eenheid van God sal verwerp. Dit is ook inderdaad die geval. Trouens, hulle verwerp dit nie net nie, maar dryf selfs die spot daarmee, want hulle sê dat hulle dit moeilik vind “om ’n ingewikkelde, driehoofdige God wat na ’n gedrog lyk, lief te hê”.

Ondanks die feit dat die Skrif sê: “God is groot, ons kan sy grootheid nie begryp nie” (Joh 36:26), verwerp hulle alles wat die Skrif oor God sê wat hulle met hulle menslike verstand nie kan begryp nie (vgl. ook Jes 55:9; Rom 11:33; 1 Tim 3:16).

Saam met die Nederlandse Geloofsbelydenis (art. 9) bely ons in hierdie verband: “En alhoewel hierdie leer die menslike verstand te bowe gaan, nogtans glo ons dit nou deur die Woord in die verwagting dat ons die volkome kennis en vrug daarvan in die hemel sal geniet.” In genoemde artikel word ook die uitsprake in die Skrif aangedui op grond waarvan die leer van die drie-eenheid van God gebou is.

 

Ander dwalings

Behalwe bogenoemde dwalings word daar ook nog die volgende by hulle aangetref wat vanweë ’n gebrek aan ruimte hier net genoem word, maar nie verder bespreek word nie:

• Hulle verwerp die liggaamlike opstanding, hemelvaart en wederkoms van Christus.

• Hulle ontken dat daar ’n voortbestaan is na die dood.

• Hulle ontken die bestaan van die hel.

• Net letterlik 144 000 mense (natuurlik net Jehovah-getuies) deel in God se volle redding en saligheid; al die ander wat verlos word (ook net Jehovah-getuies) sal maar met ’n soort tweederangse saligheid tevrede moet wees. Bogenoemde is voldoende om te toon dat die Jehovah-getuies met die Bybel in die hand ’n totaal onbybelse leer verkondig en dat hulle in wese ’n onchristelike kulte is.

 

By die deur

Wat moet ’n mens doen as ’n Jehovah-getuie aan jou deur klop en vra om in te kom en met jou “oor die Bybel” te gesels? In 2 Johannes :10 sê die apostel: “As daar iemand na julle toe kom wat ’n ander leer bring, moet julle hom nie in julle huise ontvang nie en hom selfs nie groet nie.”

In die lig van hierdie uitspraak en in die lig van die res van die Bybel, kan ’n mens sê dat die Christen teenoor die Jehovah-getuie ook soos ’n Christen moet optree: As hy dors het, gee hom iets om te drink; as hy honger het, gee hom iets om te eet. Maar as hy probeer om sy valse leer aan jou te verkondig, het jy die volste reg om hom toegang tot jou huis te weier. •

Hierdie is die webblad van Dr Hennie van Wyk. Standpunte op hierdie blad is sy eie of die van outeurs wie se werk geplaas word, in watter geval die standpunte die van die outeur self is