SS Plus

Hierdie artikel het verskyn in DIE KERKBLAD 9 Okt 1996

Johannesburg Church of Christ

Martin Deacon

 

Wat is die Johannesburg Church of Christ (JCC)?

Hulle het jou dalk al genader op kampus en na ’n “Bybelstudie” genooi. Na volgehoue druk besluit jy om tog maar te gaan luister. Later word jy na hulle kerk toe genooi, en nie lank nie, of jy is vasgevang in ’n sekere denkwyse en verstrengel in ’n subkultuur moeilik om van weg te breek. Jou hele lewe word deur die groep gedomineer, jy het jou kerk verwerp en jou vriende afgelê – tog het jy die vraag: IS HIERDIE MENSE REG, IS AL DIE ANDER KERKE VALS, IS EK NIE BESIG OM ’N FOUT TE MAAK NIE?

Hierdie artikel het die doel om dié wat vasgevang is in die JCC se leringe te help om hul geloof in die groep se interpretasies van die Bybel te heroorweeg. Dit is ook om studente wat nog nie genader is nie, te waarsku en ’n verduideliking te gee van die JCC se dogma en werkswyse.

Hierdie kommer word gedeel nie net deur studenteleraars regoor Suid-Afrika nie, maar waar ook al die groep hulleself ingesypel het op kampusse wêreldwyd (o.a. The London School of Economics, waar hulle ook verban is as gevolg van die verwarring wat hulle gesaai het).

Ook huisgesinne spring nie vry nie. ’n Ouer het onlangs haar kind wat betrokke geraak het as depressief, bekommerd, buierig en onbeheerbaar aan my beskryf. Sy en ander het gelukkig daar uitgekom nadat die dwaling van die JCC ontbloot is.

 

Waar kom die groep vandaan?

Vanaf die moederkerk in Boston (VSA) is in die laat sewentigerjare sendelinge uitgestuur na kampusse wêreldwyd. Die betrokke groep was ’n wegbreekgroep uit die gevestigde Church of Christ (reeds ’n sekte) en sterk persoonlikhede speel ’n groot rol.

Die groep se leier is so beskryf deur ’n kerk wat hom eers gesteun het: “Brother X has brought unbiblical practices, peculiar language and subtle deceitful doctrines to Charleston ...” Sy naam word nie genoem nie, omdat hierdie betoog nie ’n aanval op enige persoon is nie, maar die JCC se dogma en werkswyse.

 

Wat is die groep se werkswyse?

Deur groepsdruk, skuldgevoelens, persoonlike kontrole oor die volgelinge, intimidasie, misleiding, vrees en presensie infiltreer hulle kampusse en oefen hulle geweldige beheer uit op nuwe bekeerlinge. Hierdie beskrywings is ook nie moedswillig nie, maar die gereelde ervaring van Christene regoor die land.

Anders as Paulus wat skryf: “Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is die krag van God tot redding van elkeen wat GLO” (Rom 1:16), word aanvanklik nie oop kaarte gespeel met belangstellendes oor wat hulle werklik glo nie. Studente was reeds maande betrokke in Bybelstudies voordat geleer was dat die JCC hulle sou moes doop om gered te word (sien 2 Kor 4:2).

 

Wat glo die Church of Christ?

Church of Christ glo

Ons antwoord

• Vergifnis en die ewige lewe kan nie deur geloof alleen verkry word nie, maar deur gehoorsaamheid aan God. Juis omdat die mens totaal onwaardig en nie in staat is om sy redding deur werke te verdien nie (Ef 2:1; Rom 3:23), het God in sy genade sy Seun, Jesus Christus, aangebied as ons plaasvervanger. Sy verdienste word ons toegereken en ons sonde en straf was Hom toegereken (2 Kor 5:18-19). Hierdie genadige heil is ’n vrye gawe en kan alleen deur geloof in besit geneem word (Joh 3:16; Ef 2:8-9; Gal 3:1-4; Rom 3:21-26; 6:23 – lees asseblief alle teksverwysings self in konteks). Dit is juis hierdie waarheid wat die ware evangelie skei van ander vals godsdienste en sektes.
• Die JCC glo dat hulle die enigste ware kerk is wat ’n reddende evangelie verkondig en dat slegs hulle doop ’n mens van die hel kan red. Die Woord leer dat geen kerk ’n middelaarsposisie het nie, maar alleen Jesus Christus (Joh 14:6; Hand 4:12). Geen kerk of persoon het al die waarheid nie, maar om te beweer dat voor die JCC se bestaan ’n paar jaar gelede daar geen ware kerk in Suid-Afrika was nie, is absurd. Ook impliseer dit dat voor 1975 daar wêreldwyd vir eeue geen ware kerk, ware evangelie of geredde persoon was nie.
• Die JCC koppel voorwaardes vir gemeenskap met God as voorwaardes vir kindskap en vergifnis. God verwag enorm baie van die gelowige, soos “Wees heilig, want Ek is heilig”. Dit is egter ’n dwaling om al God se eise in die Skrif as eise vir redding te verstaan. Om ’n kind van God te word, is om Jesus Christus te vertrou (Joh 1:12). AS kinders van God het ons talle verantwoordelikhede OMDAT ons kinders is en nie om kinders te word nie (Rom 12:1-4). Genade sluit werke totaal uit (Rom 11:6). Ewige sekerheid is ook die voorreg van elke gelowige (1 Joh 5:11-13) – iets wat die JCC ontken en eerder hulle volgelinge dreig met die idee dat dislojaliteit aan die groep redding tot niet maak.
• Die JCC glo dat die Heilige Gees slegs ontvang word as ’n volgeling (dissipel) glo dat hy die Gees ontvang terwyl die JCC hom in die water doop. Dit is waar dat as ’n persoon nie die Heilige Gees het nie, hy nie gered is nie (Rom 8:9). Die Bybelse waarheid is egter dat ’n mens met die Heilige Gees vervul word deur geloof (Ef 1:13; Gal 3:2). Die JCC se dwaling impliseer dat waterdoop deel is van die kern van die evangelie. Paulus sê egter in 1 Korintiërs 1:17 – “Christus het my NIE GESTUUR OM TE DOOP NIE, MAAR om die evangelie te verkondig”, ’n duidelike onderskeiding. As Paulus die kern van die evangelie verduidelik wat ons RED in 1 Korintiërs 15:1-4, is daar geen melding van doop nie.

Die Johannes-Evangelie was geskryf met die doel dat mense gered sou word (Joh 20:31) en stel nooit doop as voorwaarde van redding nie, slegs geloof. Hou in gedagte dat Johannes 3 se wedergeboorte deur Jesus Christus verduidelik word as geloof in die gekruisigde Christus en nie in terme van waterdoop nie (Joh 3:15-16). Die frase “gebore uit water” (3:5) verwys na natuurlike geboorte (3:6) en nie die doop nie. As ons nou dus iets by geloof voeg, dan sou dit die hele Johannes-Evangelie weerspreek.

Die JCC gebruik Handelinge 2:38 om te bewys dat die ontvangs van die Gees gebaseer is op bekering en doop. In die Grieks is dit egter verstaanbaar (en in harmonie met die res van die Bybel) dat die vergifnis en vervulling van die Heilige Gees (die SODAT in die vertaling) op die “bekeer” rus en nie op die “en laat julle elkeen doop” nie.

Die woord “bekeer” (Grieks: metanioa) beteken letterlik “verander julle denke” (’n sinoniem hier vir geloof en nie iets meer nie). In Petrus se hele preek oortuig hy die Jode dat Jesus wel die Messias was (die opstanding bewys dit) en dat hulle dus hulle denke oor Hom moet verander. Die Jode het Hom kort tevore gekruisig menende dat Hy ’n godslasteraar was.

Petrus sê dus nou: “Verander julle denke oor Wie Jesus is.” Die “bekeer” hier is dus nie ’n gevoel van jammerte of ’n morele opknapping van hul lewe nie, maar geloof dat Jesus wel die Messias is. Daarom is dit ook nie onvolledig dat die woord “bekering” nooit in die Johannes-Evangelie voorkom nie, siende dat bekering sinoniem is met geloof as die woord in die konteks van redding gebruik word. (Belangrik: ’n woord dra nie orals dieselfde betekenis in die Nuwe Testament nie en konteks bepaal betekenis.)

Een verhaal uit Handelinge (10:44-48) maak dit heeltemal duidelik dat vervulling met die Gees plaasvind deur geloof VOORDAT die aanhoorders gedoop is – wel NADAT hulle die evangelie aangehoor het. Lees ook Handelinge 16:31. In Handelinge 15:8-11 lees ons dat Petrus verklaar dat geen uitwendige seremonie nodig is om gered te word nie (in dié geval besnydenis), maar dat “Hy hulle harte deur GELOOF gereinig het ... Nee, ons en hulle ook, glo dat ONS NET DEUR DIE GENADE VAN DIE HERE JESUS CHRISTUS GERED WORD”. Lees ook Paulus se bevestiging hiervan in Titus 3:5-7.

 

Wat om te verstaan rondom doop

Die woord “bapto” in Grieks, vertaal met “doop”, impliseer nie noodwendig die waterdoop nie (lees Luk 12:50).

Die wedergeboorte deur die Gees is reddend. Hierdie proses is die identifikasie tussen die gelowige en Jesus Christus, bewerk deur die Gees, wat gebeur die moment as iemand Jesus Christus as Verlosser vertrou (1 Kor 12:13; Ef 1:3-14). Deur die werking van die Gees word ons een in Jesus se doop en opstanding en hierdie identifikasie red ons wel (lees Rom 6:3-6; let wel, daar is nie ’n druppel water in Rom 6 nie, nie al die water in die wêreld kan hierdie geestelike identifikasie-doop bewerkstellig nie, slegs geloof). Sien ook Galasiërs 3:26 en Kolossense 2:12 – geen water is ter sprake nie.

1 Petrus 3:21 verwys na geestesdoop (“die doop is nie ’n afwassing van die vuilheid van die liggaam nie” – m.a.w. nie ’n uitwendige handeling waarin water gebruik word nie). Ook is dit tog duidelik dat dit die ark was wat Noag gered het “deur die water” (soos dit nou Christus is) en nie die water self nie. Waterdoop is soos die ring in ’n huwelik – dit is ’n getuienis dat ek behoort aan iemand. Dit was egter die “Ja”-antwoord voor die predikant wat my trou en nie die aansit van ’n ring nie. Net so het my verhouding met God begin toe ek “Ja” gesê het vir sy Seun Jesus Christus. Die doop is ’n teken van hierdie verhouding (Matt 28:19).

 

Wat om te verstaan rondom genade

Genade is nie goedkoop nie. Dit het God sy Seun Jesus Christus gekos om dit vrylik aan jou te bied. Dit is ook nie “maklik” om net te glo nie, omdat die mens altyd wil werk vir sy redding, soos talle valse godsdienste bewys. “Jesus sê vir haar: Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook, en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterf nie. GLO JY DIT?” (Joh 11:25-26).

Uiteraard is hierdie uiteensetting nie volledig nie. Kom gerus in aanraking met predikante wat bekend is met dié dwaling vir meer hulp. Dit is ook wys om nie met twee volgelinge gelyk in gesprek te tree nie as gevolg van onderlinge intimidasie. •

  1. • ’n Amerikaanse psigoterapeut, Steven Hassan, sê kultes word al hoe groter, ryker, invloedryker én gevaarliker. Hassan, wat as jongeling lid was van die Moonies en homself met moeite daaruit losgewikkel het, spesialiseer daarin om mense te help om uit kultes weg te breek.
  2. • Baie mense meen die toename in kultes hang saam met chiliasme, oftewel “millenniarism” in Engels, dit wil sê die opvatting na aanleiding van Openbaring 20 van ’n duisendjarige vrederyk. In dié hoofstuk word voorspel dat Satan finaal in ’n met bloed deurdrenkte slag verslaan gaan word waarna ’n duisend jaar van vrede, die Millennium, volg. – INSIG, April 1996

Hierdie is die webblad van Dr Hennie van Wyk. Standpunte op hierdie blad is sy eie of die van outeurs wie se werk geplaas word, in watter geval die standpunte die van die outeur self is