| 
	  HERVORMINGSDAGGETUIENIS 31 OKTOBER 2000
WAAROM ’N 
	GETUIENIS?
	Ons roeping en verantwoordelikheid dwing ons om te getuig, om Christelike 
	perspektief te probeer gee en om ’n boodskap van hoop uit te dra. 
	Dit is veral op Hervormingsdag 2000 nodig om te getuig 
         
          
          · omdat die gesag en betroubaarheid van die Bybel 
		  in gedrang is, · omdat die uniekheid van die verlossingswerk van 
		  Jesus Christus in diskussie is, · omdat die liggaamlike opstanding van Jesus 
		  Christus bevraagteken word,  · omdat ons Christelike geloof op die spel is,  · omdat ons samelewing deur skokkende morele 
		  vergrype geteister word, en · omdat sommige gelowiges begin om moedeloos en 
		  verward te word.  WAAROOR GETUIG ONS?Ons meen dat dit noodsaaklik is om nou in die openbaar te getuig 
        
          · oor enkele kernleerstukke van ons Christelike 
		  geloof , en · oor aktuele morele sake. Die Heilige Skrif
        
          · Ons getuig dat die Heilige Skrif 
		  die gesaghebbende Woord van God is en dat daarin die wil van God en 
		  die leer van verlossing voldoende vervat is. God het sy Woord deur 
		  die Heilige Gees op betroubare wyse in mensetaal aan ons gegee. Daarom 
		  aanvaar ons die Skrif as bron en norm vir die kerk, die teologie en 
		  die Christelike lewe. · Ons verwerp die gedagte dat die 
		  Skrif ’n onbetroubare geloofsdokument is, of bloot ’n boek is wat 
		  menslike gedagtes en ervarings oor God bevat.  · Ons verwerp die misbruik van die 
		  Bybel om gesag aan menslike vooroordele en standpunte te verleen.  · Ons ag dit belangrik om onder 
		  leiding van die Heilige Gees die Skrif reg te verstaan, suiwer te 
		  verklaar, geldig toe te pas en getrou en gehoorsaam uit te lewe.  Die uniekheid van Jesus Christus  
         
          · Ons getuig dat volgens die Skrif 
		  Jesus Christus die enigste Verlosser is, die enigste weg 
		  na die Vader, die enigste Middelaar tussen God en die mense, en dat 
		  daar geen ander naam gegee is waardeur God wil hê dat ons verlos moet 
		  word nie. · Ons verwerp die gedagte 
		  dat daar baie paaie na die ware God is, en ook dat elkeen volgens sy 
		  eie geloof verlos sal word. · Ons bid dat die sendingopdrag aan 
		  die kerk om die evangelie aan die ganse mensdom te verkondig steeds 
		  met ywer uitgevoer sal word. · Ons spreek geen oordeel uit 
		  oor diegene wat nooit die evangelie van Jesus Christus gehoor het nie, 
		  en laat hulle bestemming oor in die hande van die Here wat oor almal 
		  regverdig oordeel.  Opstanding van Jesus Christus 
           
            · Ons getuig dat volgens die 
			Skrif Jesus Christus die gekruisigde en opgestane Here en Verlosser 
			is; dat dieselfde Jesus wat gekruisig is, waarlik uit die dood 
			opgestaan het; en dat Hy vanweë ons oortredinge oorgelewer en ter 
			wille van ons vryspraak opgewek is. · Ons getuig dat die kruisiging, 
		  sterwe en opstanding van Jesus Christus werklik plaasgevind het en tot 
		  die wese van die evangelie behoort. Sonder die opstanding van Jesus 
		  Christus verloor die Christelike geloof, die evangelie, die kerk en 
		  die koninkryk van God alle sin en betekenis. · Ons verwerp die openlike of 
		  verskuilde herinterpretasie van die liggaamlike opstanding van Jesus 
		  Christus waarvolgens die werklike gebeure as skyngebeure of as 
		  verbeelding verstaan word. Die opstanding van Christus is nie die 
		  produk of resultaat van die geloof van die vroeë kerk nie, maar 
		  omgekeerd: die kerk is die gevolg van die verkondiging van die 
		  evangelie van die dood en die opstanding van Christus. 
 Ontsag vir 
	  God
         
          · Ons glo dat ontsag, eerbied en 
		  gehoorsaamheid aan God en sy Woord die morele peil en lewensstyl van 
		  ’n samelewing bevorder. · Ons is oortuig dat respek vir 
		  lewe, vir ons medemens, vir die besittings en kultuur van ons naaste, 
		  en vir ons omgewing vooraf gegaan moet word deur ontsag en liefde vir 
		  God.  · Ons treur oor elke vorm van 
		  Godslastering. · Ons bid dat die Naam van God 
		  geheilig sal word.  Respek vir 
	  lewe
         
          · Ons getuig dat die mens na die 
		  beeld van God geskape is, dat die lewe van alle mense kosbaar is in 
		  die oë van God, en dat daar ’n radikale kentering in ons samelewing 
		  nodig is sodat daar respek vir die lewe van mense kan kom. · Ons getuig dat voorgeboortelike 
		  lewe ook lewe is wat God skenk. · Ons verwerp aborsie op aanvraag. · Ons treur oor al die haat, 
		  geweld, moorde, verkragting en elke vorm van verwerping van God se wet 
		  wat enige vorm van doodmaak verbied, en is diep besorg en uiters 
		  bekommerd oor die afmetings wat dit aangeneem het · Ons verwag dat die owerheid nog 
		  meer sal doen om die lewe van mense te beskerm en die kwaad te straf. · Ons bid dat mense mekaar sal 
		  liefhê. · Ons vra dat besondere aandag aan 
		  die omstandighede van arm mense gegee word en dat na hulle behoeftes 
		  omgesien word sodat hulle menswaardig kan lewe. · Ons versoek die regering en die 
		  hele samelewing om die Vigsepidemie en veral viglyers met groot 
		  empatie, verantwoordelikheid en insig te hanteer.  Respek vir 
	  ons medemens
        
          · Ons getuig teen alle dade 
		  waardeur mense mekaar veronreg, benadeel of laat blyk dat daar geen 
		  respek vir die naaste is nie, byvoorbeeld: 
            
              Magsmisbruik in plaas van 
			  diens; Korrupsie in plaas van 
			  eerlikheid; Omkopery en bedrog in plaas van 
			  integriteit; Diefstal, dobbelary, hebsug en 
			  materialisme in plaas van eerlike werk en mededeelsaamheid. · Ons vra en wil meewerk aan ’n 
		  grootse poging om werkloosheid en armoede te bekamp en die 
		  geweldskultuur te bestry. Respek vir die huwelik
        
          · Ons getuig dat die huwelik ’n 
		  instelling van God is, en as sodanig gerespekteer moet word, en dat 
		  seksualiteit daarbinne sy regmatige plek ontvang. · Ons keur 
		  voorhuwelikse en buitehuwelikse seksuele gemeenskap af, aangesien dit 
		  strydig is met die wil van God. · Ons is oortuig dat die 
		  vigsepidemie die beste bekamp en voorkom kan word deur ’n hoë morele 
		  lewenstyl waarby seksualiteit binne die huwelik uitgeleef word. Respek vir die omgewing
        
          · Ons bepleit respek en waardering 
		  vir die skepping van God, en vir die wonderlike land waarin ons mag 
		  woon en werk. · Ons getuig dat alle vorme van 
		  omgewingsbesoedeling en onnodige natuurskending in stryd is met die 
		  bedoeling van God met sy wêreld.  WAARHEEN WIL DIE 
	GETUIENIS LEI?Christelike hoop 
        
        
          · Ons getuig dat Christene die 
		  toekoms, ten spyte van die werklikhede van ’n gebroke wêreld, met 
		  opregte hoop en groot verwagting tegemoet moet gaan, sonder vrees, 
		  sonder pessimisme, en sonder ontvlugting. · Ons bid dat God ons in staat sal 
		  stel om ons roeping en verantwoordelikheid te kan vervul. Betrokkenheid
        
          · Ons glo dat die kinders van God 
		  geroep is om die sout vir die aarde, die lig vir die wêreld, en die 
		  suurdeeg in die samelewing te wees. · Ons is bewus van die groot taak 
		  ten opsigte van die opbou van Suid-Afrika waarvoor ons almal te staan 
		  gekom het. · Ons wil saam bou aan ’n ordelike, 
		  vreedsame en regverdige samelewing met ’n hoë morele waardesisteem.  Gesindheid 
	Ons lewer hierdie getuienis met die besef van die beperktheid van ons 
	menslike insig en met die erkenning van ons tekortkominge en nalatighede 
	deurdat ons nie gehoorsaam was en is aan die eise van God se wet nie. Ons 
	lewer hierdie getuienis uit liefde en sorgsaamheid vir en teenoor die kerk 
	van die Here en die samelewing. 
	Ons vertrou dat hierdie getuienis medegelowiges sal aanmoedig en bemoedig en 
	dat dit sal bydra om die koms van die koninkryk van God te bevorder.  
	Ons bid en glo dat die Gees van God ons gelei het tot selfondersoek asook om 
	in liefde te getuig, en om in die gesindheid van Jesus Christus te vermaan 
	en tot opregte hoop aan te moedig en te troos. ONDERTEKENAARS
	De Klerk, BJ Denkema, F 
	Du Plooy, A. le R Janse van 
	Rensburg, Fika, J Jordaan, GJC 
	Krüger, PP Van Rooy, HF 
	Van Wyk, JH Venter, CJH 
	Viljoen, FP Vorster JM |