SS Plus

OPENBARE GETUIENIS
INSAKE
HISTORIESE JESUS

Huidige debat

Ondergetekendes, verbonde aan die Teologiese Skool van die GKSA te Potchefstroom en die Fakulteit Teologie van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, lewer die volgende kommentaar oor die "debat rondom Jesus" wat tans in die openbare pers gevoer word. Hierdie debat handel in ’n groot mate oor die betekenis van die persoon en werk van Jesus van Nasaret – wie Hy is en wat Hy gedoen het, en veral oor die betekenis van sy kruisiging en sy opstanding. Hierdie diskussie is veral gestimuleer deur die studieresultate van die Jesus-seminaar, die waarde wat aan die Evangelie van Tomas geheg word en die oproep tot ’n Nuwe Reformasie. Volgens die Nuwe Reformasie moet anders gedink word oor God, oor Jesus, oor die Bybel, oor die kerk en oor die Christelike geloof.

  • Die waarde van teologies-wetenskaplike navorsing

Ons wil dit graag vanuit die staanspoor duidelik stel dat ons ernstige en eerlike teologies-wetenskaplike navorsing verwelkom en self wil beoefen. Dit moet egter só gebeur dat sodanige navorsing voldoen aan die basiese vereistes van wetenskaplikheid en dat dit gerig is op die opbou van die Christelike geloof, die groei van die kerk en die koms van die koninkryk van God. In die reformatories-Christelike tradisie word groot klem gelê op die waarde wat intensiewe en noukeurige Skrifondersoek inhou en ons wil hierop voortbou.

  • Die Bybel as normatiewe teks

Ons is van mening dat die huidige debat beheers word deur bepaalde voorveronderstellings. Indien die Bybel, en spesifiek Matteus, Markus, Lukas en Johannes, as gewone teks op gelyke voet naas ander nie-Bybelse tekste aanvaar word, sal so ’n benadering noodwendig tot uiteenlopende studieresultate en gevolgtrekkings lei. Dit sou byvoorbeeld die geval wees as ’n mens die Evangelie volgens Markus en die sogenaamde Evangelie van Tomas gelykwaardig beskou.

Wat die sogenaamde Evangelie van Tomas betref, vereenselwig ons ons op wetenskaplike gronde met die bevindings van baie navorsers dat dié dokument, wat eers in 1945 by Nag Hammadi in Egipte ontdek is, in werklikheid geen Evangelie is nie maar ’n onsamehangende versameling van "uitsprake van Jesus" is. Hierdie "uitsprake van Jesus" is moontlik in die Tweede Eeu na Christus uit vroeë mondelinge oorlewering versamel en met denkbeelde van die Christelike gnostieke dwaalleer vermeng. Navorsing dui daarop dat die Evangelie van Tomas gebruik is deur die Manigeërs, maar dat dit uit die staanspoor deur die Christelike kerk verwerp is as ’n apokriewe geskrif wat dwaalleer bevat. Nóg uit die geskiedenis nóg uit die inhoud van die dokument is daar enige rede om die Evangelie van Tomas as gesagvol of as gelykwaardig aan Bybelse geskrifte te beskou.

Ons aanvaar die Ou en Nuwe Testament as ’n normatiewe, gesaghebbende en betroubare teks, nie soseer vanweë die ouderdom van die geskrifte of kerklike besluite daaroor nie, maar vanweë die openbaringsinhoud daarvan en omdat die Heilige Gees ons van die gesag daarvan oortuig. Ons erken voorts dat God se finale en hoogste openbaring in Jesus Christus te vind is en dat die hele Bybel buite Hom om nie reg verstaan kan word nie.

Ons bevestig dat die Bybel in bepaalde historiese kontekste geskryf is en daarom in nuwe kontekste toegepas moet word. Ons het die Woord van God nie anders nie as in mensewoorde ontvang, maar terselfdertyd het die menslike skrywers onder inspirasie van die Heilige Gees God se openbaring neergeskrywe. Ons is oortuig dat die Skrif primêr uit homself verklaar moet word, maar dat ander bronne waardevolle insigte kan bied vir ’n beter verstaan van bepaalde Skrifgedeeltes. Ons is ook diep bewus van die feit dat ’n vertrouensvolle aanvaarding van die Bybel as normatiewe teks nie ’n outomatiese versekering bied vir ’n juiste verstaan of teen ’n ideologiese misbruik daarvan nie. Juis hierdie gevaar beklemtoon die waarde van voortdurende en intensiewe Skrifnavorsing.

  • Die betekenis van die persoon en werk van Jesus Christus

Op grond van die gesagvolle getuienis van die Skrif moet die persoon en werk van Jesus Christus beskou word as van grondliggende betekenis vir die Christelike geloof.

Jesus Christus is die beeld van God en God woon met sy volle wese in Hom. God het in Hom verlossend en helend ingegryp en werk steeds helend in hierdie wêreld van sonde en nood. In Hom het God die bose magte van hierdie wêreld – die magte van sonde, demone en dood – oorwin. Hy het mense verlos, tot sy kinders gemaak, hulle met Hom versoen, hulle gebroke verhouding met Hom herstel en so sy genade en vergifnis van sonde aan hulle geskenk.

In hierdie verlossingsdaad van God neem die kruisiging en opstanding van Jesus Christus ’n sentrale plek in. Ons Here Jesus Christus "is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word." Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte, en Hy is as oorwinnaar uit die dood opgewek.

Die kruisiging van Jesus Christus is ’n historiese gebeurtenis met verlossingsbetekenis. Jesus is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. Hy is die losprys vir baie. Sy kruisoffer bewerk versoening, vryspraak, verlossing en vergewing van sondes. Sy dood reinig ons van alle sondes.

Oor die opstanding van Jesus Christus getuig ons saam met die apostels dat Hy liggaamlik uit die dood opgewek is/opgestaan het en dat Hy nou die lewende Here is wat oor alle dinge regeer totdat sy koninkryk voltooi is en die nuwe hemel en aarde aangebreek het. As Christus nie opgewek is nie, is ons geloof waardeloos en is ons nog in ons sondes gevange. "As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense". Op grond van die Skrifopenbaring is ons ook oortuig dat daar lewe na hierdie aardse dood is. Elkeen wat in Jesus Christus glo, lewe al sterwe hy/sy ook. Ons aardse dood is slegs die deurgang na die ewige lewe.

Wanneer die kruis en opstanding van Jesus Christus sodanig herinterpreteer word dat die historiese werklikheid daarvan wegval, dan word die inhoud van die Christelike geloof in sy wese aangetas. Daarsonder is daar geen goeie boodskap meer oor nie.

  • Kritiese vrae oor Jesus-seminaar

Die werkswyse, metodes en bevindings van die Jesus-seminaar is problematies. Die studieresultate van die Jesus-seminaar teken ’n sterk gereduseerde Jesus-figuur en wek die indruk dat die vier evangeliebeskrywings (Matteus, Markus, Lukas en Johannes) nie ’n getroue weergawe bied van wie Jesus werklik was en is nie. In navolging van veral die Evangelie van Tomas beskou hulle Jesus slegs as profeet en wysheidsleraar sonder om enige verlossingsbetekenis aan sy kruisdood en liggaamlike opstanding (wat deur hulle betwyfel word) te heg. Só besien, verloor die evangelie van vrye genade sy besondere betekenis deurdat die evangelie gereduseer word tot ’n blote Jesus-etiek.

Ondersteuners van die Jesus-seminaar hanteer die Nuwe-Testamentiese boeke dikwels as die blote produk van vroeg-Christelike gemeenskappe, wat vanweë eie godsdienstige motiewe die historiese Jesus as die Messias en die Seun van God bestempel het. Die Nuwe-Testamentiese boeke kom egter nie maar net van mense af nie maar is deur God geïnspireer. Soos God in hierdie boeke bekend maak, het Hy werklik in die geskiedenis sy Seun in hierdie wêreld gestuur, sodat die historiese Jesus inderdaad die Christus van God is. Hiervan is Jesus se opstanding ’n daadwerklike bewys in die geskiedenis.

         Die oproep tot voortdurende reformasie

 ’n Juiste verstaan van die evangelie van Jesus Christus kan ’n vernuwende uitwerking op die kerk en samelewing uitoefen. Terwyl ons treur oor soveel misbruik van die evangelie van Christus, ook in ons eie verlede, vertrou ons dat die Gees van Christus sy kerk in die toekoms sal lei om meer diensbaar te wees aan die erkenning van God se koningskap ook in Suid-Afrika. Ons is daarvan oortuig dat ware reformasie ’n voortdurende terugkeer na God se Woord en daarmee na God self behels. Dit staan dus lynreg teenoor die sogenaamde Nuwe Reformasie wat in wese ’n pleidooi is vir ’n beweging weg van die Bybel en weg van God soos Hy Homself in die Bybel openbaar.

Ons gebed is dat kerke nooit die taak van die reformasie van die kerk as afgehandel sal beskou nie. Ons gebed is verder dat Christene in Suid-Afrika hulle geloof in Christus veel meer tasbaar en met oortuiging sal uitleef en so sal bydra tot ’n samelewing waarin meer gesien word van die koningsregering van God, wat onder andere gekenmerk word deur vryheid, vrede, vreugde en geregtigheid.

Onderteken deur:

Prof BJ de Klerk

Prof F Denkema

Prof A le R du Plooy

Prof JJ J van Rensburg

Prof GJC Jordaan

Prof PP Krüger

Prof HF van Rooy

Prof JH van Wyk

Prof CJH Venter

Prof FP Viljoen

Prof JM Vorster

Hierdie is die webblad van Dr Hennie van Wyk. Standpunte op hierdie blad is sy eie of die van outeurs wie se werk geplaas word, in watter geval die standpunte die van die genoemde outeur is.