SS Plus

DIE GEREFORMEERDE KERKE VERKLAAR SOOS VOLG OOR DIE MISBRUIK VAN DIE NAAM VAN DIE HERE EN OOR VLOEKWOORDE IN DIE ALGEMEEN

1.      Die Gereformeerde Kerke spreek hom met ontsteltenis uit teen die toenemende misbruik van die Naam van die Here in die media, teaters en in alledaagse spraakgebruik. Die krenkende en mens-onterende gebruik van vloekwoorde in gewone gesprekke en in die openbare media word betreur.

2.      Ter wille van die eer van God:

2.1    Roep die Sinode en kerke op om deurlopend teen die openbare en private misbruik van die Naam van die Here te waak en beswaar te maak. Dieselfde oproep geld ten opsigte van die toenemende gebruik van mens-onterende vloekwoorde, selfs in alledaagse gesprekke.

2.2    Doen die Sinode ‘n dringende beroep op die pers, skrywers, openbare uitsaaiers, teatergroepe en individue om die misbruik van die Naam van die Here te staak en te verhoed. Verder moet vuil taal, vloekery en haatspraak gestaak word. Dit is ook ontering van God se Naam wanneer die mens as beeld van God daardeur afgebreek word (Jak 3:9). Vloekery en haatspraak skaad die eer en die goeie naam van ‘n medemens. Daarteenoor is dit juis ons roeping om deur opbouende taalgebruik (Ef 4:29) ons naaste se goeie naam te bevorder.

2.3    Wys die Sinode die owerhede daarop dat hulle die verantwoordelikheid het om Christene in hierdie verband te respekteer en om hulle daarin te ondersteun (art. 36 NGB).

3.   Vir die uitvoering van 2.3 word aanbeveel dat die saak verwys word na die Deputate Skakeling met die Owerheid om dit deur te gee aan die ter saaklike owerhede.

Besluit: Goedgekeur.

Hierdie is die webblad van Dr Hennie van Wyk. Standpunte op hierdie blad is sy eie of die van outeurs wie se werk geplaas word, in watter geval die standpunte die van die genoemde outeur is.