SS Plus

Hierdie artikel het verskyn in DIE KERKBLAD 9 Okt 1996

Sciëntologie

Stefan Pretorius

In die lewe kom elke mens op een of ander stadium in aanraking met ander godsdienste en gelowe as sy eie en selfs soms met kultes. As hierdie kontak nie persoonlik ondervind word nie, is dit heel waarskynlik indirek deur middel van ’n familielid of vriend.

Gelowiges het in baie gevalle beperkte of selfs geen kennis nie oor hierdie groepe buite hulle eie denominasie of kerk. Wanneer dit gebeur dat iemand in die greep van so ’n groep beland, weet diegene na aan hom/haar nie hoe om te werk te gaan ten einde so ’n persoon te bevry uit hierdie greep nie.

Die gevaar van sommige van hierdie groepe is dat hulle nie ooglopend as valse groepe voorkom nie, maar juis hulself voordoen as Christelik of godsdienstig. Sulke groepe wat sogenaamd godsdienstig is en die aardse sowel as die ewige bestemming van hulle lede beheer, word ’n godsdienstige kulte genoem.

Sciëntologie word as so ’n godsdienstige kulte beskou. Die sogenaamde godsdienstigheid waarop hulle aanspraak maak, word gebaseer op hulle beskouing dat hulle ’n godsdiens asook ’n kerk is.

 

Agtergrond van “The Church of Scientology”

The Church of Scientology is amptelik op 18 Februarie 1954 in Los Angeles, Kalifornië, gestig. Hoewel L Ron Hubbard nie direk by die stigting van die kerk betrokke was nie, was dit stigting die resultaat van sy werk.

Lafayette Ron Hubbard is op 13 Maart 1911 in Tilden, Nebraska, gebore. Hubbard, wat nie sy studie in siviele ingenieurswese aan die George Washington Universiteit voltooi het nie, het hom gewend tot die skryf van wetenskapsfiksie en romanse. Hubbard se lewe was deur verskeie filosofieë en gelowe beïnvloed, wat onder andere Oosterse filosofieë en die Freudiaanse teorie insluit. Uit sy pen kom die publikasie Dianetics: the Modern Science of Mental Health, wat die voorgeskrewe boek word vir Sciëntologie.

Met die stigting van die kerk in 1954 versprei Sciëntologie ook na Suid-Afrika, Nieu-Seeland en Australië. Hubbard skryf nog meer boeke en algaande ontwikkel hierdie beweging. Teen die jaar 1989 het Sciëntologie gegroei tot 830 kerke, missies en veldgroepe wat aan tot 20 000 persone dienste lewer.

Die Sciëntologie-beweging het egter nie so ’n skoon rekord gehad nie en die aansprake wat hulle gemaak het, is in verskillende lande ondersoek. Die gevolg hiervan was dat daar in die VSA sekere botsings met die regering was, wat korrupsie en bedrog aan die kant van Sciëntologie uitgelig het. Selfs aansprake wat Hubbard gemaak het omtrent behandeling van siekes, word as onwetenskaplik verklaar.

Hierdie woelinge lei daartoe dat Hubbard poog om Sciëntologie as ’n godsdiens verklaar te kry en sodoende grondwetlike beskerming te geniet.

Sciëntoloë beweer dat die kerk gegroei het tot ongeveer 3 000 kerke tans. Uit hierdie groei wat Sciëntologie beleef het, is dit duidelik dat hulle verbind is tot hulle verklaring waarin hulle beweer dat hulle die vinnigste groeiende godsdiens is.

 

Hoofsaaklike leerstellings van Sciëntologie

Sciëntologie beweer dat hulle ’n godsdiens is, maar wanneer daar na hulle leerstellings gekyk word soos weergegee in die Creed of the Church of Scientology, is dit duidelik dat hierdie leerstellings teenstrydig is met die Christelike. Die hoofsaaklike leerstellings van Sciëntologie teenoor die Christelike leerstellings is die volgende:

Sciëntologie vind ’n opperwese deur studie en kennis van die mens en die heelal. Hierdie opperwese kan gevind word deur geloof in en belewing van enigeen van die godsdienste van die wêreld. Hulle god is nie die God van die Bybel nie.

Die Bybel daarenteen leer dat daar net een God is (Deut 6:4). Die Christelike godsdiens is gegrond op die Bybel en gaan uit van die drie-enige God: Vader, Seun en Heilige Gees (Matt 3:17; 28:19; 2 Kor 13:13) en stel God in die middelpunt van alles (Rom 11:36).

God word in Sciëntologie aan die einde van die belydenis genoem. Die omvattende term “god” word gebruik sonder spesifieke verwysing na die Vader, sy Seun Jesus Christus en die Heilige Gees. Daar is ook geen sprake van aanbidding van ’n god nie. Inderwaarheid ken dit geen god nie, selfs nie in die sin van ’n opperwese soos wat dit in die heidense godsdienste voorkom nie.

In die Christelike geloof word God, Vader, Seun en Heilige Gees aanbid soos Hy Hom in die heilige Skrif openbaar (Matt 22:29; 26:56; 2 Tim 3:15-16).

Sciëntologie-geloofsbelydenis beskou Jesus Christus as maar net een moontlike weg van redding. Volgens hulle kan en moet die mens homself red en hulle “kerk” en belydenis bied die pad van verlossing aan.

Die Bybel leer dat God net een Verlosser, Jesus Christus (Hand 4:12), aan die wêreld gegee het en dat die mens redding en saligheid net in en deur Hom kan vind.

Sciëntologie vertrek vanuit die standpunt dat die mens onvervreembare regte het. Die mens is deurgaans die belangrikste persoon en God is in werklikheid in diens van die mens.

Die Bybel leer egter dat die mens geskep en geroep is om die almagtige God gehoorsaam te dien en sy wil op aarde uit te voer – alles tot eer van God (Rom 1:5).

Sciëntologie leer verder dat die mens basies goed is en dat die mens se eie gees sy liggaam kan red – die verlossing in Christus is dus nie nodig nie.

Die Bybel leer dat die mens na die sondeval van nature bedorwe is en geneig is tot alle kwaad (Rom 5:12).

Sciëntologie leer dat die mens deur die nalewing van hulle “belydenis” vir homself en vir ander verlossing kan verwerf.

Die Bybel leer dat God in sy genade (Rom 6:23), volgens sy goddelike besluit (Ef 1:4-5), die sondaar in Jesus Christus red.

By Sciëntologie staan studie en kennis van die self as voorwaardes vir die verlossing en redding van die mens.

Die Christelike geloof is gebaseer op kennis van God en vertroue in Hom (Heb 11:1; Rom 4:18-21).

Uit die bogenoemde vergelyking van Sciëntologie met die Christelike geloof is dit duidelik dat Sciëntologie hoogstens as ’n filosofie beskou kan word wat van begin tot einde mensgerig is.

 

Hoe moet ’n persoon betrokke by Sciëntologie benader word?

    Wanneer ’n persoon wat betrokke is by ’n kulte soos byvoorbeeld Sciëntologie benader word, moet dit met kundigheid gedoen word. Dit is nie so ’n eenvoudige saak om aan kultelede die evangelie te verkondig nie, omdat hulle as gevolg van die beheer wat die kulte oor hulle het, alle ander strydige leerstellings verwerp. Deur die verkeerde benadering te gebruik, kan groter skade aangerig word. Die volgende hoofsaaklike punte moet in gedagte gehou word wanneer met so ’n persoon gewerk word:
  • • Die wyse waarop hierdie persoon in die kulte ingetrek is, is op ’n emosionele vlak. Heel waarskynlik ten tye van ’n krisis of onsekerheid in die kultelid se lewe is hy met liefde en aandag oorlaai en sodoende in die groep ingetrek waar hy aanvaar is. Die wêreld, dit is alles buite die groep, word as die vyand beskou. Daarom moet daar met versigtigheid opgetree word as met so ’n kultelid gewerk word – dat dit eerder geskied in ’n gees van aanvaarding ten einde die kultelid se vertroue te wen en te wys dat die wêreld nie vyandig is nie.
  • • ’n Kultelid is geleer om te evangeliseer – nie om sy leerstellings te verdedig nie. Deur opponerend teenoor die lid op te tree, sal veroorsaak dat hy eenvoudig toemaak soos ’n boek, omdat hy geleer word dat hy alle leerstellings wat van sy groep s’n verskil, moet verwerp. ’n Beter metode is om die lid uit te lok om sy leerstellings te deel, en dan baie beleefd vrae te vra en sodoende die lid aan die dink te kry oor dit wat hy geleer is as die waarheid.
  • • Daar moet afgesien word daarvan om die kultelid te probeer oorreed met Bybelse leerstellings en eerder gepoog word om die kultelid te lei om die verkeerde in sy groep se leerstellings self raak te sien en dit te bevraagteken.
  • • Dit is belangrik om te weet hoe kultes funksioneer ten einde met kultelede te kan werk. Die hoofsaaklike metode waaraan kultelede onderwerp is, is “mind control”. Hierdeur word die lede se hele lewe beheer.
  • Dit is raadsaam om eerder kennis in te win oor die hantering van kultelede as om onkundig te werk te gaan en meer skade aan te rig.

Hierdie is die webblad van Dr Hennie van Wyk. Standpunte op hierdie blad is sy eie of die van outeurs wie se werk geplaas word, in watter geval die standpunte die van die genoemde outeur is.