SS Plus

Hierdie artikel het verskyn in DIE KERKBLAD 9 Okt 1996

Hoe beoordeel ons die “Faith Movement”?

Ds. CJ Malan

U het seker al gehoor van “prosperity teaching”, “name it and claim it” en dalk ook van “positive confession”. Hierdie uitdrukkings word op die Pentekostalistiese en Charismatiese terrein gevind. Agter hierdie stellings staan Amerikaners soos Kenneth Hagin, Kenneth Copeland, Frederick Price en Benny Hinn. Hulle vorm die “Faith Movement”, wat sy duisende in Amerika en ook hier by ons verslaan.

Wat hier volg, is hoofsaaklik ’n weergawe van H Hanegraaf se skitterende werk, Christianity in Crisis, wat in 1993 by Harvest House Uitgewers verskyn het (afgekort as CiC).

 

Hoofpunte van hulle leer

Hulle Godsbeskouing – God is onderworpe aan die wette van sy skepping, net soos sy skepsele. Hy kon byvoorbeeld nie die hemel en aarde geskape het sonder “geloof” nie. Kenneth Copeland sê: “(The world) was born out of the force of faith that was resident inside the being of God.” God moes dus gebruik maak van geloof wat by die skepping reeds in Homself aanwesig was.

Maar God was en is nie slegs onderworpe aan die wette van geloof, soos Copeland beweer nie. God het nie eens toegang tot sy eie skepping as ons, die mens, Hom nie toelaat nie! “God cannot do anything for you apart or separate from faith” (CiC, p. 65).

Hier leef dus ’n ontwikkeling van die ou Pelagiaanse dwaling dat ons God nie alleen moet toelaat om ons te red nie, maar selfs om toegang tot sy skepping te verkry (DL, verwerping van dwalinge, hfst. 2, par. 6). Die “Faith Teachers” se Godsbeskouing is werklik verregaande!

Hulle mensbeskouing – Ook dit is Pelagiaans. U sal onthou dat die Remonstrants-Pelagiaanse mensbeskouing juis in ons Dordtse Leerreëls weerlê word. Volgens Pelagius (’n 5de-eeuse monnik in Rome) is die mens se wil nie deur die sondeval aangetas nie. Frederick Price: “God can’t do anything in this earth realm except what we, the body of Christ, allow Him to do” (CiC, p. 21).

Nog erger: ons is inkarnasies van God! Morris Cerullo: “You’re not looking at Morris Cerullo – you’re looking at God. You’re looking at Jesus” (CiC, p. 358). Waar God dus ’n blote skepsel word vir hierdie mense, word die mens weer ’n “little God” (CiC, p. 13).

Hulle siening oor geloof – Geloof is volgens die “Faith Movement” ’n natuurkrag wat deur gelowiges sowel as ongelowiges tot eie voordeel aangewend kan word. Van geloof as gawe van God wat sy Gees deur sy Woord in ons harte werk (Ef 2:8; HK v/a 65) kom by hierdie mense niks tereg nie. Copeland: “... it is this force of faith which makes the laws of the spirit world function” (CiC, p. 65). Die geloofslewe word dus verwring tot ’n bloot metodistiese aanwending van geloofswette.

Hulle leer aangaande Christus – Vir Copeland is Christus nie God nie. Hy beweer dat Christus vir hom die volgende gesê het: “... I didn’t claim I was God; I just claimed I walked with him and that He was in Me ...” (CiC, p. 138). Volgens Price moes Christus die Satansnatuur aan die kruis aanneem en daarmee die hel invaar: “Do you think that the punishment for our sin was to die on a cross? If that were the case, the two thieves could have paid your price ...” (CiC, p. 163).

Hulle siening oor siekte en gesondheid – Tragiese misvattings bestaan hier, wat die sieke van sy troos beroof en met valse hoop opsaal. Wanneer jy byvoorbeeld voel jy word siek, moet jy dadelik die siekte in die Naam van Christus bestraf en vir jou ’n gesonde liggaam toe-eien of “claim”.

Marilyn Hickey: “Say to your body, ‘You’re whole, body!’ ... and once you have spoken and believe that you have received ... don’t go back on it” (CiC, p. 63). Daarom was Job se teëspoed en siekte, volgens die “Faith Teaching”, iets wat deur sy eie, negatiewe uitsprake oor homself gebring is (CiC, p. 97)!

Hulle siening oor armoede en rykdom – Materiële voorspoed is vir hierdie mense God se beloning aan die gelowige mens, terwyl armoede weer God se straf is op ongeloof. Daarom is dit ver van hulle om die volgende troosryke Skrifwaarheid in die Heidelbergse Kategismus antwoord 27 te bely: “... vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede en alles kom ons nie per toeval nie, maar uit (God se) vaderhand toe.” R Tilton: “Not only is worrying a sin, but being poor is a sin when God promises prosperity!” (CiC, p. 186).

Neem as voorbeeld die woorde van Frederick Price: “The Bible says that (Jesus) has left us an example that we should follow His steps. That’s the reason why I drive a Rolls Royce. I’m following Jesus’ steps” (CiC, p. 187). Verbeel jou! Vergelyk hierteenoor Jesus se uitspraak in Matteus 8:20 dat die jakkalse gate en die voëls neste het, maar Hy het geen plek om sy hoof neer te lê nie.

 

Ons benadering tot die “Faith Movement”

Ons moet oor hierdie mense bewoë wees en vir hulle bid. As iemand immers beweer dat hy ’n “little God” is, herken ons die trekke van die Antichris in sy uitspraak. Soms kom hulle tot inkeer, soos byvoorbeeld J Savelle wat onlangs openlik sy spyt uitgespreek het oor sommige van sy uitlatings.

Hy het (voor sy inkeer) die volgende oor siekte verklaar: “When the Devil tries to put a symptom of sickness or disease on my body, I absolutely refuse to accept it. A short time ago he tried to put symptoms of the flu on me. My nose and eyes started to run. I began to sneeze and ache all over ... I rebuked Satan and refused his lying symptoms” (CiC, p. 242).

Ons moet dankbaar wees oor die waarheid wat ons besit. As ons dankbaar is oor die waarheid van “sola gratia” (alles genade), sal ons onsself daarin ingrawe, en dwalinge soos dié van die “Faith Teaching” in die lig daarvan weerlê. Ons sal die Bybel en ons Belydenisskrifte met aandag bestudeer. Ons ontsaglike rykdom teenoor hierdie mense se afgrondelike armoede moet ons ’n knop in die keel bring!

Lees gerus die boek van Hanegraaf en verdiep uself in dit wat ons met dankbaarheid en vreugde as die waarheid bely op grond van God se Woord! •

Hierdie is die webblad van Dr Hennie van Wyk. Standpunte op hierdie blad is sy eie of die van outeurs wie se werk geplaas word, in watter geval die standpunte die van die genoemde outeur is.