SS Plus

IS HIERDIE GODSDIENSTIGE ORGANISASIE 'N KULTE?

Print

Dr Henk Stoker

'n Gangbare definisie van 'n godsdienstige kulte is dat dit 'n spesifieke godsdienstige groep is wat daarop ingestel is om sowel die aardse as die ewige lewe van sy lede te beheer. Dit vind plaas deur die beheer van lede se gedrag, denke, emosies, inligting en omgewing, taal, norme, geskiedenis, siening van God, verlossing, interpretasie van die Bybel, leerstellings en lidmaatskap. "A religious cult can be defined as a religious group that actively sets out to control both the earthly and eternal lives of its members. A cult specifically tries to control the members behavior, thoughts, emotions or feelings, information and enviroment, language, norms, history, view of God, salvation, interpretation of the Scriptures, doctrines and membership."

Veranderde gedrag

Houvas op denke

Beheer oor emosies

Beheer oor inligting en omgewing

Beheer oor taal

Beheer oor norme

Beheer oor die geskiedenis"

"Beheer" oor God

Beheer oor verlossing

Beheer oor Skrifinterpretasie

Beheer oor leerstellings

Beheer oor lidmaatskap

Jesus se waarskuwing

Hoe kan ons help?

Wanneer iemand uit n kulte kom.

Vir meer inligting

 

Veranderde gedrag:

Een van die eerste waarneembare tekens dat iemand deur n kulte ingetrek word is dat die persoon anders begin optree. Voortdurend word by kultelede ingeprent dat die "hoëre doelwitte" van die kulte by kultelede voorrang moet geniet bo enige eie (sogenaamd selfsugtige) doelwitte. Dit word beklemtoon dat net hulle die waarheid het en dat hulle deur God uitverkore is om die enigste waarheid aan mense te verkondig. So word die lede aan mekaar gebind en geïnspireer om op te offer en hard te werk vir die "Godgegewe" idees van die groep.

Die invloed van die leier (of leiers) op die lede word so sterk, dat hulle in opdrag van die leier:

  • Selfmoord sal pleeg (soos die amper 1000 lede van die Peoples Temple van Jim Jones in 1978 in die VSA.);
  • Moord sal pleeg (soos kultelede die afgelope klompie jare in Switserland, Kanada en Japan gedoen het);
  • Eerder sal ly as om dokter toe te gaan (Christian Science). Hulself, hul vrouens en selfs hul kinders seksueel beskikbaar sal stel vir die leier, vir mekaar of as fondsinsameling vir die groep (Children of God en David Koresh-groep);
  • Sal trou en skei soos die leier beveel (Vgl. berigte oor groepe by Delmas en Volksrust);
  • Sal uitgaan wanneer en met wie die leier sê jy mag (Johannesburg Chuch of Christ);
  • Opleiding net so sal los om voltyds by die groep te wees (Jehovah-getuies, groepe by Delmas en Barkley-Oos);
  • Ouers en ander familielede sal afsweer (Verskeie groepe in Suid-Afrika en oorsee)
Vir die Christen-kerke is dit ook belangrik dat mense wat tot bekering kom se gedrag sal verander. Dit is egter nie en mag egter nie 'n slaafse nakoming van reëls en regulasies van 'n leier of organisasie behels nie. Die Here het ons juis kom vry maak van die slawerny van die sonde. As nuwe mense soek gelowiges na die wil van die Here om in dankbaarheid daarvolgens te leef. Daar is nie allerhande ekstra opdragte wat uitgevoer moet word om die ewige lewe te verkry nie. Om die waarheid te sê kan niks wat ons as mense doen maak dat ons die ewige lewe verkry nie. Dit hang nie van ons af dat ons die ewige lewe het nie, maar van ons Here Jesus wat volmaak vir ons sonde betaal het.

Houvas op denke:

Om 'n slaafse gehoorsaamheid by hulle lede te verseker, is dit vir kulteleiers belangrik om beheer uit te oefen oor dit wat hulle lede dink. Veral moet kritiese gedagtes by die lede teenoor die organisasie waaraan hulle behoort gekeer word. Lede moet dus so sterk glo dat die organisasie die absolute waarheid het, dat hulle bereid is om ander inligting deur die bril van die organisasie te beskou, te kleur en selfs uit te filtreer. Jehovah-getuies word byvoorbeeld gewaarsku dat selfstandige denke van die duiwel is. Lede moet teen "Satan en sy demone" veg deur absoluut niks te bevraagteken van dit wat "God se sigbare organisasie" (die Jehovah-getuies) hulle leer nie. Kultelede glo dat hoe beter hulle met die uitwissing van "negatiewe" gedagtes vaar, hoe meer het hulle gegroei in die geloof (terwyl hulle in werklikheid net groter slawe van die organisasie geword het).

Hierteenoor weet ons as Christene dat die waarheid vry maak, nie verslaaf nie. Die Here leer ons in Sy Woord om nie op mense te vertrou nie, maar op Hom. Daarom kan niks wat deur n groep geleer word bloot klakkeloos aanvaar word nie. Dit moet telkens gemeet word aan die Woord van die Here (vgl. 2 Tim. 3:15-17). Kritiese gedagtes moet nie uitgewis word nie, maar juis deurgedink word en gemeet word aan wat God sê in Sy Woord.

Beheer oor emosies:

Die beheer wat kultes oor hulle lede se emosies het, word deur navorsers op die gebied as emosionele molestering of mishandeling beskryf. Verskeie soorte emosies word ingespan om 'n stewige beheer oor lede se menswees, denke en gedrag te verseker.

Belangrike emosies wat gebruik word is vrees en die behoefte aan sekuriteit. Literatuur van kultes is gewoonlik deurspek met verwysings na die naderende onheil wat oor die mensdom kom. Al wat 'n mens van hierdie onheil kan red, is die spesifieke organisasie waaraan jy lojaal moet bly en hard voor moet werk:

Hierteenoor bely die Christelike kerke dat nie 'n organisasie of die harde werk wat jy daar verrig n mens red nie. Dit is deur Christus en Sy voldoeningswerk aan die kruis wat ons die verlossing en ewige lewe het. Ons dien die Here nie uit selfsugtige redes soos vrees vir eie ondergang en veiligheid nie, maar ter wille van Wie Hy is en uit liefde en dankbaarheid vir wat Hy vir ons gedoen het. Ons is dus nie godsdienstig ter wille van ons oorlewing, of om gered te word en kinders van die Here te wees nie; maar omdat ons Sy kinders is.

Kultes is ook meesters daarin om lede deur skuldgevoelens te beheer. By baie groepe word die belangrikheid van skuldbelydenisse teenoor die groep en veral die leiers beklemtoon. Hulle weet dat as 'n mens eers skuldig voel teenoor iemand, jy uit skuldgevoel bykans enigiets vir daardie persoon sal doen. Ook verkry die leiers met hierdie kennis n verdere houvas op lede.

Die Christelike kerke weet daarenteen dat die Here ons juis ook van ons sondeskuld kom bevry het. Die Here vergewe nie ons sondes omdat en solank ons in ons spoor trap nie, maar Hy verwyder dit van ons so ver as die ooste verwyderd is van die weste. Hy wat getrou en regverdig is beloof dat as ons ons sondes in opregtheid bely Hy ons dit vergewe en daarvan heeltemal skoonmaak (1 Joh. 1:9).

Die meeste mense reageer baie negatief as hulle hoor dat 'n vriend of familielid by 'n kulte ingetrek is. Ongelukkig dryf hierdie reaksie die persoon net verder in die arms van die kulte in, want daar ontvang hy nou liefde en aanmoediging om op sy ingeslane pad te volhard. Die liefde wat die nuwe lid aanvanklik van die kulte ontvang lyk so onvoorwaardelik en sonder grense dat die persoon skoon van sy voete af gevee word deur al die aandag en aanmoediging. Dit voel vir die persoon letterlik asof hy in 'n utopia ingestap het waar almal vir hom omgee en in hom belangstel. Maar soos die persoon mettertyd al meer deel word van die groep, draai hulle aandag en vleiery weg van hom na nuwe lede wat gewerf word. Nou leer die persoon dat die liefde van die groep nie onvoorwaardelik is nie, maar afhang van sy goeie deelname en resultate. So word die persoon oortuig om al harder te werk en dieper by die kulte betrokke te raak.

Die ware liefde van Christene ondermekaar is en behoort onvoorwaardelike liefde te wees. Hieraan behoort ons as die dissipels van die Here uitgeken te kan word. Hoewel daar baie pragtige voorbeelde hiervan is, skiet ons ongelukkig ook dikwels hierin tekort.

Beheer oor inligting en omgewing:

Omdat n mens besluite neem op grond van die inligting waaroor jy beskik, sorg kultes dat net geselekteerde inligting by hulle lede uitkom. Omdat mense tussen wie 'n mens beweeg en tot wie jy aangetrokke voel n groot invloed het op die wyse waarop jy na sake kyk, gee kultes aan hulle lede allerhande "gevaarlike omgewings" deur waarbinne hulle nie mag beweeg nie. Kwansuis vir die welsyn van die lede eien kulteleiers hulle die reg toe om te besluit wat hulle volgelinge mag lees en hoor en waar hulle mag wees. Dikwels is alle godsdienstige materiaal wat nie van die groep af kom nie en die bywoning van godsdienstige byeenkomste buiten die van die groep ontoelaatbaar of word dit as gevaarlik bestempel.

Die Christelike kerke stem saam dat daar inligting en omgewings is wat nie heilsaam is nie, en dat daar praktyke is wat die Here ons verbied om aan deel te neem of van deel te wees. Dit beteken egter nie dat Christene nie n diepgaande studie van verskillende sake uit elke moontlike bron kan maak nie, om by n eerlike en weloorwoë mening oor sake op grond van die Skrif te kan kom nie. Ook word Christene nie verbied om vriende buite hulle spesifieke kerk te hê nie en vind daar selfs goeie samewerking tussen verskillende kerke plaas oor sake van gemeenskaplike belang.

Beheer oor taal:

Omdat taal aan n mens die woordeskat gee om mee te dink, kan n mens se denke in n mate beheer word deur sy woordeskat te beheer. Baie groepe het uitdrukkings vir sekere komplekse situasies, wat die lid dan help om in so n situasie in ooreenstemming met die leer van die kulte te dink. Ook gee hulle n eie inhoud aan bekende woorde en sinne, sodat nuwe lede op die manier geleidelik ingetrek kan word.

Die Christelike kerke probeer nie hulle mense beheer deur taal nie, maar gebruik taal om mense van die groot dade van God te vertel. Woorde word volgens hulle betekenis gebruik in ooreenstemming met die Woord van God.

Beheer oor norme:

Aangesien kulteleiers in die oë van hulle lede met Goddelike gesag optree, glo die lede dat wat hulle sê reg en wat verkeerd is absoluut waar is. Deur n hele reeks moets en moenies daar te stel het kulteleiers n belangrike invloed op omtrent elke aspek van hulle lede se lewens. Dit gebeur selfs dat dinge wat direk in stryd met die Woord van God is soos leuens en seks buite die huwelik goed gepraat word as dit tot voordeel van die groep is. As iets die groep kan benadeel - al is dit reg en waar - word dit as sleg en gevaarlik vir die lede afgemaak.

Vir die Christelike kerke gaan dit daaroor dat God ons uit genade gered het sonder enige verdienste van ons kant (Ef. 2:8-10). Daarom moet uit dankbaarheid en tot Sy eer na Sy wil gevra word, al lyk dit menslik gesproke of dit tot my eie of die kerk se nadeel is.

Beheer oor die geskiedenis:

Kultes gee voor om die enigste ware kerk van God op aarde te wees. Die probleem is dat die kerkgeskiedenis hierdie aanspraak ontmasker, omdat vandat die Here Jesus Sy Nuwe Testamentiese kerk gestig het, daar vir bykans 2000 jaar nie n groep soos hulle bestaan het nie. Om hulle aanspraak as enigste ware verteenwoordigers van God te handhaaf, word n veranderde geskiedenis aan lede voorgehou.

Dit geld ook vir elke lid se eie verlede. Dit wat n lid in die verlede ervaar het, word gekleur en verander deur hoe die kulte hom daaroor laat dink. Negatiewe dinge van die verlede word opgeblaas of selfs uitgedink, terwyl doelbewus gepoog word om herinneringe aan positiewe dinge uit te skakel of te laat vervaag.

Omdat die Christelike kerke nie voorgee dat hulle spesifieke kerk die enigste ware kerk en die enigste ware gelowiges is nie, is dit ook nie n probleem om te sien hoe God deur die geskiedenis Sy kerk en gelowiges in stand gehou het. n Onrealistiese siening van n Christen se persoonlike lewe voor hy by n spesifieke Christelike kerk gekom het kom selde voor en word nie regtig ooit aangemoedig nie.

"Beheer" oor God:

Om absolute beheer oor hulle lede te kan uitoefen, gee die leiers van godsdienstige kultes voor dat God hulle as Sy kommunikasiekanaal met mense hier op aarde gebruik en dat hulle dus onvoorwaardelik geglo moet word. Gewoonlik word voorgegee dat die Christelike kerke gedwaal het en God nou die leier of organisasie as sy spreekbuis uitgekies het. Hulle leer dat God in beheer van die organisasie is en die organisasie gebruik om Sy doel op aarde te verwesenlik, maar eintlik is dit andersom. Eintlik "beheer" die kulteleiers God. Wat hulle besluit, het God sogenaamd besluit. Wat hulle wil laat gebeur, is volgens hulle wat God gedoen wil hê. Wat hulle leer of profeteer, word dikwels beskryf as "nuwe lig" of "nuwe waarhede" wat God aan hulle openbaar het.

Vir die Christelike kerke is dit belangrik dat nie aan mense gehoorsaam moet wees nie, maar aan God. Daarom word dit wat gesê word nie gemeet aan die aanspraak wat hy op n goddelike openbaring maak nie, maar aan dit wat God in Sy Woord geopenbaar het.

Beheer oor verlossing:

Kultes stel dit gewoonlik as n eis vir verlossing of n sekere posisie voor God, dat n mens aan hulle groep moet behoort en volgens die reëls van die groep moet optree. Deurdat hulle lede oortuig dat die finale seggenskap oor hulle verlossing en ewige lewe by die groep en sy voorgeskrewe aktiwiteite lê, val mense in by snaakse en selfs verskriklike dinge wat die leiers aan hulle voorhou om te doen. Hiervan getuig die kulte-moorde, massa-selfmoorde, seksuele verkeer, diefstal, harde werk, vernietiging van verhoudinge, ensovoorts. n Sisteem van werksheiligheid bestaan by kultes, waarin God die individu al hoe meer as n kind ervaar, in die mate waarin hy toenemend volgens die wil van die organisasie optree. Dit hou ook in dat kultelede voortdurend met n swaard oor hulle koppe lewe, aangesien hulle geen sekerheid van verlossing kan hê nie.

Die Christelike kerke verskil in hierdie opsig radikaal van die kultes. Christene glo nie dat hulle redding by n organisasie gele� is nie, maar by God. Ook glo hulle nie dat hulle allerhande werke moet doen om God te vrede te stel so asof Hy n afgod is nie. Hulle bely volgens die Bybel (Ef. 2:8-10) dat hulle slegs uit genade gered is en dat hulle deur die geloof wat God in hulle hart werk aan Sy genade deel het. Ons Here Jesus Christus het volmaak vir ons sonde betaal. Ons leef volgens Sy wil, nie om iets daardeur te bereik nie, maar uit dankbaarheid teenoor Hom wat ons nuut gemaak en verander het. Christene is dus nie besig met selfdiens nie, maar met Godsdiens. Hulle kan seker wees dat hulle tot in ewigheid aan God behoort (Rom. 8:31-39; 1 Joh. 5:13).

Beheer oor Skrifinterpretasie:

Kultes wil nie werklik die Bybel self laat spreek nie, maar hulle wil die Bybel hulle dogma laat naspreek. Die gevolg hiervan is dat by kultes n verdraaide en inkonsekwente "interpretasie" van die Bybel om die organisasie te pas, voorkom. Gewoonlik is daar maar min sprake van n konstante metode van Bybelvertaling. Die gebreke word verdoesel deur die aanspraak dat die leiers van kultes buite-Bybelse "nuwe lig" het op die interpretasie van die Bybel.

Die Skrifgetroue Christelike kerke beskou die regte omgang met die gesagvolle Woord van God as n kenmerk van hulle en daarom ook van die grootste belang. Die mens moet voor die Woord van God buig; die Woord moet nie deur die mens ter wille van sy idees omgebuig en verwring word nie. Eksegete probeer daarom om deeglik rekening te hou met die grammatika, die voortgaande historiese lyn, Skrif-met-Skrif-vergelyking, die soort stof, asook die konteks waarin n gedeelte staan. Leerstellings van voorgangers word nie slaaf na gevolg nie, maar in soverre dit met die Bybel ooreenstem.

Beheer oor leerstellings:

Kultes beskou hulle leerstellings as iets wat nie betwyfel mag word nie aangesien dit deur God self aan die leiers geopenbaar. Juis die unieke leerstellings van die kulte word aan lede voorgehou as bewyse dat net hulle "in die waarheid is" en die Christendom aan die dwaal is. Dit sluit leerstellings in wat radikaal verskil met die van die deursnee Christendom, soos byvoorbeeld n valse siening van God drie-enig, van verlossing, van die Bybel en van n menigte ander sake. As sogenaamde voortgaande openbaringe van God of enigste gesagvolle interpretasie van Sy Woord, mag kultelede nie die leerstellings betwyfel of weeg nie.

'n Belangrike verskil tussen die Christelike kerke en die sogenaamde Christelike kultes lê in die gesagsbron. Vir behoudende Christelike kerke het die Bybel die hoogste gesag en moet alle leerstellings voordurend daaraan getoets word. Die Skrif moet nie by die leerstellings aangepas word nie, maar die leerstellings moet n samevattende opsomming wees van wat die Skrif sê. Dit is belangrik dat lidmate dit wat aan hulle verkondig word voortdurend vergelyk met wat die Skrif sê.

Beheer oor lidmaatskap:

Aan lede en diegene wat gewerf word word verkondig dat lidmaatskap van die groep n voorvereiste is vir die ewige lewe of n spesiale posisie voor God. Die organisasie word die middelaar. Dinge wat die leiers sê moet uitgevoer word as voorvereiste om lid te wees en te bly en so by God in guns te wees. Lede wat bedank is n gevaar vir die organisasie en moet deur die wat steeds lede is vermy word.

Vir die Christelike kerke is kerklidmaatskap nie n voorvereiste vir verlossing nie, maar n noodwendige gevolg daarvan. Iemand wat deur die Here Jesus gered is wil God ook dankbaar saam met mede-gelowiges dien en Hom in die opsig gehoorsaam. Redding l� dus nie in kerklidmaatskap nie, maar by ons God en Verlosser Jesus Christus. Iemand wat uit die kerk bedank om oor te gaan na n ander Christelike kerk word nie as verlore beskou nie. Mense wat van die Here wegdwaal moet nie vermy word nie, maar as verlore skaap aangemoedig word om terug te keer na die Here (Lukas 15).

Jesus se waarskuwing:

Dit is duidelik dat ons as Christelike kerke nie kultes is nie, maar dat ons juis Christene teen hulle moet waarsku. In Markus 13:5-8 sê die Here Jesus dat verskriklike dinge soos oorloë, aardbewings en hongersnode ons nie moet verskrik nie. Waarvoor ons wel moet oppas is dat ons nie mislei word deur valse godsdienstige groepe, of deur mense wat tussen ons en God wil kom staan nie: "Pas op dat niemand julle mislei nie. Daar sal baie onder my naam kom ..."

Hoe kan ons help?

Dit is hartseer om te dink dat daar mense is wat glo hulle is besig om die Here te dien, maar in werklikheid in misleiding vasgevang is. Vir ons as Christene is dit belangrik om met hierdie mense te praat oor die hoop wat daar in ons is. As hulle op ons pad kom moet ons moeite doen om meer te wete te kom oor hoe om die ware evangelie aan hulle te bring. n Bekeerde Jehovah-getuie het gesê dat hy in die tyd toe hy vasgevang was in die kulte vir 12 jaar aan die deure van Christene geklop het, sonder dat een vir hom die pad gewys het!

Die idee dat verlossing net by die betrokke organisasie te vind is, gee aanleiding tot 'n sisteem van werkheiligheid waarin God die individu al hoe meer aanvaar as kind, soos wat hy al hoe meer volgens die wil van die organisasie optree. Ons moet vir die mense uitwys dat redding nie by leiers of n organisasie berus nie, maar by God. Hulle moet insien dat dit wat mense leer nie maar net aanvaar mag word nie, maar dat alles aan die Woord van God gemeet moet word. Selfs van leerstellings wat die leier sogenaamd op die Woord van God grond moet (indien nodig met hulp) van seker gemaak word of dit werklik is wat Gods Woord sê. Hulle moet besef dat God nie ons werke weeg om te besluit of Hy ons na hierdie lewe in Sy heerlikheid wil toelaat nie, want dit sou "immers beteken dat Christus verniet gesterf het" (Gal. 2:21).

Wanneer iemand uit n kulte kom.

Dit vra baie van n kultelid om uit 'n kulte te bedank, omdat hy sowel sy geestelike as sy fisiese familie wat nog in die kulte is verloor. Dit gebeur omdat meeste kultes hulle lede verbied om met oudlede te praat, behalwe as dit lyk of die persoon wil terugkom na die groep. Hy wat 'n sekere aantal jare sy tyd en energie aan 'n valse godsdiens gewy het word nou koud en afsydig behandel deur sy vriende met wie hy so baie gedeel het. Die hele ervaring maak die oudlid van 'n kulte dikwels baie wantrouig teenoor alle vorme van godsdiens.

Dit is dus van die grootste belang dat ons mense wat uit n kulte kom met ware liefde sal ondersteun. So iemand moet besef dat dit nie vir ons om "die kerk" gaan soos in n kulte nie. Een organisasie moet nie net met die volgende vervang word nie. Dit gaan om n persoonlike verhouding met ons God en Verlosser. Die gemeente waar hy of sy inskakel is slegs instrumente in Sy hande.

Mense verwys dikwels na alle Christelike en sogenaamd Christelike godsdienstige groepe wat nie deel is van die bekende kerke en hulle leerstellings onderskryf nie, as sektes. Dit bring egter die probleem mee dat kerke wie se lidmate wel as mede-Christene erken word (al is daar belangrike leerstellige verskille) en godsdienstige groepe wie se lede nie as Christene beskou word nie (al noem hulle hulleself Christene) in dieselfde kategorie geplaas is. Hierdie probleem word oorkom deur n onderskeid tussen die begrippe sekte en kulte (sect en cult) te maak. Die term sekte word gereserveer vir afwykende maar steeds Christelike groepe. Die term kulte word dan gebruik vir die groepe wat voorgee om Christene (en dan ook die enigste ware Christene) te wees, maar dit nie werklik is nie. Dit is volgens die taalkundige, prof. Hans du Plessis, beter om die term kulte as die term kultus te gebruik, nie net omdat dit n beter vertaling van cult is nie, maar ook om dit te onderskei van die ander gebruik van die woord kultus as verwysende na n rite, byvoorbeeld in die woord offerkultus.

Vir meer inligting

U kan enige van die volgende persone kontak vir meer inligting:

Dr Henk Stoker

Dr Hennie van Wyk

Hierdie is die webblad van Dr Hennie van Wyk. Standpunte op hierdie blad is sy eie of die van outeurs wie se werk geplaas word, in watter geval die standpunte die van die genoemde outeur is.