
  Die deputate Christelike Onderwys van die Gereformeerde 
Kerke in Suid Afrika deel die minister van Onderwys se kommer oor die morele 
verval in ons land en sien haar voorgestelde eed van / verbintenis tot 
getrouheid as 'n eerlike poging om hierdie agteruitgang teen te werk.
  
  Die deputate kan egter vanuit 'n geloofs- sowel as opvoedkundige oogpunt nie 
die voorstel van die minister steun nie en wel om die volgende redes:
  
  1. Die minister van onderwys se voorgestelde "eed van getrouheid" is vir 'n 
Christengelowige onaanvaarbaar op grond van die Bybel se duidelike afwysing van 
die aflê van 'n eed (vgl. Matt 5:33 - 37 en Jak 5:12).
  
  2. Indien die woord "pledge" wat deur die minister gebruik word, in Afrikaans 
met die woord "verklaring" of "onderneming" vertaal sou word, is sodanige 
"verklaring" of "onderneming" wat op 'n gereelde basis gemaak moet word, steeds 
onaanvaarbaar. 
  2.1. Dit is nie die skool se primêre taak om politieke en sosiale euwels in 
die samelewing te bestry nie. Met so 'n "verklaring" beweeg die skool buite sy 
bevoegdheidsterrein wat opvoedende onderwys is.
  2.2. 'n "Verklaring" wat daagliks in 'n groep (al is dit vrywillig) gemaak 
moet word, kan nouliks anders as indoktrinasie gesien word. Indien die regering 
van die dag sou verander, sou hierdie "verklaring"
  
  3. Ons oorwoë mening is dat hierdie eed van / verbintenis tot getrouheid, 
veral in sy huidige vorm, eerder verdeeldheid in die hand sal werk as wat dit 
eenheid en harmonie sal bevorder.
  
  Die voorstel ten opsigte van 'n eed/verklaring van / verbintenis tot 
getrouheid in die skole moet van die hand gewys word. Enersyds is dit 'n vorm 
van indoktrinasie en daarom nie opvoedkundig nie. Indoktrinasie ontneem ook die 
kinders in ons skole hulle grondwetlike vryheid van mening en oortuiging. 
Andersyds oorkry dit die grense van dit wat die skool as samelewingsverband 
veronderstel is om te doen. Ons mening is dat die owerheid hier besig is om iets 
te probeer bereik wat vir hulleself binne hulle politieke denkwyse belangrik is.
  
  Ons is voorts van mening dat die morele en waardeverval in ons land (waarvan 
al die misdaad en geweld die bewys is) die gevolg is van die feit dat die 
huidige waardestelsel waarmee die lands- en onderwysowerhede werk nie in 
duidelike godsdienstige oortuigings gefundeer is nie. Morele verval is die 
noodwendige gevolg van 'n leë en godsdienstig ongefundeerde waardestelsel. 'n 
Eed van / verklaring van / verbintenis tot lojaliteit gefundeer in sodanige 
waardestelsel is eweneens leeg en betekenisloos. Die Deputate vir Christelike 
Onderwys van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika is bereid om 'n bydrae te 
maak tot (a) die skepping van 'n waardestelsel wat met betekenisvolle inhoud 
gevul is en (b) dusdoende ook tot die stryd teen die morele verval waarmee ons 
land tans geteister word.
  
  Dr. Danie de Kock.
  (Namens Deputate Christelike onderwys van die Gereformeerde kerke in SA) 
  
  
Hierdie is die webblad van Dr Hennie van Wyk. Standpunte op hierdie blad is sy eie of die van outeurs wie se werk geplaas word, in watter geval die standpunte die van die genoemde outeur is.