('n Gereformeerd-Apologetiese studie)
Werkstuk voorgelê in die derde studiejaar vir die graad Theologiae Baccalaurius in die fakulteit Teologie aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys.
Deur: Gert Johannes Kruger (B.A.)
Studieleier: Prof. dr. P.J. de Bruyn.
Potchefstroom, 1991.
Voorstanders van die Wit Teologie beskou hulleself nie as "Israelvisie" of "Wit Teologie" nie. Hulle noem hulleself die `gemeente van die verbondsvolk'. In aansluiting by Straus (1991:14) kan 'n moontlike beter benaming "Blanke Israelisme" wees, want dit gaan om mense wat 'n oordrewe klem op Israel lê, met die doel om hulle blanke rassuiwerheid godsdienstig te regverdig. Vir die doel van hierdie studie word die term "Wit Teologie" egter deurgaans gebruik, gesien in die lig dat die Wit Teologie die bekende en mees gebruikte term geword het. Aangesien die behandelde Wit Teologie sy teologiese beskouings aan blanke afkoms van die stamme van Israel veranker, kan dit per kwalifikasie enigiets van Stamteologie, Geneteologie, Bloedteologie tot Rasteologie genoem word.
Die objek van hierdie studie is die beweging in Suid-Afrika wat hulleself die "gemeente van die verbondvolk" noem, maar wat bekendstaan in Suid-Afrika as die "Wit Teologie". In Suid-Afrika is daar tans verskillende voorstanders van hierdie rigting. Vir die doel van hierdie studie sal net aan die bekendste voorstanders aandag gegee word, waaronder die `Ekklesia-Evangeliegroep' onder leiding van pastoor F.W.C. Neser van Vereeniging (na bewering 12 gemeentes), en die `Gemeentes van die Verbondsvolk' onder die leiding van ds. G.J. Steenkamp van Kuruman (na bewering het hulle 5 gemeentes). Die eersgenoemde groep herberg bebaalde Pinksterbeskouings, en laasgenoemde word gekenmerk deur die feit dat hulle die Hebreeuse name vir God (bv. "Yahweh", "Yahshua") onvertaald gebruik.
Ook 'n aantal studiegroepe en enkelinge waaronder M.C. Eksteen, A. van der Gaag, H. Swart, H. Vuijk, E.C. Lottering en Robert Hayes versprei lektuur wat by hierdie rigting aansluit. Die objek van studie word dus beperk tot die Wit Teologie soos dit in Suid-Afrika gestalte vind, maar daar is ook nog die sogenaamde "Studiegroep Aktueel Windhoek" in Namibië, wat ook lektuur versprei in Suid-Afrika en wel tuisgebring kan word onder die noemer `Wit Teologie in Suid-Afrika'.
In die Aktualiteits‑program Agenda van 10 Februarie 1991, beweer 'n aanhanger van die Wit Teologie openlik op televisie (met beroeping op Deut. 23:2) dat swartmense diere is en dat hulle nie in die vergadering van die Here mag kom nie, en daarom ook nie gered kan word nie.
Wat die Wit Teologie egter vandag so besonder aktueel maak is die geweldige, vinnige uitbreiding, en die daarmee gepaardgaande wegrokkeling van die volk van Christus (kerk = gelowige volk van God). Daar word ook enorme hoeveelhede lektuur versprei deur veral Neser, Steenkamp en die reeds genoemde voorstanders van die Wit Teologie. Dit het die situasie laat ontstaan dat die Wit Teologie besonder aktueel geword het onder gelowige Christene in Suid‑Afrika, en dat hierdie "nuwe" verskynsel allerlei vrae en probleme aan die orde stel.
Vanweë die duidelikheid en omvangrykheid van die Wit Teologie se lektuur, word gelowiges in verwarring gebring. Daar word geweldig geworstel met die vrae wat die Wit Teologie aan lidmate van die blanke Afrikaanse kerke voorhou, en veral dan die vraag: "Maar is ons as Afrikanervolk dan nie werklik die biologiese nageslag van Israel nie?"
Die Wit Teologie bring ook klaarblyklike Skrifbewyse vir hulle stellings na vore, wat gelowiges nog meer laat wonder of die Wit Teologie nie tog die waarheid uit die Bybel opgediep het nie. Die Wit Teologie verkondig aan die mense bekende begrippe soos verbond, uitverkiesing en genade maar met 'n oënskynlike ander inhoud gevul. Dit wil voorkom of daar doelbewus 'n ander inhoud aan hierdie begrippe gegee word.
Wat die studie uiters noodsaaklik maak is dat die indruk gewek word dat die Skrif op 'n illegetieme wyse hanteer word. Dit wil voorkom asof die Skriftekste uit hul verband uit aangehaal word, dat inlegkunde plaasvind en dat die hele Skrif deur die bril van 'n bepaalde volk of ras gelees word. Dit blyk ook uit hulle geskrifte dat die Bybel nie ooreenkomstig artikels 2 tot 7 van die Nederlandse Geloofsbelydenis (N.G.B.) as 'n afgeslote kanon beskou word nie, vanweë die leerstelling dat die heilsopenbaring nie afgesluit is nie, maar dat die Israelwaarheid nou besig is om geopenbaar te word.
Die Wit Teologie hou verband met die rare Brits-Israelbeweging wat veral in die laat negentiende eeu sy hoogtepunt beleef het. Allerlei klaarblyklike bewyse word aangevoer waarom die Britte die fisiese afstammelinge van die 10 verlore stamme van Israel sou wees.
Die Wit Teologie is 'n variasie op hierdie tema, want tans word beweer dat nie net die Britte afstammelinge van Israel is nie, maar al die blanke westerse Protestantse nasies, insluitend dus die Afrikanervolk. Is dit waar? Is dit waar dat die Afrikanervolk biologies van die Ou Testamentiese volk Israel afstam? Is dit waar dat die sogenaamde Israelwaarheid nou geopenbaar word? Kan die Wit Teologie se beskouinge enigsins Bybels geregverdig word?
Uit die mond van die Wit Teoloë self word die volgende stellings gemaak:
Is hierdie en ander stellings Bybels?
Met hierdie studie word daar gepoog om antwoorde op hierdie vrae te verskaf.
Die doel van die studie is om vanuit die Skrif en Gereformeerde belydenis die Wit Teologie apologeties te beoordeel. Vanweë beperkte ruimte sal net die belangrikste leerstellings in diepte ondersoek word.
'n Ander vorm van die Wit Teologie wat ook in Suid‑Afrika voorkom onder die naam "Kerk van die Skepper", en wat gepropageer word deur Klassen soos uiteengesit deur Naudé (1989:27), word nie behandel nie, aangesien dit 'n 'n aparte, omvattende studie vereis.
Die enigste maatstaf van beoordeling is die Woord van God (die 66 boeke van die Bybel ‑ die één Evangelie met twee bedienings, Ou en Nuwe Testament).
Dit word duidelik gestel dat daar nie van allerhande buite‑Bybelse geskrifte soos Joodse verhale en geskiedbeskrywings (bv. Josephus) as maatstaf gebruik gemaak word nie. Die Wit Teologie sê: "Ons maak gebruik van die geskiedskrywer Josephus...die verhaal van Josephus (rondom die vrou van Moses) is die mees moontlike en duidelike" (Steenkamp s.a. :4).
Die kerk van Christus is ook nie die eerste mense wat die Bybel lees nie en daarom word bely dat God die Heilige Gees die kerk deur die eeue gelei het om tot 'n belydenis te kom, en word die Gereformeerde belydenisskrifte (Nederlandse Geloofsbelydenis, Heidelbergse Kategismus en Dordtse Leerreëls) gehandhaaf.
Aan die hand van die artikel van Coetzee, De Klerk & Floor (1980:12-26) word die Skrif volgens die volgende hermeneutiese reëls verklaar:
a. Die Skrif is die ewige en altyd geldende Woord van God.
b. Die Skrif is sy eie verklaarder.
c. Die Skrif is duidelik en verstaanbaar.
d. Dit is noodsaaklik om Skrif met Skrif te vergelyk.
e. Die Heilige Gees is die inspirator van die Skrif en daarom is Hy die eintlike en onmisbare Eksegeet van die Heilige Skrif.
Die metode waarvolgens die studie gedoen word bestaan uit twee dinge:
Omdat daar byna geen literatuur oor die oorsprong van die Wit Teologie is nie word 'n historiese oorsig hoofsaaklik aan die hand van Pont (1989:3-11) gegee.
Die argument word tans deur die Wit Teologie aangevoer dat die Afrikanervolk hier in Suid-Afrika, die afstammelinge sou wees van die verlore tien stamme van Israel. "Omdat dit so sou wees, het die Afrikanervolk eintlik niks te vrees nie, want die almagtige God sal nie toelaat dat sy besondere, uitverkore volk hier oorspoel of vernietig word nie" (Pont 1989:3). Volgens Pont (1989:3) wil dit voorkom asof die belangstelling in die sogenaamde Israel-visie (Wit Teologie) toeneem soos die Afrikanervolk al meer onder druk geplaas word, vanweë die geleidelike afskaffing van die apartheidsmaatreëls, en die daarmeegepaardgaande integrasie van alle volkere in Suid-Afrika.
Pont (1989:3) stel verder dat "die oorsprong van hierdie Israel-visie ver terug in die geskiedenis lê en saamhang met die feit dat die Wit Teologie nie aanvaar dat die tien stamme van Israel, wat in 722 v.C., in die regeringstyd van koning Hosea van Israel deur koning Salmaneser van Assirië weggevoer is, sonder nakomelinge in die vergetelheid verdwyn het nie (2 Kon. 17: 3-6)".
In dieselfde hoofstuk in 2 Konings 17:18 staan daar egter duidelik dat "die Here so toornig op Israel geword het dat Hy hulle verwerp het" en ook in 2 Konings 17:23: "Uiteindelik het die Here hulle laat vaar soos Hy deur al sy dienaars, die profete, gewaarsku het" (1983-vertaling).
Die Skrif leer dus slegs dat die tien stamme wel na Assirië weggevoer is, en sê niks van wat verder met Israel gebeur het nie, maar "die moontlike verdere lotgevalle van die tien stamme het baie mense laat nadink, waarskynlik omdat dit moeilik is om te aanvaar dat die Here hulle finaal en onherroeplik, vanweë hulle ongehoorsaamheid en sonde, verwerp het. Die oudste mededeling dat die tien stamme nie resloos in die heidendom verlore gegaan het nie, word in die apokriewe vierde boek van Esra gevind. Daar word vermeld dat hulle oor die bolope van die Eufraat-rivier getrek het na die onbewoonde land met die naam Assaret (4 Esra 13:39-47)" (Pont 1989:4).
Op grond van die feit dat hierdie woorde in die apokriewe boek Esra as gesagvol aanvaar word, is verskillende teorieë geformuleer wat probeer om 'n antwoord te gee op die vraag: "Wat het van die tien stamme geword?"
"Daar word selfs beweer dat die nasate van die tien stamme die Rooi Indiane van Amerika sou wees, terwyl ander die moontlikheid voorgehou het dat hulle uiteindelik in Japan sou uitgekom het" (Pont:1989:4).
Die opvatting wat egter die grootste aanhang gekry het, is dat die tien stamme die Britse eilande sou beset het. Die teorie is die eerste maal deur Richard Brothers (1757-1824) uiteengesit in 'n werk wat in 1822 in London gepubliseer is: "A Correct Account of the Invasion and Conquest of this Island by the Saxons, necessary to be unknown by the English Nation, the Descendants of the greater part of the Ten Tribes" (Pont, 1989:4).
Brothers se opvattings is deur John Wilson gepropageer wat vanaf 1838 groot moeite gedoen het om Brothers se opvattings verder te voer. Wilson het heelwat sukses gehad en selfs ampsdraers van verskillende Engelse kerke vir sy opvattings gewen. Wilson het sy uiteensettings in 1844 gepubliseer in 'n boek getiteld: "Our Israelitish Origin, or the British Christians a Remnant of the true Israelites" (Pont, 1989:4).
Geleidelik het die beweging gegroei en in 1872 is die eerste "British-Israel" kongres in Londen gehou onder die voorsitterskap van biskop Samuel Gobat van die Anglikaanse Kerk. Die beweging het so vinnig uitgebrei dat in 1919 die "British-Israel World Federation" gestig is, en 'n enorme hoeveelheid lektuur is versprei waarin gepoog word om te bevestigdat die Britte die fisiese afstammelinge van Israel sou wees (Pont, 1989:4).
Dit is belangrik om op die essensie van hulle argumente te let om aan te toon op watter merkwaardige gronde die opvatting gebou is. In 1962 is 'n pamflet, "British-Israel Identity Truth", hier in Suid Afrika versprei.
Daarin word gestel dat die woord British afgelei is van die Hebreeuse woorde "berit" (beteken verbond) en "ish" (beteken man). Dan word gestel: "Consequently all members of the Covenant-Race, all nations that are part of Israel, are included under the title of the Berith-ish, British" (Pont, 1989:5). Dan word verder gesê dat die Angele, die Sakse en die Kelte, wat die basiese samestelling van die nasie van die Britse eilande vorm, die direkte afstammelinge van die Israel van ouds is, deur wie God beloof het dat Hy sy koninkryk op aarde sou vestig (Pont, 1989:5).
As bewyse vir hierdie argument word aangevoer dat die Engelse koning, Alfred the Great, reeds in 871 dié waarheid vasgelê het, want in een van sy proklamasies stel hy: "Vex thou not...Strangers in the land, for ye were formerly strangers in the land of the Egyptians" (Pont, 1989:5).
Daar word verder aangevoer dat "Josef van Arimatea in 38 n.C. in Glastonbury die Christelike geloof in die Britse eilande gevestig het. Daar word selfs beweer deur 'n sekere F. Haberman dat saam met Josef ook Maria, Marta, Lasarus en nog 'n paar ander na Engeland gekom het en dat Josef in 76 n.C. daar oorlede is" (Pont, 1989:5).
Haberman verwys ook na 'n kopie van die boek "Handelinge van die apostels", in die Turkse argiewe in Konstantinopel wat glo 'n 29ste hoofstuk bevat (Pont 1989:5). In dié 29ste hoofstuk sou dan vertel word van 'n reis wat Paulus ook na Engeland gemaak het waar hy dan die evangelie sou verkondig het. Baie het Christene geword maar van daardie oorspronklike Christene sou nie veel oorbly nie, want hulle is omtrent almal uitgewis deur die invallende Angele wat een van die verlore tien stamme van Israel was en eers later gekersten sou word. Hoe dit ookal sy, die afleiding word konsekwent gemaak dat die Engelse die direkte voortsetting van die tien stamme van Israel is.
Dit is opvallend dat die "British Israelites", met die aanhaling van verskillende tekste uit die Ou Testament probeer aantoon dat die eertydse Britse seemag, sy rykdom as die sentrum van die destydse "empire" en sy verheffing bo ander volkere, die resultaat is van profesieë wat op die tien stamme betrekking sou hê. So sou met die uitspraak van Genesis 22:17 en 24:60 die Engelse "empire" bedoel word. "Dit laat die indruk ontstaan dat die "British Israelites" hulle teorieë gebruik het om 'n soort teologiese basis en regverdiging vir die Engelse "empire" te kry" (Pont 1989:6).
Volkekundig gesproke, is die teorieë van die "British Israelites" net so onwaarskynlik, want daar kan nie op 'n bevredigende wyse aangetoon word dat die Kelte, Saksers en Angele uit die ou Nabye-Ooste voortkom en dat hulle in wese Semitiese volke is nie. "Taalkundig bestaan daar ook geen verwantskap tussen die taal van bogenoemde volke en die Hebreeuse taal wat deur die tien stamme gepraat en geskryf is nie. Dit lyk ook baie onwaarskynlik dat die tien stamme in hulle vaderland al kon gelees en geskryf het, maar as hulle dan uiteindelik as Kelte, Saksers en Angele in Engeland aankom, dan kan hulle glad nie meer lees of skryf nie" (Pont 1989:6). Pont (1989:7) maak dan die volgende stelling: "Die uitleg dat die woord "Saxon" byvoorbeeld 'n verbastering van die begrip "Isaac-sons" sou wees, lyk meer na verbeelding as waarheid".
Dit is nodig om kortliks aandag te gee aan Herbert W. Armstrong wat vanaf 1934 hierdie hele Brits-Israel-teorie op 'n besondere manier uitgebou het. Wie is hierdie Herbert W. Armstrong?
Hy is die man wat in 1934 die organisasie "The Radio Church of God", later genoem die "Worldwide Church of God" gestig het. In dieselfde jaar begin hy in Pasadena in Kalifornië met die glanstydskrif "The Plain Truth" as reklameblad vir sy sienings asook met die " Ambassador College" waarin 'n internasionale korrespondensiekursus in "Bybelbegrip" aangebied word.
Die tydskrif "The Plain Truth" wat wyd in Suid-Afrika gelees word ('n lesertal van 500 000 net in die RSA), bring die leer van die Brits-Israelisme as een van sy hooftemas. Daarvolgens het slegs die tweestammeryk uiteindelik die Joodse volk geword. "Die tien stamme het verlore geraak tot hulle uiteindelik in Europa (veral Engeland) en later ook in Amerika ontdek is. Hulle sou dan uit Assirië weswaarts beweeg het na Europa. Hieruit moet nou die oorsprong van dele van die Duitse, Franse, Hollandse en Engelse nasies verklaar word. Name soos Danzig en Danube sou, volgens dié siening, duidelik aantoon dat die stam van Dan eers daar gewoon het. Historici wat die geskiedenis van die Europese volkere nagevors het, vind hierdie teorieë egter totaal onjuis en belaglik" (Anon, s.a.(1):3). Armstrong het ook met behulp van die Brits-Israel visie 'n groot godsdienstige en finansieële ryk opgebou. Hy was 'n baie magtige man en was byvoorbeeld persoonlik bevriend met koning Hoessein van Jordanië.
"Die "Worldwide Church of God" het bates van meer as R150 miljoen (lidmate moet tot 30 % van hulle maandelikse salarisse aan dié "kerk" gee). Armstrong se persoonlike salaris as genootskaphoof is R500 000 per jaar. Hy besit onder andere 'n straler van R17 miljoen" (Anon, s.a.(1):3).
Armstrong se opvattings bring allerlei koddighede mee. "Een van die merkwaardiges is dat die Engelse vorstehuis die direkte voortsetting van die koningshuis van Dawid sou wees. Dit word dan bewys deur die feit dat die "stone of Scone", wat in Westminster Abbey onder die troon lê waarop die Engelse vorste gekroon word, niks anders sou wees as die klip wat Jakob op 'n keer as kopkussing gebruik het nie (Gen. 28:11). Die profeet Jeremia sou glo dié klip met 'n geleentheid na Engeland geneem het. Die probleem is egter dat 'n ondersoek aangetoon het dat die "stone of Scone" uit Skotse sandsteen bestaan. Dié natuurwetenskaplike bevinding het Armstrong egter nie van sy verhaal laat afsien nie" (Pont, 1989:7).
Omdat Armstrong se blad, "The Plain Truth" wyd in ons land versprei en gelees word en waarskynlik ook bydra om die Israel-visie in Suid-Afrika te propageer, is dit ook nodig om 'n laaste opmerking oor Armstrong te maak.
'n Eertydse volgeling van die "Worldwide Church of God", John Robinson, het onlangs 'n boek getiteld "The Tangled Web" in die V.S.A. gepubliseer, waarin Armstrong, sy tydskrif en sy sekte aan die kaak gestel word. Daarin beweer hy onder andere dat "Armstrong 'n alkoholis is, dat hy jarelank bloedskande met sy suster gepleeg het en dat hy 'n sekspervert is. Al hierdie bewerings kon gestaaf word en Armstrong het dit teen wil en dank erken. Sy seun en dogter het hom nou verlaat en hom in die openbaar veroordeel. Hy is ook onlangs van sy vrou, Lorna (vyftig jaar jonger as hy) geskei" (Anon, s.a.(1):3).
Na die verskyning van die boek "The Tangled Web" het die "Worldwiders" se ledetal in die V.S.A. geweldig afgeneem. Die probleem is egter dat lidmate van die "Worldwide Church" in Suid-Afrika, verbied word om enige buite-kerklike publikasie oor Armstrong te lees.
Dit is nodig om deeglik kennis te neem van Armstrong en sy tydskrif "The Plain Truth" omdat hierdie tydskrif ook in die kringe van die Wit Teologie gebruik word om die Israel-teorie te propageer.
Die Wit Teologie in Suid-Afrika is net 'n variasie op die tema van die "British Israelites", wat na vore gekom het toe gestel is dat elkeen van die Europese volke 'n afstammeling sou wees van een van die verlore tien stamme van Israel. Teenoor die "British Israelites" se teorie dat die Engelssprekende lande die somtotaal van die verlore tien stamme van Israel is, stel die Wit Teologie dat die Engelse nasie net één van die tien stamme is. Swart (s.a.:32) stel dit soos volg: "Ons Westerse geskiedenis begin op 'n geheimsinnige wyse met die Germane, Wes-Gote, die Hunne, Vandale, ensovoorts, wat Europa vanuit die Noord-Ooste binnegetrek het, en niemand weet kamtig werklik wie hierdie mense was en waarvandaan hulle regtig gekom het nie. Dit was egter Blankes soos wat die tien stamme van Israel wat in die verstrooiing en verborgenheid gegaan het, ook Blankes was. Dit lyk dusvoor-die-hand-liggend dat die verlore tien stamme van Israel die voorvaders was van die Duitsers, Hollanders, Franse en Engelse en indirek dan ook van die Blanke Suid-Afrikaners en ander blanke volke van die Nuwe wêreld. Israel kan dus vandag gesoek word onder die blanke volke van die aarde".
Neser het in hierdie verband reeds in 1956 die Israel-verhaal op Suid-Afrika betrek met die volgende stelling: "God het die Room van die Reformasie in die persone van Geus en Hugenoot na hierdie Suidpunt van Donker Afrika gestuur. Hulle is later aangevul deur die ewe vrome 1820 Britse Setlaar. Dit was verwante groepe en almal afkomstig van hierdie Anglo-Saksies-Keltiese en verwante groepe van wie daar onweerlegbare bewyse bestaan dat hulle die nakomelinge van die sogenaamde Verlore Tien Stamme van Israel is; dus die Verbondsvolk van God, wie se roeping dit was om die Kanaal te wees deur wie God Homself aan die wêreld sou openbaar. Ons is dus God se uitverkore volk, nie om voorgetrek te word nie, maar vir diens en vir seën van die wêreld" (Neser 1956:10).
Die bewyse wat die Wit Teologie aanvoer vir hierdie argument is dan veral Jesaja 43:21 en Mattheüs 24:9. Die probleem is egter dat die Wit Teologie 'n teksvers uit die Bybel as 'n losstaande geheel sonder sy verband aanhaal, want verder in Jesaja 43 in vers 28 sê die Here: "Ek het Jakob iets gemaak wat uitgeroei moet word, Israel iets wat bespot moet word" (1983-vertaling); en 'n paar verse verder in Mattheus 24 in vers 14 sê Jesus: "En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot 'n getuienis vir al die nasies" (1953-vertaling). Wanneer die tekste in hulle verband gelees word, is dit duidelik dat die tekste wat die Wit Teologie aanhaal ter ondersteuning van hulle stellings, nie juis hulle stellings bewys nie.Interessantheidshalwe kan daarop gewys word dat ds. G.W.A. van der Lingen (1804-1869), die bekende Paarlse predikant uit die vorige eeu, ook al op hierdie sake ingegaan het. "Sy biograaf, M.C. Kitshoff, wys daarop dat Van der Lingen 'n besondere voorliefde gehad het vir die studie en uitleg van die Bybelse profesieë. Dit het tot gevolg gehad dat hy sy studiewerk in 1842 gepubliseer het onder die titel: "Aanwijzingen betreffende de afkomst en bestemming van sommige Noordsche Volken". Hiermee kan Van der Lingen beskou word as een van die vroeë woordvoerders van die Israelvisie. Dit bly merkwaardig dat die hedendaagse woordvoerders van dié opvatting, sover nagegaan kan word, nooit na hierdie werk terugverwys nie" (Pont, 1989:10).
Die essensie van die Wit Teologie se argument is dus dat die blankes van Suid-Afrika en dan in besonder die Afrikanervolk, God se uitverkore volk is en so die middel waardeur God Homself aan die wêreld gaan openbaar. "Dit is merkwaardig dat die koddige opvatting van die negentiende-eeuse Engelsman, Richard Brothers, vandag in ons land aangewend word om die Blankes in Suid-Afrika in hulle omstrede posisie in die wêreld te `bemoedig'" (Pont:1989:12).
Die Wit Teologie erken en bely die Drie-enige God soos Hy Homself in sy Woord geopenbaar het. In 'n pamflet getiteld: "Belydenis van die gemeentevan die verbondsvolk", word die Wit Teologie se belydenis aangaande God soos volg gestel: "Ons glo en bely die enige Almagtige Yahweh van Israel, die Almagtige van ons vaders, soos geopenbaar in sy Woord as Vader, Seun en Heilige Gees. Hy is die enige Skepper wat was en is en sal wees, die Almagtige. In Yahshua geopenbaar in die vlees as ons Verlosser en Middelaar, deur die Heilige Gees inwonend in ons lewe as Trooster en Waarheidsleraar" (Anon, 1990a :4).
Die Wit teologie erken en bely dus dat God 'n Almagtige en Drie-enige God is soos Hy Homself in sy Woord geopenbaar het.
Wat egter opmerklik is in hulle geloofsbelydenis aangaande God is dat God nie bely word as God, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde nie (Apostoliese geloofsbelydenis), maar as "Jahwe van Israel, die Almagtige van ons vaders". Hier lê die kernprobleem by die Wit Teologie se Godsbeskouing. In teorie is daar niks verkeerd met hulle belydenis aangaande God nie, maar in die praktyk, soos dit in hulle geskrifte verder uitgewerk word, is dit baie duidelik dat die soewereiniteit van God oor sy ganse skepping, en daarom oor al die volkere, nie gehandhaaf word nie. God word nie bely as die God wat soewerein regeer oor die ganse skepping, oor alle mense en alle volke nie, maar God word gereduseer tot die "God van Israel, die God van ons vaders" (Anon, 1990a :4).
Ter beoordeling kan die volgende analoog getrek word: Die Wit Teologie maak net soos die Swart Teologie die fout om te veronderstel dat God aan hulle kant is (vgl. byvoorbeeld die "Kairos-dokument" by die Swart Teologie en die geskrif "die Afrikaner, 'n unieke volk" by die Wit Teologie). Die Swart Teologie sê God is aan die kant van die armes en onderdruktes (swartes), die Wit Teologie sê God is aan die kant van die blankes ( Israel). Die kern van die Evangelie naamlik Jesus Christus se verlossing en bevryding van sonde word aangetas. Beide die Wit Teologie en die Swart Teologie maak ook hier dieselfde fout: nie meer bevryding van sonde nie, maar by die Swart Teologie bevryding van vernedering en onderdrukking en by die Wit Teologie bevryding en verlossing omdat jou velkleur blank is.
Die Wit Teologie se verlossingsleer begin altyd by die volk of ras, en nooit by die Evangelie van Jesus Christus nie. Nooit word kinderlik gelowig aanvaar dat alle mense doemwaardig gelyk as sondaarmense voor God staan nie, nee, God sal jou red omdat jy 'n blanke Israeliet is.
By die Wit Teologie is die kernprobleem die ontkenning van die algenoegsaamheid van Christus. "In die laaste instansie is dit die Israelbloed in die are, in plaas van die Christusbloed aan die kruis, wat mense red. Daarin vertoon hulle 'n ooreenkoms met die rigtings waarteen Paulus (in Galasiërs en Kolossense) so sterk gewaarsku het. Ons Gereformeerdes aanvaar natuurlik ook nie 'n algemene versoening nie, maar ons bely onomwonde op grond van die Skrif dat Christus se soendood genoeg is om die sondes van die hele wêreld te versoen" (Straus 1991:14) (vgl. Dordtse Leerreëls, 2:3).
Die Christologie, of leer oor ons Verlosser Jesus Christus, word dus radikaal ingeperk tot die nakomelinge van die fisiese Israel. (Daar sal later in die studie (punt 3.3.3) breedvoerig oor die verlossingsleer van die Wit Teologie gehandel word).
By die Wit Teologie kom ook die Pneumatologie, die leer oor die Heilige Gees, nie tot sy reg nie. Die Gees wat soos die wind waai waar Hy wil (vgl. Joh. 3) word tot die fisiese Israel beperk. Die genadige werk van God, die Heilige Gees op Pinkster, waar die Heilige Gees uigestort is sodat al die nasies in hulle eie taal kan hoor van die groot dade van God (Hand. 2:8-11 en 2:5), word ontken deur die Wit Teologie omdat die Heilige Gees gereduseer word tot slegs Israel, slegs die blanke westerse protestantse nasies.
Die Wit Teologie se beskouing oor God is dus skeefgetrek omdat hulle leerstellings gegrond is op 'n kwasi-teologie. "Wit Teologie maak hom juis daaraan skuldig dat die kern van die evangelie aangetas word. Jesus Christus word verwerp en die lewe onder die heerskappy van God word 'n onreg aangedoen" (Naudé, 1989:13).
Die geskiedenis ontvou volgens die ewige, onveranderlike raadsplan van God. Die Wit Teologie stel dan dat God 'n unieke plan het wat strek vanaf die skepping van Adam tot aan die einde van die duisendjarige vrederyk (chiliasme) met die aanbreek van die ewigheid.
Die kern van die Wit Teologie se leer aangaande die raadsplan van God sentreer rondom die stelling dat die huis van Israel (tien stamme) en die huis van Juda (twee stamme) afsonderlik bly tot en met die wederkoms van Christus. In hierdie verband stel Neser (s.a.(1):20): "Ons het gesien dat die Huis van Israel (tien stamme) en die huis van Juda (twee stamme) nog afsonderlik moet wees tot en met die wederkoms van Christus...Daarom moet hulle albei, die Twee Stamme (Juda en Benjamin) sowel as die Tien Stamme vandag nog uitkenbaar wees".
Neser (s.a.(1):21) gaan dan verder en stel: "Indien Satan daarin kan slaag om die Huis van Israel (die Tien stamme) te vernietig, of deur uitwissing of deur vermenging van hulle bloed, kan die herstel van Israel nie plaasvind nie, en kan Jesus nie terugkeer na die aarde om sy koninkryk te vestig nie. Satan kan dan nie gebind word nie en hy kan voortgaan met sy duisterwerk op aarde. Daarom stook hy die nasies van die aarde op teen die Blanke Christen-nasies van die Weste. Die venyn is op die oomblik op Suid-Afrika en Rhodesië gekonsentreerd. Dit is egter net die begin. Die mikpunt is die vernietiging of vermenging van die ganse Westerse Beskawing...Indien hulle daarin slaag, kan (my beklemtoning) Jesus nie Sy Duisendjarige Vrederyk oprig nie, want Sy Koningskap is beloof om oor Israel te wees".
(Om te sê dat Jesus Christus wat self God is, iets nie kan doen nie, is darem baie gewaagd. Daar bestaan nie vir God so iets dat hy nie kan nie. Deur dit te sê word die almag en soewereiniteit van God aangetas).
Die Wit Teologie sien dan die gebeurtenisse in die geskiedenis soos skakels in 'n ketting. As die een skakel nie 'n werklikheid word nie (bv. dat Juda en Israel eers herenig moet word), verhinder dit die aanbreek van die duisendjarige vrederyk en kan Christus se wederkoms nie plaasvind nie. Daarom sê Hayes (s.a.(1):94) met betrekking tot die Afrikanervolk: "Ons geslag gee nie 'n flenter om wat van die Godsplan word nie. Ons steur ons nie daaraan of ons sy knegte is wat dit moet uitvoer nie - ons verroer nie 'n vinger as sy Naam ontheilig word nie, solank ons net hemel toe kan gaan".
Die Wit Teologie maak ook veel daarvan dat daar in die Bybel 'n radikale onderskeid gemaak sou word tussen Juda en die tien stamme van Israel, en dat die afstammelinge van die tien stamme geen aandeel gehad het aan die verwerping en kruisdood van Jesus Christus nie, soos blyk uit veral Neser se geskrifte.
Die absolute skeiding tussen Juda en Israel wat deur die Wit Teologie gemaak word, kan egter volgens die Skrif nie gehandhaaf word nie. In Handelinge 2:22-23 byvoorbeeld, praat Petrus met die Jode (Juda) en dan noem hy hulle "Israeliete" en sê verder dat hulle (die Israeliete) Jesus gekruisig het. Ook in die Ou Testament word Juda soms as Israel (en omgekeerd) aangespreek. Die profete Jeremia en Esegiël dui byvoorbeeld na 722 voor Christus (die datum van die wegvoering van die tien stamme) in hulle profesieë Juda as Israel aan (vgl. Jer. 2:31; 5:15; 10:1; 14:8; 17:13; 18:6). Dit is ook opvallend dat Esegiël die Judese ballinge in Babel verskillende male as Israel aanspreek (Eseg. 11:5; 17:2 en 20:27).
Die Bybel ken dus nie so 'n radikale skeiding tussen Juda en Israel nie, maar handhaaf wel 'n onderskeid. Dit is ook opvallend dat in die Nuwe Testament met ` Israel' meermale al twaalf stamme bedoel word (vgl. Jak. 1:1).
Omdat die uitvoering van die raadsplan van God vlot moet verloop, is die hede 'n baie belangrike skakel in die raadsplan van God. Die hede word deur die Wit Teologie gesien as die tyd waarin die onvervulde profesieë vervul sal word.
Die stryd om die hede in die Wit Teologie se denke kom in essensie op die volgende neer: Die hele menslike geskiedenis vanaf Adam word deur 'n stryd om heerskappy gekenmerk. Dit is 'n stryd tussen God en Satan en daarom is dit ook 'n sigbare stryd op aarde tussen die familie of kinders van God en die familie of kinders van die Satan. Die belangrike vraag wat deur die Wit Teologie gevra word is: wie is die kinders van God en wie is die kinders van Satan? Hierop word geantwoord: die kinders van God is Adam, wat Israel genoem word en die kinders van Satan is Kain, wat Jood genoem word. Interessant is die "bewys" hiervoor wat Swart in sy boek "So spreek die Woord" uit Judas:6 en 7 aanbied: "In beginsel was die engele geestelike wesens en manlik. As hulle hul eie beginsel verwerp of verlaat het, kon hulle dus vleeslike en vroulike vorme aangeneem het, of sommige manlik en ander vroulik. So het hulle dan "op dieselfde manier as die mense van Sodom", "gehoereer en agter vreemde vlees aan geloop"...en 'n nageslag verwek wat amper soos mense gelyk het en van wie die argeoloë deesdae skedels en beendere opgrawe om die sogenaamde "vermiste skakels" in hulle sogenaamde "ewolusieteorie" te ontdek" (Swart, s.a.:4). (Teenoor hierdie beweringe van Swart leer die Skrif egter in Mattheüs 22:30 dat die engele nie trou nie, en nie kan voortplant nie.)
Swart gaan dan verder en sê: "Hierdie benadering verklaar ook die enigsins vreemde bewoording van Genesis 1:26 toe God gesê het: Laat ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis....wat suggereer dat daar mense was wat nie na die beeld en gelykenis van God was nie...Dit verklaar ook die opdrag in Gen. 2:15: Toe die Here God die mens in die tuin van Eden gestel het om dit te bewerk en te bewaak. Teen wie moes hulle dit bewaak anders as teen die nageslag van die gevalle engele - die kinders van die Bose?" (Swart, s.a.:5). En dan kom Swart tot die koddige slotsom: "Satan het moontlik ook nog verduidelik dat "leer ken" en "beken" dieselfde is want: Genesis 3:13...en die vrou antwoord: Die slang het my bedrieg... Uit hierdie bedrog en verleiding en die feit dat Adam sy vrou beken het, is 'n tweeling gebore: Kain as die kind van die Bose en die eerste mensemoordenaar; en Abel die kind van Adam en van die geregtigheid. Vergelyk die sinsnede in Genesis 4 vers 2: "Daarna het sy ook sy broer Abel gebaar". Tog het die mens sy vrou Eva net een keer beken!" (Swart s.a.:7).
Hierdie siening van die Wit Teologie word verder gegrond in die woord van 1 Joh. 3:12: "Moenie soos Kain wees nie. Hy het aan die Bose behoort en sy broer vermoor". Kain word hiermee beskryf as die werklike vleeslike kind van Satan. Sommige voorstanders van die Wit Teologie soos die beweging "Studiegroep Aktueel" in Windhoek beskou ook vir Esau as die fisiese kind van Satan, omdat hy en Jakob reeds in die moederskoot in stryd met mekaar was. Daarom word gesê: "die saad van die slang en die draer van die saad van die vrou het binne-in dieselfde baarmoeder beland!" (Neser, 1982:38).
Die Wit Teologie sê ook dat die addergeslag in Mattheüs 3:7 die geslag van die duiwel is, hulle is "kinders (fisies) van die duiwel" (Burger, s.a.:31). Hulle is die slanggeslag en dit is die Jode. (By party skrywers is dit sommer al die ander nie-blanke nasies.)
Só het die stryd ontstaan tussen die Jood en die ware Israel. Vir die Wit Teologie is hierdie stryd belangrik vir die hede, omdat volgens die onvervulde profesieë hierdie stryd nou, in vandag se tyd, 'n felheid sal bereik wat beslissend sal wees vir die raadsplan van God. Die Studiegroep Aktueel Windhoek (s.a. Die Raadsplan van God soos aangehaal deur Naudé, 1989:16) stel dit soos volg: "Die aard van hierdie stryd is dat die Jood as nageslag van Satan na wêreldheerskappy strewe. Dit is die Jood wat die leuen geskep het dat die Sionistiese Jood die volk van God is en onaantasbaar is. Die ware Godsvolk, naamlik Israel, die Witman in Suid-Afrika, word deur die Jood as uitvaagsels beskou. Om simpatie vir die Jood by oningeligte Westerlinge te wek, word die leuen vertel dat ses miljoen Jode in die gaskamers van Hitler vermoor is. Dit word gedoen terwyl die Jood in werklikheid besig is om beheer te verkry oor die meeste regeringstelsels. Hulle beheer die kapitalisme, kommunisme, pers, die rolprentwese en die televisie. Hulle gebruik slagspreuke soos humanisme, vryheid, vrede, gelykheid, dialoog, konsensus, broederskap, geregtigheid en menseregte met die oog op die skepping van 'n teelaarde vir rassevermenging en die verbastering van die volk van God".
Die Wit Teologie lê egter ook nog klem op die tweede aspek van die stryd in die hede. Die volk van God (blanke westerlinge) verkeer ook in 'n stryd met die swartes. Op hierdie aspek het veral Hayes (omtrent in elke geskrif van die Wit Teologie word hierop ingegaan) baie klem gelê in sy boek getiteld "Die lewendes en die dooies". Hayes sê dan die volgende: "Die mens, wat God geskape het, se naam was Adam en hy was Blank, want dit is wat "Adam" beteken. Let asb. daarop dat dat die woord "beeld" verwys na fisiese beeld en nie morele beeld nie. Die Companion Bible bl. 4 sê, dit verwys uitsluitlik na die liggaam en nie na eienskappe nie. God is Blank. Daar is meer as 30 biologiese en anatomiese verskille tussen Blankes en Swartes. Swartes is nie Homo Sapiene nie. Hulle word wel so geklassifiseer. Selfs ons bloed verskil van die Swartes se bloed en hierdie feit, dat hul bloed verskil, is die bewys dat hulle nie mense is nie, want alle mense (Adamiete) het dieselfde bloed (Hand. 17:26). Al die onkunde en verwarring word deur Satan uitgebuit om ons uit te wis" (Hayes, s.a.(2):1,7).
So probeer die Wit Teologie met allerlei teorieë bewys dat die swartmense nie mense is nie, maar diere. Die swartes is dan ook die kinders van die Bose, die sogenaamde onkruid (Mat. 13) wat deur Satan gesaai is (vgl. Hayes, s.a.(1):235). Daar is egter wel sommige voorstanders van die Wit Teologie soos die `Studiegroep Aktueel' en Neser wat hierdie teorieë verwerp en aanvaar dat die swartman 'n mens is.
Oor die algemeen gesproke verkondig die Wit Teologie dat die profesie van Jesaja 18:6 in die hede vervul word. Jesaja 18:6: "Die ranke word oorgelaat aan die roofvoëls uit die berge en aan die wilde diere" word so verklaar dat die wingerd waarvan hier sprake is, die witman is, wat verniel sal word deur die swartman wat die wilde diere is. Voorbeelde wat genoem word, is dat die swartes weier om huishuur te betaal, terwyl die witman hiervoor moet instaan (vgl. Hayes, s.a.(1):54). Skole en boeke word verbrand, onderwysers en parlamentslede moet betaal word en die swart state moet onderhou word. Die vervulling van die profesie van Jes. 18:6 word saamgevat in die woorde: "Sonder om 'n skoot te skiet, met vuurhoutjies en buitebande neem 'n totaal onderontwikkelde ras se ongeletterde kinders die beheer oor by slim geleerde doktors en professors, by 'n volk met die sterkste weermag in Afrika" (Hayes, s.a.(1):54).
Die beskrywing van hierdie stryd in die hede bring 'n denkrigting na vore wat totaal onbybels is en nog erger: dit druis in teen die wese van God. Wanneer die Wit Teologie die oorname van die land beskrywe deur die swartman, dan sê Hayes (s.a.(1):54): "God gee dit aan hulle", en verder stel hy in die skerpste taal "dat God die swartes in ons huise plant om informasie na die vyand naamlik die ANC en UDF te stuur! God gaan swartes gebruik om te saboteer en inligting na die vyand te stuur, want twee-derdes van die volk moet sneuwel!" (Hayes, s.a. (1):272).
Die hongersnood van Afrika word deur die Wit Teologie gesien as deel van die Godsplan om die eindtyd te verhaas en om die witman van totale uitwissing te red. Volgens 'n onvervulde profesie (Eseg. 38:5) word deur die Wit Teologie gestel dat Afrika op die Witman in Suid-Afrika sal toesak, maar die massas sal nie krag hê om so ver te loop nie. Daarom word die juigkreet deur Hayes geuiter: "Prys die Here vir die hongersnood in Afrika!" (Hayes, s.a.(1):115).
Met die bogenoemde stelling van Hayes word dit baie duidelik wat die resultaat van die handhawing van hierdie skeefgetrokke ewige, onveranderlike raadsplan van God is. In hierdie verband stel Naudé (1989:18) met betrekking tot die Wit Teologie: "Die geskiedenis beweeg in 'n vaste baan. Dit het 'n vaste beginpunt en 'n vaste eindpunt. Die datum van hierdie vaste eindpunt of wederkoms van Christus kan daarom ook bepaal word. Verder het die geskiedenis 'n vaste verloop en is gebeurtenisse bepaal, sodat die daad van die mens as God se daad verstaan word. Hiermee word God die outeur van die sonde gemaak en word die verantwoordelikheid van die mens vir sy beslissings en optrede misken. Hierdie beskouing doen 'n onreg aan God: God word met die mens gelykgestel en die mens word met God gelykgestel!"
Die absolute, onveranderlike raadsplan van God soos wat dit by die Wit Teologie geleer word (lw. skeefgetrokke by die Wit Teologie), tas die soewereiniteit van God aan. God se vrye wil en beslissing word onveranderlik gebind aan 'n vaste raadsplan, so asof God se raadsplan 'n bloudruk is waarvan Hy, die soewereine God, afhanklik is en waaraan Hy móét voldoen en dus waaraan Hy ondergeskik is. Só verstar God en kan Hy vanuit die verloop van die geskiedenis bevraagteken word. Hayes maak juis die skreiende opmerking dat "as daar nie 'n suiwer oorblyfsel van Israel in die suidpunt van Afrika is tydens die Wederkoms nie, sal God 'n leuenaar wees, want dan kan Sef. 3:10 nie vervul word nie" (Hayes, s.a.(1):340). As die geskiedenis nie volgens die Wit Teologie se weergawe van die raadsplan van God in 'n voorafbepaalde patroon of raadsplan verloop nie, dan word God bevraagteken!.
Ter beoordeling van bogenoemde siening van die Wit Teologie oor die raadsplan van God kan aan die hand van 'n paar Skriftekste die volgende gemeld word: Dit is waar dat die lewende God onveranderlik is (Jak. 1:17; Ps. 102:27,28; Jes. 41:4; Mal. 3:6; Heb. 1:11). God is onveranderlik in sy Wese. In Exodus 3:14 openbaar die Here Homself as "Ek is wat Ek is". Die kerk het dan ook van die begin af bely dat God in sy wese, eienskappe, woord en daad altyd God bly.
Dit is ook waar dat God se raad of raadsplan onveranderlik is en dit gee aan die nietige mens troos en verskaf aan hom geborgenheid. "Die planne van die Here staan vir alle tye vas, sy besluite van geslag tot geslag" (Ps. 33:11; vgl. Heyns, 1984:74). As die Here van die leërskare besluit het, sal niemand dit kan verydel nie (Jes. 14:27, vgl. 46:10; Spr. 19:21; Heb. 6:17). Maar wat die Wit Teologie nou doen is om alles wat húlle dink en sê, alles wat hulle uit hulle verbeelding opdiep, toe te skryf aan die raadsplan van God. So word die Wit Teologie se leerstellings en gedagtes sommer God se raadsplan gemaak. Daarom is hierbo melding gemaak van die skeefgetrokke raadsplan waaraan die Wit Teologie vashou.
Die Here is onveranderlik en Hy het 'n vaste raadsplan gegee waarin Hy oor alles wat met die mens en met die hele wêreld gebeur en sal gebeur, regeer. Maar dit bly God se raadsplan waaroor Hy beskik en Hy alleen weet wat die inhoud van sy raadsplan is. Vir die mens is God se raadsplan verborge, behalwe wat God gewil het om uit genade aan ons te openbaar in sy Heilige Woord. God het nie sy Woord, die Bybel, gegee om daaruit presies sy raadsplan af te lei nie, nee, God het sy Woord gegee omdat Hy Homself aan die mens daarin wil openbaar. Die Bybel is dus openbaring van God, en nie primêr openbaring van God se raadsplan nie, en allermins 'n volledige openbaring daarvan om die mens se nuuskierigheid te bevredig.
Die primêre fout van die Wit Teologie is dat hulle uit die Bybel God se raadsplan presies wil aflees soos uit 'n futurologiese handboek. Vir die Wit Teologie is die Bybel dus bestem om hierdie voorafbepaalde plan bekend te maak. Omdat God ewig en onveranderlik is, is hierdie plan ook onveranderlik. Die Bybel is volgens die Wit Teologie dan noukeurig rondom hierdie Godsplan opgebou en skakel volkome ineen. Elke woord "pas net op daardie plekkie waar dit oorspronklik geskryf is..." (Hayes, s.a.(1):201).
'n Biblisistiese rekonstruksie van hierdie "raadsplan" word dus uit die Bybel gemaak. Dit word weer op sy beurt deur die Wit Teologie as die verklaringsmodel gebruik van waaruit die samehang en betekenis van die Bybel afgelei kan word. Hierdie samehang van die Bybel is egter vir die Wit Teologie niks anders as die blanke identiteit nie. Waar die Bybel self by herhaling aandui dat dit in die skepping uiteindelik gaan om die eer en verheerliking van God, die Skepper van dit alles; om die deelname van die volle skepping met sy volle verskeidenheid en magdom van nasies aan die lofprysing van God, word alles deur die Wit Teologie verabsoluteer tot slegs die uiteindelike heil van die blankes. Die Bybel word ook in 'n "plan" ingeforseer wat nêrens in die Bybel self bestaan nie. Om vanuit die volgorde van die Bybelboeke so 'n plan te wil aflei is 'n futiele poging, soos al by herhaling bewys is.
Dit is nie na een of ander plan nie, maar na die wil van God, waarna die gelowige in die Bybel moet soek.
Die Wit teologie gebruik nie die Name van God soos Here, Jesus en Christus nie, want "die woord "Here" is nie 'n naam nie en beteken maar net "meneer", "Meester", "baas" of "Baäl", 'n "afgod" (Steenkamp, 1989a:5).
Veral Steenkamp het Hom sterk uitgespreek teen die vertaalde gebruik van die Naam van die Here. In 'n boekie getiteld "Laat U Naam geheilig word" stel hy dat die Skepper Hom aan sy Hebreeus sprekende volk geopenbaar het as Yahweh. Moses en die ander Bybelskrywers het dan ook in die Hebreeuse skrifkarakters sy Naam geskryf. Daarom sê Steenkamp: "Kom weg van vervalste Name van ons Skepper wat ons nie kan identifiseer na die Hebreeusnie. Elke kweekskoolstudent weet dat hy daar van Yahweh praat, maar as hy op die kansel klim is dit "Here" wat niemand kan regverdig nie want as hy nou wil Afrikaans praat kan hy mos van ons Almagtige, ons Vader, ons Verlosser, ons Losser of van die gesalfde praat. Maar SY NAAM IS YAHWEH en die Verlosser is YAHSHUA - Yahweh verlos!" (Steenkamp, 1989a:1).
Steenkamp maak dan verder die saak uit dat dit absolute sonde is om die Naam van die Here vertaald te gebruik. "Yahweh is 'n eienaam en geen mens het die reg om hierdie Naam te verander of te vertaal nie. In ons Afrikaanse Bybel is dit vertaal met HERE, afkomstig van die woord LORD in Engels. Nou weet ons dat Here geen naam is nie. Dit word gebruik as 'n titel ook vir mense...In die Nuwe Testament word die Griekse woord Kurios = Lord = Here gebruik. Dit is ook geen naam nie. Tussen die Ou en Nuwe Testament is daar ook verwarring in die Afrikaans, want Yahweh en Kurios word albei vertaal met Here" (Steenkamp, 1989a:4,5).
Myns insiens is dit dus vir Steenkamp 'n probleem dat die Hebreeuse Yahweh in die Ou Testament, vertaal is met die Griekse Kurios in die Nuwe Testament. Die geïnspireerde skrywers van die Nuwe Testament het dus 'n fout gemaak om die Hebreeuse Yahweh te vertaal. Dit is dus duidelik dat Steenkamp as verteenwoordiger van die Wit Teologie nie die taal waarin die Nuwe Testament (Grieks) geskryf is, wil aanvaar as dit rondom die Naam van die Here handel nie.
Steenkamp (1989a:6) sê self: "Die volgende Naam wat in gedrang kom is die Naam van die Seun van God. "Jesus" kom van die Griekse begrip "Iesous" en beteken "verlosser". Dit is eerstens onmoontlik dat die Engel met Maria Grieks sou praat. Die Naam sou in Aramees/Hebreeus wees. Matt. 1:21 "En jy moet hom Yahshua noem, dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos" - SY VOLK, NIE ALMAL NIE" (beklemtoning G.J. Steenkamp).
Dan gaan Steenkamp verder en gee die Jode die skuld dat die Naam van God so verander is. Die Jode het glo 'n groot rol gespeel in die verandering vanaf Yahoshua na Yeshua na Jesohu na Iesou na Jesus = Verlosser. "Die Jode vorm die naam in die uitspreek tot 'n vloek van die naam. Hoe geweldig is die spel van Satan!" (Steenkamp, 1989a:7).
Ook oor die Naam Christus het Steenkamp beswaar, want die Hebreeuse Naam is Messiah = Yahweh is Gesalfde of Heerser, en die Naam Christus is oorgeklank uit die Grieks en beteken slegs "Gesalfde". "Ons sien dat ook hier die Heilige Naam weggeneem is" (Steenkamp, 1989a:7).
Interessant is hier dat die fout nie by die Afrikaanse Naam Christus lê nie, maar alreeds by die Griekse Naam "Christos". Sou Steenkamp dus die feit dat die Name van die Here en van sy Seun Jesus Christus in die Grieks vertaal is, verwerp? Wie dit doen tas die inspirasie van die Heilige Gees aan, want die Heilige Gees het die Griekse skrywers van die Nuwe Testament geïnspireer om ook die Eienaam van ons Verlosser, in Grieks te skryf en nie in Hebreeus nie.
Steenkamp sluit dan sy betoog af en sê dat dit by die doop nodig sou wees om die Name Yahweh en Yahshua te gebruik omdat "Vader" en "Seun" volgens hom bloot titels is (Steenkamp, 1989a:7). Die woorde van Mattheüs 28:19 moet dan seker so lui: "doop hulle in die Naam van Yahweh, en Yahshua en die Heilige Gees". Dit is merkwaardig dat Steenkamp nie die Hebreeuse Naam vir die Heilige Gees gebruik nie!
Die Wit Teologie voer aan dat die mens as 'n blanke geskape is. Net soos Adam, was Set, Noag, Abraham, Isak en Jakob blankes en daarom is ook die nageslag van Abraham, die Israeliete blankes. Die verskeidenheid van nasies, stamme, volke en tale waarvan die Bybel praat (o.a. Open. 7:9) word deur die Wit Teologie verklaar as die menigte blanke nasies wat uit Abraham sou voortspruit. Uit die mond van die Wit Teologie self: "Al die Skrifte...praat nêrens van "al die rasse nie". Hierdie menigte van nasies spruit almal voort uit God se belofte aan Abraham en later Efraim (Gen. 48:19), hoofstam van die Tienstammeryk - húlle het 'n groot menigte geword - baie stamme, tale, volke en nasies MAAR ALMAL VAN BLANKE SEMITIESE AFKOMS VIA ABRAHAM, ISAK EN JAKOB. Hulle is 'n uitverkore ras (1 Pet. 2:9,10)" (Anon, s.a.(2):9). (Onderstreping en beklemtoning deur die skrywer).
Swart "bewys ook onomwonde" dat Israel blank was. Hy sê dat die bewys dat Israel blank was, opgesluit en verskuil lê (dit is 'n verborge geheimenis - soos Swart dit stel) in verse soos Esegiël 36:32: "Skaam julle en bloos oor julle weë, o huis van Israel".
Die "bewys" en argumentering loop dan soos volg: " Israel was en is dus 'n volk wat bleek kan word en kan bloos, met 'n blanke vel en blosende rooi wange en lippe. Hierdie eienskappe is eie aan die Blanke Westerse nasies en as 'n mens die Israel van die Bybel vandag wil gaan soek, is jy beperk tot die Duitsers, Hollanders, Franse, Engelse en die ander Blanke volke van Wes-Europa en die lande wat deur hierdie volke gekolonialiseer is soos Suid-Afrika, Australië, die VSA, Kanada, Nieu-Seeland, ens." (Swart, s.a.:32).
Swart gaan dan verder en maak die gevolgtrekking: "Israel van die Bybel was Blankes net soos u en ek terwyl die kinders van die Bose, die krom en verdraaide geslag, anderskleuriges was" (Swart, s.a.:31).
Die Wit Teologie voer aan dat die swartes diere is en dat die Bybel daarvan getuig. Von Moltke sê in die verband dat daar in Genesis 1:24 van drie soorte diere gepraat word naamlik vee, kruipende diere en wilde diere. Die "wilde diere van die aarde", die derde groep in Genesis 1:24 is dan verskillend van die vorige diere anders sou hulle nie apart genoem word nie. Dan maak Von Moltke die volgende gevolgtrekking: "Die Hebreeuse woord is "chay" en beteken "a living thing that lives". Die woord - aarde - kom van die Hebreeuse woord "erets" en beteken die hele fisiese wêreld. Die "chay erets" is dus die lewende wesens van die aarde, en let wel, hulle is geskape "volgens hulle soorte". Dit verklaar die groot verskeidenheid van nie-wit of gekleurde rasse....Dit verklaar ook hoe die Rooihuide in Amerika gekom het, die Inkas in Suid-Amerika en die Maoris in New Zeeland. As hulle almal van Adam, via die toring van Babel gekom het moes hulle met skepe daarheen gegaan het baie eeue voordat Columbus en da Gama hulle ding gedoen het" (Von Moltke, 1984:3).
Hoe meer 'n mens die Wit Teologie se geskrifte lees, hoe groter word die teenstrydighede. Eers is daar gesê dat Satan die swartes geskape het (vgl. punt 3.1.2.2) - (L.W. Aan Satan, 'n gevalle engel, 'n skepsel van God, word skeppingsmag gegee!) Nou word weer gesê dat God die swartes geskape het - en wel as diere!. Hulle is beslis nie mense nie, want sê Von Moltke, na sy koddige gevolgtrekkings uit Gen. 1:24: "Kom ons lees nou Gen. 1:26. Hier word mense geskape. Adam beteken 'n wit mens - of rooierig - of om te kan bloos - of om bloed in die gesig te kan wys, en daarvoor moes sy vel wit gewees het" (Von Moltke, 1984:4).
Hoe dit ookal sy, hier kom die kern van die Wit Teologie se standpunt na vore: die blankes is vandag se Israel en die swartes is diere. Die belangrikste gevolg van hierdie standpunt is nou dat die Wit Teologie alles wat in die Bybel oor Israel gesê word, letterlik op die blankes toepas.
Vir die Wit Teologie is dit ook 'n uitgemaakte saak dat dat Israel tot die blanke ras behoort. Eksteen (1988:39) stel dit kort en saaklik: "Die Israeliete is witmense".
Die Wit Teologie gebruik hoofsaaklik drie tipes argumente om aan te toon dat Israel blank moet wees. Om hierdie argumente te kan verstaan, is dit belangrik om eers die aandag daarop te vestig dat die Wit Teologie se redenasies in die reël 'n spesifieke patroon - 'n kringloop - vertoon. Die redenasies begin eintlik in die onderbewussyn by die bekende eienskappe vandie blanke Westerling. Die vertrekpunt is met ander woorde wesenlik die eie bekende wêreld van die Wit Teologie. Hierdie bekende sake word dan oorweeg as die moontlike sake waarna die Bybel verwys. Omdat hierdie verbintenis "logies" lyk, word nou sonder meer aanvaar dat die Bybel nooit iets anders bedoel het nie as net hierdie bekende sake uit die hede. Die volgende stap is om te verklaar dat die Bybel self so sê. Hierdie "Bybelse" uitsprake word dan letterlik op alles in die hede toegepas. Daarmee is die kringloop voltooi.
So aanvaar die Wit Teologie dat daar tussen die blankes en Israel punte van ooreenstemming is. Die volgende stap is dat hulle so oortuig is van hulle afleiding, dat hulle nou sê: die Bybel self sê dat die blankes Israel is. Op grond daarvan word dan verskillende Bybelgedeeltes letterlik op die hedendaagse blanke Westerling oorgedra, asof die Bybel net van hulle en van niemand anders gepraat het nie.
In meer besonderhede loop die Wit Teologie se argumente soos volg:
In hierdie verband kan ook verwys word na die soort klank-eksegese wat Hayes doen: "Maar Hy (dit is Jesus) het ons geleer, dat die koring is oorspronklik en is tot aan die einde van die dae gemeng met onkruid, meer korrek, vals koring. Dit lyk soos koring (die swartes lyk ook soos mense), maar die vrug is swart en giftig. Die Griekse woord wat Christus gebruik het vir hierdie "onkruid" is zizania. Dit is die "Azanians people" van vandag. Daarom wil hulle die land se naam verander na Azanië. Hulle is reg. Afrika behoort aan die onkruid!! Lees dit in Mat. 13:24-30 en 36-41 en slaan dit na in die Grieks" (Hayes, s.a.(2) 1:9).
Om die minste hiervan te sê: dit getuig van uiterste onkunde. Die Griekse woord zizania dui op 'n parasitiese plant of onkruid (die Wes-Transvaalse boere ken dit) wat sy wortels om die wortels van die koring draai. Daarom sê ons Here Jesus in Mattheüs 13:29 in die gelykenis van die onkruid, dat die diensknegte van die heer nie die onkruid terwyl hulle groei al moet uithaal nie, want hulle kan dalk die koring daarmee saam uittrek, omdat die "zizania" sy wortels om die koring se wortels gedraai het. Hulle moet dit saam laat groei tot die oes toe, dan sal die maaiers die onkruid van die koring skei en dit verbrand (vers 30).
Al hierdie argumente word gevorm vanuit die ervaringsveld van die Wit Teologie met al sy vooroordele en selfbeskouings. Dit is belangrik om raak te sien hoe eensydig hierdie tegnieke is en hoe bevooroordeeld die Bybel so gelees kan word.
Die Wit Teologie leer dat slegs die blankes hulle naaste is. Volgens Neser (1984:7) kan 'n swartmens nie die naaste van 'n blanke wees nie, want sê hy: "Nou word daar baie keer vir ons gesê, hier is die swartes nou in ons land, hulle is ons naaste. Hulle is NIE ons naaste volgens die Skrif nie; hulle behoort nie eens aan ons ras nie. Hy behoort nie aan my nasie nie; hy is nie my "friend/companion" nie; " He is not the one near/close to me" (beklemtoning Neser)".
Swart (s.a.:42,45) sê in die verband dat die sinsnede "jy moet jou naaste liefhê soos jouself" soos volg gelees moet word: "Jy moet jou naaste soos jouself, liefhê". Hy stel dan verder: "Dit wil ook voorkom of hierdie teks in Hebreeus die betekenis het van: jy moet dié wat soos jy is, liefhê...dus, die kinders van jou volk is jou naaste".
Die Wit Teologie verklaar dan ook die gelykenis van die barmhartige Samaritaan in terme van bogenoemde. Die "sekere man" wat deur rowers oorval is en daar gelê het (Luk. 10:25-37), se nasionaliteit word nie vermeld nie. Volgens die Wit Teologie kon dit egter net 'n Samaritaan gewees het, want die man wat daar verby geloop het en aan die "sekere man" wat daar gelê het, barmhartigheid bewys het, was 'n Samaritaan. Dan word op grond van die veronderstelling dat net jou eie volksgenote jou naaste is, sonder meer aanvaar dat die man wat daar gelê het ook 'n Samaritaan was. Dus as Christus vra: "Wie van hierdie drie dink jy, was die naaste van hom wat die rowers oorval het", dan is dit volgens die Wit Teologie tog logies: Die Samaritaan was die ander Samaritaan wat deur die rowers oorval is, se naaste. "Hulle was dus nie aldrie sy naaste nie!...As die woord naaste in die verhaal van die barmhartige Samaritaan met volksgenoot vertaal sou word, sal daar geen twyfel of onduidelikheid wees nie (beklemtoning H. Swart)" (Swart, s.a.:45,46). En vir Hayes is daar geen onduidelikheid nie: "Volksgenote is mekaar se naaste en help mekaar, Israeliete help Israeliete, Samaritane help Samaritane, Zoeloes help Zoeloes en die Boere help die Boere. Soos dit nou is, moet die Boer almal help, terwyl almal probeer om hom te vernietig (Hayes, s.a.(1):263). Wat die Wit teologie hier doen is om die gelykenis van die barmhartige Samaritaan aan die hand van Levitikus 19:18 uit te lê. Daarvolgens sê die Here: "Jy mag nie wraak neem of 'n grief koester teenoor jou volksgenoot nie, jy moet jou naaste liefhê soos jouself". Die Wit Teologie beskryf dus tereg die beskouing van die naaste in die Ou Testament as die eie volksgenoot. Maar as Levitikus 19:18 die naaste as volksgenoot beskryf, is dit nog nie te sê dat die persoon wat deur die rowers aangeval is, 'n Samaritaan moet wees net omdat 'n Samaritaan aan hom barmhartigheid bewys het nie. Volgens die Wit Teologie was die barmhartige Samaritaan dus 'n naaste nog voordat hy enige hulp betoon het, omdat hulle volksgenote van mekaar was (Hayes, s.a.(1):263).
In hierdie redenasie van die Wit Teologie word drie foute gemaak. Eerstens, die gelykenis vermeld nie die nasionaliteit van die man wat deur die rowers aangeval is nie, en daarom kan nie sonder meer op grond van bogenoemde argumente aanvaar word dat dit 'n Samaritaan was nie. Tweedens, word dit veronderstel dat dit 'n Jood was (vgl. Greijdanus, Korte Verklaring der Heilige Schrift bl. 280) om daarmee juis die speerpunt van die gelykenis na vore te bring: die priester en Leviet - Jode- wou een van hulle eie mense nie help nie, maar die vreemdeling (Samaritaan) het hom gehelp. Daarop kon Christus die opdrag gee: "Gaan en doen jy net so" (Luk. 10:37). Die derde fout wat gemaak word is dat Levitikus 19:33 en 34 (weer net verder in dieselfde hoofstuk) geïgnoreer word: "Wanneer daar 'n vreemdeling by julle in julle land woon, mag julle hom nie onderdruk nie. Julle moet hom soos 'n medeburger behandel en hom liefhê soos julleself. Julle was immers self ook vreemdelinge in Egipte".
Die vraag is nie net: "wie is my naaste nie?", maar ook moet ons vra "vir wie kan ek 'n naaste word?" Naasteliefde beteken dus nie om liefde net aan bepaalde mense te betoon nie, maar om liefde as naaste te betoon. Die naasteliefde word ook bepaal deur God se liefde vir ons en ons wederliefde vir Hom (Mat. 22:34-40). Ons liefde vir ons naaste en vir onsself vloei voort uit ons verhouding tot God. God se liefde in Jesus Christus is universeel (Joh. 3:16). Daarom is naasteliefde ook universeel alhoewel dit nie die liefde vir die eie tot niet maak nie.
Die Wit Teologie openbaar 'n anti-houding teenoor alle ander nasies. Jesus word beskou as die Koning en Verlosser van sy volk Israel, die letterlike afstammelinge van Abraham, Isak en Jakob. "Jesus is nie die Koning van die Egiptenaars, Kusiete, Kanaäniete, Jafetiete, Zoeloes of Indiërs nie" (Hayes, s.a.(1):156). Daarom sê die Wit Teologie dat die ander nasies by hulle gode gelaat moet word. "Hulle doen nie sonde as hulle hierdie goed aanbid nie, God het dit aan hulle gegee!" (Hayes, s.a.(1):191).
Volgens Hayes is die Skrif ook net besig met Israelnasies. Wanneer die Skrif soms praat van volke, tale en nasies, dan lyk dit asof dit die hele wêreld insluit, maar die Skrif bedoel slegs die menigte Israelnasies wat uit Abraham sou ontstaan. So is slegs die blankes die kinders van Israel en die letterlike kinders van Jakob en die "Zoeloes is nie van Jakob se nageslag nie" (Hayes, s.a.(1):207).
Volgens die Wit Teologie is die Bybel alleenlik geskryf vir die blanke ras. "Dit is 'n geskiedenisboek van en vir die blanke ras. Ander rasse kom nie voor in die Bybel nie" (Anon, s.a.(2):5). Omdat die Wit Teologie oortuig is dat daar in die Skrif nie sprake is van van verbonde tussen God en ander nasies nie, word al die ander nasies verwerp en buite die onveranderlike raadsplan van God geplaas (Hayes, s.a.(1):224).
Die Wit Teologie is daarom, soos reeds aangedui, anti-swart. Dit word baie duidelik gestel dat as iemand nie wit gebore is nie, daardie persoon deel van 'n subras is. Die oortuiging word dan ook gestel dat "hoe donkerder die vel, hoe minder die geneigdheid tot Christelikheid, geregtigheid en regverdigheid" (Hayes, s.a.(1):65). Die wit vel word deur die Wit Teologie gesien as 'n gawe van God om hom te onderskei van die duisternis, dit is die swartman. Alleen as witmens is jy die beeld van God, omdat God net een mens gemaak het en dit 'n witmens was. Hayes gaan selfs so ver en maak die skreiende, lasterlike opmerking: "Die Here het gesê dat die mens gemaak is na sy beeld, en God het nie twee beelde, een wit en een swart nie!" (Hayes, s.a.(1):148).
Sommige voorstanders van die Wit Teologie, maak dan ook die swartmense in die skerpste taal af as diere. Daar word gesê dat telkens as die Bybel verwys na mens en dier, dan beteken dit dat die swartes onder die diere gegroepeer word. "Toe Noag die diere in die ark geneem het, het hy twee swartmense ook daar ingejaag. Dis hoe die swartmense die vloed oorleef het. Die Bybel onderskei mos tussen twee- en viervoetige diere". En verder: "Rassevermenging word verbied in die Bybel omdat God gemeenskap tussen mens en dier verbied. 'n Swartman en mense met "gekleurde" bloed kan daarom nie gered word nie...Daar sal wel swartes in die hemel wees soos wat daar honde en katte sal wees. Ons kan net nie sê watter diere en watter swartes is nie...SENDING EN EVANGELISASIEWERK ONDER DIE SWARTES IS DAAROM TYDMORS! Diere het tog nie die evangelie van Christus nodig nie!!" (Anon, s.a.(2):4,5). Die Wit Teologie is daarom ook anti-sending. Dit spreek eintlik vanself dat as die nasies en die swartman verwerp word, daar geen sprake kan wees van sending nie. Die gedagte by die Wit Teologie is dat slegs Israel die bevel kry om in Jesus Christus te glo. Daarom moet die Mohammedane, die swartes met hulle voorvaderlike geeste en al die ander nasies met rus gelaat word.
Die Wit Teologie stel dit nog sterker: "Om die beloftes wat aan Israel gemaak is vir die ander nasies aan te bied, is 'n gruwel voor God. God het hulle niks belowe nie. Hy is slegs met Israel besig" (Hayes, s.a.(1):180). Volgens die Wit Teologie is geen profete na die nasies gestuur nie. Selfs Christus het nie probeer om hulle te red of te bekeer nie. Daarom word die standpunt deur die Wit Teologie gestel: "Sendingwerk moet dringend gestaak word" (Hayes, s.a.(1):178).
Op grond van die Wit Teologie se mensbeskouing en al die klem wat dit in hulle denke ontvang, moet dit gestel word dat die Wit Teologie eerder 'n antropologie (leer oor die mens), as 'n teologie (leer oor God ) bring. Nog sterker gestel: die Wit Teologie verkondig uit 'n politieke oorweging 'n ideologie aangaande die blanke mens en nie 'n teologie nie. Want teologie is die leer aangaande God en nie aangaande mense nie. Met die behandeling van die Wit Teologie se uitverkiesings- en verlossingsleer in die volgende punt, sal bogenoemde stelling nog duideliker word.
Die essensie van die argument van die Wit Teologie is reeds na vore gebring naamlik dat die blankes van Suid-Afrika, as fisiese afstammelinge van Israel, God se uitverkore volk is en daarom die middel waardeur Hy Hom aan die wêreld gaan openbaar. Dit klink pragtig, want in die argument lê dan die gedagte opgesluit dat die blankes in Suid-Afrika behoue sal bly, want anders word God se openbaringsmedium vernietig. (L.w. 'n volk is nou openbaringsmedium, en nie meer alleen die Woord van God nie).
Die kernteks waarmee die Wit Teologie werk wanneer dit kom by die uitverkiesing is 1 Petrus 2:9: "Maar julle is 'n uitverkore geslag...", of soos die Wit Teologie dit vertaal: "Julle is 'n uitverkore ras" (Anon, s.a.(2):9). Die "julle" waarvan Petrus praat is dan volgens die Wit Teologie slegs die geslag van Israel. Steenkamp beweer dan dat die Skrif nêrens die gedagte ken dat mense uit die hele wêreld uitverkore is nie. "Dit is altyd 'n sekere volk of geslag en enkelinge binne hierdie volk of geslag...en dit is Israel!" (Steenkamp (G.J.), 1988:9).
Die afleiding word dan verder gemaak dat die blankes, of die Adamitiese ras of die Ariese ras ongetwyfeld die afstammelinge van die tien stamme van Israel is, en daarom is slegs hulle die uitverkore ras. Om dit te bewys kom die Wit Teologie met 'n enorme aantal Bybeltekste maar die tekste word gedwing om te buikspreek eerder as om te spreek. So word telkens vertel dat die Bybel 'n "verborge boodskap" sou hê, wat moedswillig deur die kerk en predikante verswyg word. Die verborge boodskap is dan die Wit Teologie se verhaal dat die verlore tien stamme vandag se blankes is en dat die Woord van God net vir hulle bedoel is. Daar word selfs gesê dat dit die taak van die "Israelvolke" is om hulle van ander volke af te skei, want hulle is 'n heilige volk. (Heilig dui op aparte volk.) Daar word ook 'n oproep gedoen om die kennis van die Woord van ander volke te weerhou, veral dié wat dan nie deel is van die "Adamitiese ras" nie, want alleen die "Adamitiese ras" is op verlossing geregtig (vgl. Pont, 1989:11).
In sommige van die Wit Teologie se geskrifte word "die blankes van Suid-Afrika gesien as die uitverkorenes, as die laaste hoop van die blanke ras. Daar word selfs gestel dat Tafelberg die plek is waar die Here Jesus Christus met sy wederkoms sy verskyning sal maak" (Pont, 1989:11).
So is almal wat die Wit Teologie aanhang, en by name veral Robert Hayes van Oos-Transvaal, ds. Gert Steenkamp van Kuruman ('n voormalige N.G.-predikant) en die Windhoekse studiegroep se uitgangspunt dat die Bybel ons eintlik, in sy diepste sin, iets wil vertel van die lotgevalle en die toekomsverwagtings van die verlore tien stamme (met of sonder Juda en Benjamin daarby), die enigste werklike uitverkorenes. Uitverkorenheid word hier bepaal deur afstamming en dit is beperk tot óf die Blankes, óf die Engels-Amerikaanse wêreld, óf net die blankes in Suid-Afrika, óf net die Afrikanervolk. Die vyande van die uitverkorenes word deur die Wit Teologie ook met sorg aangedui en dit is dan óf die Humaniste, die Liberaliste, die Sosialiste, die Kommuniste, die Jode, die groot geldmag, die kerke óf die predikante of sommer almal saam. "Die kwaadwilligheid, geslepe vyandigheid of kortsigtige domheid van die vyande van die uitverkorenes word met skerp woorde geteken" (Pont, 1989:11).
Die Wit Teologie stel die verbondenheid met Israel as 'n voorwaarde vir verlossing. Die hele Godsplan of raadsplan (waaroor reeds gehandel is, vgl. 3.1.2) wentel om Israel, die witman aan die suidpunt van Afrika. Daarom stel Hayes (s.a.(1):3) die volgende: "As jy nie 'n gebore Israeliet is nie, kan jy jou nie beroep op die beloftes wat God aan Israel gedoen het nie". Die evangelie is hiervolgens net bedoel vir die witman en vir niemand anders nie. Omdat die verlossing net vir die witman beskore is, is dit vanselfsprekend dat swaar klem gelê sal word op die suiwerheid van afkoms. "Jesus moet met die Wederkoms 'n suiwer oorblyfsel van die twaalf stamme kry, anders kan die Skrifte nie vervul word nie" (Hayes, s.a.(1):108).
Die geweldige klem op die suiwerheid van die bloed van die witman impliseer dat daar 'n stryd sal wees om beskerming van hierdie suiwer bloedlyn. Die stryd waarvoor die witman in Suid-Afrika te staan gekom het, is 'n stryd teen vermenging. "Dit word deur die Wit Teologie as 'n deel van Satan se plan gesien om die witman te laat verbaster. Met vermenging word egter nie net die vermenging tussen wit- en swartmense bedoel nie, maar veral die vermenging tussen Israel en die ander blanke nasies wat nie Israel is nie. Die stryd om suiwerheid kulmineer in die politieke stryd tussen links en regs, verkramp en verlig, wat 'n kwessie is van twee bloedstrome. Hierdie stryd teen vermenging loop dan uiteindelik uit op wat genoem word, die huisskoonmaakproses in Suid-Afrika. Dit word met klem gestel dat twee-derdes van die "vredeliewende" Afrikaners in hierdie stryd gaan sterf" (Naudé, 1989:20). Volgens die Wit Teologie is dit die enigste hoop vir 'n suiwer bloedlyn. Dit wat gebeur het in die Akorlaagte (Jos. 7) toe die hele Israel vir Akan en sy familie met klippe doodgegooi het, sal weer in hierdie stryd in Suid-Afrika gebeur. Ter wille van suiwerheid van bloed, sal diegene wat vermeng (dit is nou die linkses en die verligtes) in die hande van die volk oorgegee word. Die opmerking word dan ook deur Hayes (s.a.(1):149) gemaak dat soos Israel hulle volksgenote met klippe doodgegooi en verbrand het, die ANC dit vandag doen en dat God dit goedkeur.
Vanuit bogenoemde redenasies van die Wit Teologie is één ding baie duidelik: Alles draai om die uitverkiesing en uitverkiesing word as bloedverkiesing verstaan. Dit word dan as die evangelie beskryf: dat 'n mens hierdie uitverkore bloedlyn in jou are het!
Die konsekwensie van hierdie siening van die Wit Teologie oor die uitverkiesing skep 'n valse gerustheid aan die een kant en verslaentheid aan die ander kant. As iemand fisies nageslag van Israel en daarom uitverkore is, word net hy gered en dit is 'n toestand waaraan niks verander kan word nie. Dit gee valse versekerdheid (verbonds- of volksoutomatisme). Net so skep dit 'n verslaentheid en ongeloof by diegene wat (volgens die Wit Teologie) nie die uitverkore bloedlyn het nie, maar tog in God glo en Hom wil dien. Op hierdie wyse beskik God nie oor die uitverkiesing nie. "Dit word 'n menslike monster waardeur gelowiges vernietig word" (Naudé, 1989:22).
Die uitverkiesing wat die Skrif leer het allereers 'n genadekarakter wat die wonder van die uitverkiesing onderstreep. Uitverkiesing is genade en dit is genade om genade te ontvang. By die Wit Teologie vind ons 'n skeefgetrokke beskouing oor genade, want die "genade" word verdien deur diebloed in jou are. Uitverkiesing is onverdiende genade, anders sou dit geen genade kon wees nie. Daarom vind uitverkiesing nie plaas op grond van sekere spesiale kwaliteite van die mens nie - ook nie afstamming of suiwere bloedlyn nie! Uitverkiesing is en bly 'n vrye daad van God. Deur die uitverkiesing handel God in vryheid en in liefde. Hy sal Hom ontferm oor wie Hy Hom wil ontferm (Rom. 9:15). " 'n Mens word nie uitverkies vanweë sy bloedlyn nie, maar vanweë die bloed van Christus! (Naudé, 1989:24).
Oor die verlossingsleer van die Wit Teologie is reeds in die voorafgaande een en ander gesê. Ter wille van duidelikheid kortliks net die volgende: Vir die Wit Teologie is die versoeningsleer van minder belang as die verbondsleer. Hulle leer die volgende: Yahweh het net een verbond, 'n ewige verbond met Abraham en sy fisiese nageslag gesluit. Die Sinai-verbond was 'n herhaling van daardie ewige verbond. Toe Israel later van Yahweh afgedwaal het, het Hy hulle 'n "Skeibrief" gegee (vgl. Jes. 50:1; Jer.3:8). Vir die Wit Teologie lê Jesus Christus se betekenis daarin dat Hy met sy soendood die verbond met Abraham, of dan Israel, kom herstel het. Toe kon al die goddelike beloftes vir Israel in vervulling gaan. Christus se versoening geld dus net vir die fisiese nageslag van Israel, en vir niemand anders nie (Vgl. Straus, 1991:14). Jesus Christus (aan wie alle mag in hemel en op aarde gegee is) het net vir Israel kom verlos.
Hierdie verlossingsleer van die Wit Teologie is onaanvaarbaar en is nie gegrond op die Skrif nie, want die verlossing geld vir alle nasies (Hand. 10:43,35) en nie vir die "Israelnasies" soos die Wit Teologie wil lees nie (vgl. by Hayes, s.a.(1):206).Dit is egter nie verkeerd van die Wit Teologie om die verband tussen Ou en Nuwe Testament vas te hou nie, maar hulle oorbeklemtoon die Ou Testament ten koste van die Nuwe Testament. Soos die Wit Teologie die Skrif gebruik verklaar die Ou Testament die Nuwe Testament en nie omgekeerd nie.
Die gedagte van die fisiese, uitverkore volk in die Ou Testament, bly ook by die Wit Teologie die enigste gedagte in die Nuwe Testament, asof Handelinge 10 en Romeine 10 en 11 nooit geskryf is nie. Die lig van die Nuwe Testament word dus nie altyd deur die Wit Teologie bygebring nie. Daarom oorbeklemtoon hulle die eenheid van die ou en nuwe verbond ten koste van die onderskeid. Op dié manier word die nuutheid van die nuwe verbond totaal ontken.
Christus het egter gekom - so leer die Nuwe Testament - nie net om die ou verbond te herstel nie, maar om dit te vervul (d.w.s. "sy volle betekenis te laat kry" - Mat. 5:17). God se oorspronklike, allesomvattende bedoeling met sy verbond met Abraham ("in jou sal al die volke van die aarde geseën word" - Gen. 12:3) kom deur Jesus Christus nou ten volle aan die lig. Toe die Here vir Abraham geroep het, "het hy die belofte ontvang dat uit sy nageslag die Verlosser gebore sou word wat 'n seën vir die hele wêreld sou wees" (Malan, 1990:4). Buys (1989:18) sê ook in hierdie verband: "Dit was die Here se hele doel met die afsondering van die verbondsvolk in die Ou Testament: hulle moes slegs instrument wees om sy lig na al die nasies toe te bring. (Vgl. Gen. 12:3 en Jes. 49:6.)
Die verlossing in Jesus Christus word nie bereik deur bloedbande nie, maar is werklik wêreldwyd, sodat Paulus kan getuig dat almal wat aan Christus behoort (afgesien van ras, of gestand of geslag) "nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God is" (Gal. 3:29).Die Wit Teologie verwerp hierdie Bybelse getuienis deur klem te lê op die suiwer bloedlyn. As verwoording van hulle standpunt word gesê" "Mense behoort aan Christus omdat hulle die nageslag van Abraham is" (Hayes, s.a.(1):169) Hiermee word die woorde van Galasiërs 3:29 en die Bybelse boodskap omgedraai: "As julle aan Christus behoort is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename". Dit is dus volgens die Skrif eerder so dat elkeen die nageslag van Abraham en daarom die volk van God (fisies - mans, vroue en kinders) is as die geloof in Jesus Christus gehandhaaf word. Israel het dit juis nie gedoen nie; hulle het nie geglo nie, maar die heidene het wel die evangelie gehoor en dit geglo. Daarom ontvang die gelowiges uit die heidendom die genade van God (Hand. 28:28; Mat. 21:31). "Hiermee het God nie ontrou aan sy beloftes geword soos die Wit Teologie beweer nie. God is juis getrou aan sy beloftes deur goedheid te betoon aan diegene wat Hom eer" (Naudé, 1989:24). Die heidene is deel van God se volk gemaak om Israel jaloers te maak. Israel moet positief hierop reageer deur in Christus te glo. Hiervan getuig Paulus in Romeine 11:11-24. So word die heidene wat tot geloof gekom het 'n instrument in die hand van God. Paulus verduidelik dit met die beeld van 'n mak en wilde olyfboom in Romeine 11. Israel is die mak olyfboom waarop die takke van die wilde olyfboom, die heidene, ingeënt is. Sommige van die takke van die mak olyfboom is afgebreek vanweë Israel se ongeloof. In hulle plek word takke van die wilde olyfboom op die stam van die mak olyfboom ingeënt en dit geskied deur die geloof van die heidene. Hierdie boom met sy mak olyfboomtakke en wilde olyfboomtakke is die Israel van God, die Israel van die belofte.
Die Skrif leer dan dat die Israel van God, die volk van God, uit mense bestaan, mense uit Israel en uit die heidene. Hierdie `deel word' van die volk van God geskied langs die weg van die geloof in Jesus Christus alleen deur God se genade - dit geld vir die mak olyfboomtak en die wilde olyfboomtak, vir Israeliet en vir heiden. Met hierdie beeld word dit duidelik gestel: God het die grense van sy volk uitgebrei om ook die heidene te omvat! Daarom is ook Afrikaners, Jode, Swartmense, Indiërs, Chinese, Koriane, Russe, Engelse, Zoeloes, Xhosas, ensovoorts, wat in Jesus Christus glo, deel van Israel, die fisiese volk van God. Hierdie Israel is daar deur die geloofsbande met Jesus Christus en nie deur bloedbande nie! Dat God sy volk uitgebrei het om ook die heidene te omvat, word ook in ander gedeeltes van die Nuwe Testament bevestig soos Romeine 3:11-31 en 2 Korinthiërs 5:19.
Die gelowige blanke Afrikaner is dus deel van Israel omdat God gewil het om hom in sy volk Israel in te plant. As Romeine 11 gelees word, kan dit nie anders nie as om aan die Wit Teologie te sê: Wie is jy o mens, om God se genade net vir jou en jou volk op te eis.
As dit God behaag het om Israeliet én heiden in Christus in te plant en so deel te maak van sy volk op aarde wat deel is van sy koninkryk, kan en mag die Wit Teologie nie mense wat hulle beskou as sogenaamde nie-Israeliete, daardie voorreg ontsê om deel te wees van God se volk in Jesus Christus nie.
Die Wit Teologie sê in hulle geloofsbelydenis die volgende aangaande die Woord van God: "Ons bely die Bybel as die Heilige Gees geïnspireerde Woord van Yahweh ons Vader waardeur Hy Sy volle plan en heilshandeling aan ons, Sy volk, openbaar" (Anon. 1990a:4). Die Wit Teologie erken dus wel dat die Bybel die Woord van God is, maar op bladsy 10 van dieselfde geloofsbelydenis word die volgende stelling gemaak: "Ons moet die Bybel onbevange bestudeer en glo en uitvoer wat proefondervindelik ontdek word sonder om dit weer te wil bind aan tradisie, gewoonte, oorlewering en akademiese ge-yktheid. Dit moet egter voortdurend getoets word aan die getuienis van ons mede-broeders" (my beklemtoning). Dit blyk uit die Wit Teologie se geskrifte dat die boodskap wat "ontdek" moet word die sogenaamde Israelwaarheid is wat nou eers geopenbaar word. So maak Neser (s.a.(2):7) byvoorbeeld die volgende stelling: "Die EINDTYD is op ons, en dit wat vir geslagte verborge was, word nou ge-openbaar" (beklemtoning F.W.C. Neser). Die vraag kan dus met reg gestel word of die Wit Teologie werklik die Woord van God as 'n afgeslote kanon aanvaar.
Die Wit Teologie verkondig ook dat daar 'n "geheime sleutel" is om die Bybel te verstaan. Dit is 'n hermeneutiese aangeleentheid waaroor net kortliks gehandel sal word. By die uitleg van elke Bybelgedeelte moet onder andere rekening gehou word met die literatuursoort van die betrokke Bybelboek ('n mens lê 'n geslagsregister anders uit as 'n gedig, en 'n historiese boek anders as 'n versameling spreuke), die historiese situasie waarin dit ontstaan het, die groot verband van die betrokke Bybelboek en die verband met die Bybel as geheel.
Die Wit Teologie het egter 'n "geheime hermeneutiese sleutel" waarvolgens die Bybel gelees en uitgelê moet word en so word met 'n vooropgestelde idee na die Bybel gegaan en word die hele Bybel gelees deur die bril van hierdiegeheime sleutel. Neser dui hierdie hermeneutiese sleutel, wat gebruik moet word om ALLE Bybelse uitsprake oor die koninkryk te interpreteer, soos volg aan: "Die koninkryk van die hemele is God se koninkryk op aarde oor Israel met Jesus op die Troon van sy Vader Dawid. Hou dit altyd voor oë, en u sal nie 'n fout maak met die betekenisse en bedoelinge van hierdie gelykenisse nie" (Neser, s.a.(4):13).
Die Wit Teologie handhaaf dan die beskouing dat daar 'n openbaring van geheime plaasvind. Die geheim wat by die Wit Teologie geopenbaar word, is dat die blankes God se Israel is. Neser (s.a.(1):3) roep dit uit: "Die GROOT ONTHULLING wat daar vir ons Blanke Westerse Protestantse Beskawing wag, is dat ONS die VOLK van GOD is!" (Beklemtoning F.W.C. Neser). Aan die hand van Venter (1989:40-42) word die volgende beoordeling gegee: Daar is is met ander woorde 'n nuwe openbaring na die Bybelse openbaring. Wat in die Bybel staan is vir die Wit Teologie nie God se finale Woord nie. Iets is nog uitstaande wat eers nou moet bykom. Wat die Wit Teologie aanbied is 'n soort verbetering op die Bybel, 'n soort super-Bybel. 'n Mens wonder wat het hulle Bybel, wat die Bybel in die hande van ander mense nie reeds het nie. As daar by die Bybel iets moet bykom, waar gaan dit ophou en wat gaan verhoed dat daar nie nog openbarings en nogmaals openbarings moet bykom nie? Wat is dan op die ou einde die belangrikste: die Bybel, of hierdie verdere "openbaring" op die Bybel waarsonder die Bybel glo nie werklik verstaan kan word nie?
Vir die Wit Teologie is die kern van die saak nie die Bybel nie, maar hierdie "openbaring" wat eers moet bykom, en dit is natuurlik die "openbaring" van die identiteit van Israel. Die Bybel word maar net bygebring om hierdie "openbaring" te sanksioneer.
By die Wit Teologie is die Bybel dan nie openbaring van God aangaande God nie, maar is die Bybel verdere inligting oor die verborge identiteit van hierdie sogenaamde nageslag van Israel. Die selfgesentreerdheid rondom eie Westerse kultuur en blanke etnisiteit word deur die Wit Teologie tot die kern van die geopenbaarde "Godsplan" verhef. Jesus Christus is nou nie meer die sentrum en sentrale openbaring van die Bybel nie, maar die belangrikste in die Bybel is die "openbaring" van die identiteit van die blanke Israel. Die gebruik van 'n eskatologiese benadering en die invulling van die Israel-identiteit in die "openbaring" wat plaasvind, is 'n handige strategie om die kleed van Bybelse aansien om die Wit Teologie te hang, sonder om die wesenlike van die Bybel enigsins ter harte te neem.
Die Wit Teologie lê totale beslag op die Bybel. Volgens hulle is die korrekte identifisering van Israel die eksklusiewe sleutel waarmee die Bybel verstaan moet word. Hulle draai egter hierdie slagspreuk om en palm ook die omgekeerde vir hulleself in. Hulle sê dat die Bybel eweneens die alleen-besit van die blankes is wat aan " Israel" behoort. Die Bybel is net vir Israel en vir die Blankes van vandag bedoel, en vir geen ander groep dwarsdeur die geskiedenis nie. "Dit staan dus vas dat die Bybel, Ou en Nuwe Testament, bedoel is slegs vir Israel en vir geen ander volk onder die hemel nie" (Neser, s.a.:14). Die Skrif toon ook aan "dat God net besig was met Israel en dat Jesus slegs aan Israel belowe was" (Hayes, s.a.(1):138).
Die Wit Teologie sien hulleself dan as die eksklusiewe werkterrein van God. God werk net met hulle en met niemand anders nie. Selfs die wederkoms van Christus hang een honderd persent van hulle af, want as daar nie 'n suiwer oorblyfsel van Israel gaan wees nie, kan die wederkoms nie plaasvind nie. Die Wit Teologie wil daarom doodseker maak dat die wederkoms plaasvind deur te sorg dat Israel suiwer en blank bly. "Dit lyk asof God iewers in hulle verwaandheid die afhanklike geword het van die wit ras wat Hy geskep het" (Venter, 1989:42).
Die Bybel word in die laaste instansie beskou as 'n blote geskiedenisboek van die blanke Israel en nie as 'n Openbaringsboek waarin God Homself openbaar nie. In hierdie verband stel die Wit Teologie: "Die Bybel is alleenlik geskryf vir die blanke ras. Dit is 'n geskiedenisboek van en vir die blanke ras. Ander rasse kom nie voor in die Bybel nie" (Anon, s.a.(2):5). Die Wit Teologie sien dus net die horisontale geskiedenis van Israel raak en erken nie dat die Bybel primêr Openbaringsgeskiedenis is nie.
Daar is reeds melding gemaak van die feit dat die Wit Teologie die Bybeltekste as losstaande tekste uit die verband losruk en dan aanhaal as sou daardie vers dit sê wat hulle wil hê hy moet sê, en niks anders nie. Die Bybel is egter nie in los teksversies geskryf nie. Deur die Skrif op so 'n manier te gebruik, kan iemand byvoorbeeld maklik bewys dat selfmoord geregverdig is deur die volgende teksverse uit die Bybel aan te haal: "Judas het homself gaan ophang" (Mat. 27:5), "gaan en doen jy net so" (Luk. 10:37b).
So word die Skrif deur die Wit Teologie op 'n biblisistiese wyse misbruik en gerekonstrueer sodat die tekste buikspreek eerder as om te spreek. Ook klankeksegese (soos dit op die oor val) word mildelik gedoen. Daar is reeds melding gemaak van die woord "saxon" wat sou dui op "Isaac-sons" (vgl. 2.1) en die Griekse woord "zizania" (parasitiese onkruid) wat sou dui op die "Azanians People" van vandag (vgl. 3.2.1.3). 'n Ander interessante voorbeeld waarop Van der Westhuizen (1989:71) dui is die volgende: Daar word dan ook deur die Wit Teologie beweer "dat alle sendingwerk buite Israel met geestelike hoerery in verband gebring moet word". Hierdie stelling word gesubstansieer met Jesaja 57:7: "Op die hoë berge het jy 'n plek ingerig vir jou onsedelikheid en daarheen opgeklim om offers te bring". Dat hierdie woorde totaal verwring word, is duidelik uit die volgende uitleg wat daaraan gegee word: "Die sendingaksies binne die Babiloniese stelsel, word mos deur die kerke hoog aangeslaan en baie offers is daarvoor gebring". Die onderstreping is gedoen om die ongelooflike "klankeksegese" uit te wys.
'n Ander handige meganisme wat die Wit Teologie gebruik is om elke keer die woordjie net te gebruik om sodoende alle ander moontlikhede uit te skakel. Let byvoorbeeld op hoe alle ander moontlike toepassings in die volgende opmerking summier uitgeskakel word: "Beide Sefanja en Jesaja het voorspel dat God se volk aan die einde van die dae in die onderkant van die Zambesie sal wees. Hulle kan net Suid-Afrika in gedagte gehad het" (Hayes, s.a.(1):voorwoord). In die gebied onderkant die Zambesie is nog baie ander lande en volke - dit is 'n kolossale oppervlakte. Vanweë die ingenomenheid met sy eie volk en sy eie belang, word die ander lande vir geen enkele oomblik eers as 'n moontlikheid oorweeg nie. "Vanweë hierdie tipe Skrifgebruik word deur assosiasie, identifisering en letterlike toepassing uitgekom by die punt waarop die skrywer in elk geval vooraf reeds besluit het" (Venter, 1989:53).
Om die onsinnigheid van die inhoud van Hayes se uitspraak te illustreer kan die volgende vermeld word: Die Amerikaner, Armstrong, is oortuig dat die Britse Eilande en die vasteland van Noord-Amerika die plek is waarheen die Bybel verwys. Die propageerders van die Wit Teologie wat in Suid-Afrika woon, is net so oortuig dat die Bybel Suid-Afrika as die woonplek van die tien stamme aandui. 'n Japannees sou seker met net soveel behendigheid kon aandui dat die Bybel na die eilande van Japan verwys as die plek waar die verstrooide stamme vandag is.
Vir die Wit Teologie is die hede ook die belangrikste. Die Bybel het volgens hulle niks te sê vir enige iemand anders wat in enige ander tyd of op 'n ander plek geleef het nie. Dit is net die mense wat aan " Israel" behoort, waarop die Bybel betrekking het. So word gedeeltes uit die Ou Testament soos Jesaja 8:1-7; Esegiël 20:46-48 en hoofstukke 37-39 (die sg. Russiese hoofstukke van Esegiël); Sagaria 10: 1-7 en 12:6; Jeremia 24 en dan veral Sefanja 3:10 baie dikwels in die geskrifte van die Wit Teologie gebruik. Die gedeeltes is baie gewild onder die Wit Teologie omdat hulle maklik as sogenaamde onvervulde "profesieë" gelees kan word wat direk op vandag betrekking het. So dui Jesaja 18:1 se vlerkgegons byvoorbeeld op krygsgedruis in Suid-Afrika; die riviere van Kus is die Zambesie, Cuando, Okavango, Kunene; en die boodskappers van Jesaja 18:2 is die swart terroristeleiers. Hayes (s.a.(1):228) oorweeg ook geen ander moontlikheid nie as net dat "die eerste vers van Jesaja 5 begin met die planting van ons volk in 1652. Die laaste vers eindig waar die Derde Wêreldoorlog in sy volheid woed".
So pleeg die Wit Teologie inlegkunde vanweë die siening dat die Bybel grotendeels oor vandag gaan. Die idees en verbeeldings van die Wit Teologie van vandag word ingelees in die woorde van die Bybel. Dit word by die Wit Teologie 'n metode om hulle eie opinie te klee in die woorde en die gesag van die Bybel, sonder om dit wat die Bybel werklik sê, aan die Woord te stel. Dit is ook gevaarlik om enige soort inlegkunde te pleeg. So byvoorbeeld lees die Wit Teologie in die Bybel in dat slegs blankes gered word. 'n Mens sou nou kon vra: Sou dit nou voor die voet alle blankes insluit, selfs die Rooms-Katolieke, Grieke en Italianers wat ook onder die blankes woon?
Om die eienaardige manier van Skrifuitleg (eksegese) by die Wit Teologie te illustreer, word die "eksegese" van Steenkamp (1989c:7) aangaande die man van Ethiopië (Hand. 8:27) kortliks weergegee: "So graag wil die liberale teologie tog beweer dat die man 'n swarte uit Afrika was...Die man van Ethiopië, wat nou in die nuwe Afrikaanse Bybel die Ethiopiër genoem word, kan ook niemand anders wees as 'n verstrooide Israeliet nie.
Redes:
Omdat die Wit Teologie aanhou om te probeer om die blankes van vandag in die sentrum van die Skrif te stel, bring dit by hulle 'n bepaalde Skrifbeskouing en Skrifhantering te weeg. Die Bybel word deur die Wit Teologie oorwegend as 'n boek van voorspellings gesien. So word die eie literatuursoorte van die Bybel nie in gedagte gehou nie, en word alles as letterlike voorspellings gelees.
Die aanhangers van die Wit Teologie noem die voorspellings wat hulle in die Bybel indra "profesie". Volgens hulle bestaan een derde van die Bybel uit sulke "profesieë", en dit vorm vir hulle die wesenlike van die Skrif. 'n Ander gedeelte wat nou nie "profesie" is nie kan net sowel deur die Wit Teologie weggelaat word. Een rede hiervoor spruit uit hulle biblisistiese vergissing dat Jesaja die oudste profeet is, omdat die boek Jesaja in die Bybel die eerste geplaas is van al die profetiese boeke. Jesaja sou as eerste profeet dan reeds in sy eerste hoofstuk (Jes. 1:11,13) die brandoffers en al die voorafgaande gedeeltes in die Ou Testament ter syde gestel het (vgl. Venter, 1989:49). 'n Ander rede hoekom die res buite rekening gelaat kan word en net die toekomstige profesieë in ag geneem hoef te word, is omdat die Wit Teologie net geïnteresseerd is in dit wat hulle direk raak. Net die profesieë het op hulle betrekking en dit is al wat belangrik is. Indien die profesieë nie letterlik op hulle toegepas kan word nie, as hulle met ander woorde nie een of ander verband in die literatuur met hulle eie tyd kan vind nie, word dit gerieflikheidshalwe buite rekening gelaat. Die "voorspellings" in die Bybel het volgens die Wit Teologie ook net een moontlike toepassing en slegs verklarings wat in lyn is met hulle eie uitgangspunte word aangebied. So word telkens profetiese voorspellings raakgelees, wat dan sou "bewys" dat die Bybel waar is. (Wit Teologie het dan ook 'n pamflet uitgegee getiteld: Die Bybel is waar! waarin die "profesieë" wat vervul is daarop sou dui dat die Bybel waar is). So verwys Joël 2:5 en Habakuk 1:8,9 volgens die Wit Teologie na vliegtuie; Joël 2:30 na die atoombom wat in Japan gegooi is; Esegiël 38:2 se Ros is Rusland en Meseg in dieselfde vers het ontwikkel in Moskou (Neser, 1976:4); Sagaria 14:2 dui op die effek of nagevolge van die atoombomontploffings by Hirosjima en Nagasaki in 1945 en Nehemia 2:4 se strydwaens "is niks anders nie as motorvoertuie wat die eerste keer in 1914-18 vir oorlogvoering gebruik is" (Eksteen, 1988:13). Die geopende boekie in Openbaring 10:1,23 dui op die groot hervorming of Reformasie as sou Openbaring die Reformasie voorspel het. "Hierdie geopende "boekie" is 'n openbaring van die geopende Bybel wat gedurende dié tyd weer 'n oop Boek geword het" (Neser, s.a.(3):120,121).
Die Derde Wêreldoorlog word volgens die Wit Teologie letterlik voorspel in Esegiël 38 en 39, Joël 3, Sefanja 1:14-18 en Sagaria 14:1-13. Iemand uit die vorige eeue sou seker alles toegepas het op die Eerste of Tweede Wêreldoorlog. So sê die Bybel vir elke mens iets anders. Daar moet eerder gevra word wat die Bybelskrywer in sy tyd met 'n bepaalde uitspraak bedoel het en hoe daardie bedoeling deur die eeue heen verstaan is en ook op ons tyd betrekking het.
Die Wit Teologie luister egter nie noukeurig na wat die Bybel ons oor God sê nie, maar verbeel hulle dat die Bybel sekere dinge sê. Die Bybel is egter nie in sulke verborge taal geskryf nie, maar is duidelik want selfs 'n kind kan deur die lees van die Bybel die weg tot saligheid verstaan en dit glo.
Die Wit Teologie is geheel en al teen die kerk van Christus. Die kerk, die "ekklesia" of uitgeroepenes waarvan die Nuwe Testament spreek, is die volk, die "am Yahweh", die ware Israel van God. Die beeld in Romeine 11 waarop reeds ingegaan is (vgl. 3.3.3) en nie nou hier bespreek sal word nie, dui op die ware Israel wat al meer nuwe Israel word deur die geloofsbande met Jesus Christus. Die kerk is Israel, die nageslag of kinders van Abraham wat God uitverkies het. Die kerk is Israel na die belofte ( Rom. 9:8). Die kerk van Christus, wat die volk of die ware Israel van God is en wat gelowiges uit alle nasies insluit, word deur die Wit Teologie beskou as 'n verdraaiing van die Skrif.
Die gereddes bestaan nie uit alle nasies wat deur die kerk verteenwoordig word nie, maar slegs uit die volk Israel (Hayes, s.a.(1):131). Daarom stel die Wit Teologie 'n keuse: óf 'n mens behoort aan die Here óf aan die kerk. Die Wit Teologie spoor inderdaad Gereformeerde lidmate aan om op te hou om hulle offergawes te gee en om die kerk te verlaat. Lidmate word aangespoor om te "vlug vir hulle lewe" en by die Wit Teologie aan te sluit (Hayes, s.a.(1):200).
Die Wit Teologie is nie net teen die kerk nie, maar die predikante word skerp aangeval, want hulle is die mense wat die Woord verdraai en die dwaalleer verkondig. Die predikante word selfs daarvan verdink dat hulle die waarheid van die gelowiges weerhou en dat hulle die Bybel vervals het. Hiervan is die 1983-vertaling volgens Wit Teologie by uitstek 'n bewys. Steenkamp (G.J.), (1988:1) sê in die verband die volgende: "Die kerk (Gereformeerde belydenis) en die vertalers en oorskrywers kan nie vertrou word om onbevange van die politiek van die betrokke vertalers se tydspan die waarheid deur te vertaal nie".
Die groot "waarheid" van die Bybel volgens die Wit Teologie is die letterlike blanke identiteit van Israel. Dit is die "goeie nuus", wat, behalwe dat dit die enigste evangelie in die Bybel is, dit ook die enigste evangelie is wat hoop en verlossing aan ons volk verkondig" (Hayes, s.a.(1):83). Omdat die predikante van die kerk nie hierdie identiteit van die "Wit Volk" ken nie en die "leuen" verkoop dat almal afkomstig is van die een stamvader, Adam, word die kerk as opposisie beskou. Hulle neem daarom ook 'n aggressiewe houding in teenoor enigeen wat van hulle verskil, en veral teen die ampte.
Die aard van die Wit Teologie se argument is dat húlle die waarheid het en ook net húlle is die enigste norm vir die waarheid, en almal wat nie saamstem nie, is aan die kant van die leuen. Dit blyk uit die volgende verskillende aanklagte wat gemaak word. Die predikers sou die waarheid van die werklike identiteit van die volk van hulle weerhou en verkondig daarom die leuen. Beide die Protestantisme en die Roomse Kerk sou die dwaling huldig van 'n geestelike Israel en 'n geestelike koninkryk. Hulle vervreem die identiteit van die Godsvolk deur die onbybelse stelling dat almal, ongeag ras of kleur, lid van die kerk kan word. Daarom werk "feitlik alle Christelike kerke (onbewustelik) saam aan die uitwissing of verbastering van die Godsvolk deur die Satan (Studiegroep Aktueel, s.a. Esau versus Jakob soos aangehaal deur Venter, 1989:55).
Hier kom dit baie duidelik na vore dat die Wit Teologie die koninkryk van Jesus Christus en die uitbreiding daarvan wil teëhou en daarteen werk, deurdat hulle die verkondiging van die evangelie deur die predikante teëwerk. Die Wit Teologie hoort daarom tot 'n sekte min of meer in die klas van die Mormone en die Jehova-getuies.
Wat die Wit Teologie se leer oor die Nagmaal betref kan net kortliks vermeld word dat die Nagmaalstafel "oop" is in die sin dat ook die kinders Nagmaal mag gebruik, en nie net die lidmate wat belydenis van hulle geloof gedoen het nie. In die Wit Teologie se geloofsbelydenis word die volgende gestel met betrekking tot die Nagmaal: "Daar is vryheid van frekwensie van Nagmaal gebruik. Die kinders is ingesluit sonder ouderdomsbeperking. Ongesuurde brode sal gebruik word" (Anon, 1990a:5).
Wat die Wit Teologie se leer oor die doop betref, kortliks die volgende: Die Wit Teologie verwerp die kinderdoop, soos wat dit die geval is by die meeste sektes. In hulle geloofsbelydenis stel hulle dit as volg: "Die doop kan slegs bedien word aan persone wat tot eie vrye oortuiging daartoe kom en is geen lidmaatvereiste nie...Dit word gedoen in die Heilige Naam deur eenmalige onderdompeling (Anon, 1990a:4).
Steenkamp (1989b:1) stel in hierdie verband dat "die doop nie in die plek van die besnydenis gekom het nie en dat dit geen teken van die "nuwe" verbond is nie". Met een van my persoonlike onderhoude met 'n voorstander van die Wit Teologie, is aan my vermeld dat sommige van die lede van die Wit Teologie dit oorweeg om die besnydenis terug te bring.
Die Wit Teologie verwerp ook die erfsonde. Die heilige geslag, die aparte volk se kinders is verbondskinders en die Heilige Gees is hulle deel. Hierdie siening van die Wit Teologie is korrek, maar dit verseker nie die saligheid nie. By die Wit Teologie word daar 'n soort verbondsoutomatisme aangetref. Volgens die Wit Teologie is die Afrikanerkind outomaties in die verbond en daarom sal hy gered word. Die woorde in die Gereformeerde doopsformulier, "ons en ons kinders is in sonde ontvang en gebore en is daarom kinders van die toorn, sodat ons nie in die ryk van God kan kom nie, tensy ons weergebore word", word deur die Wit Teologie verwerp as "die dwaling van Rome, van die hoer van Babilon" (Steenkamp, 1989b:10).
Ten slotte sê die Wit Teologie in hulle geloofsbelydenis: "Ons verwerp die Gereformeerde belydenis omdat dit in totaal nie op die Skrif gefundeer is nie, so ook teologiese dogma" (Anon, 1990a:1).
Die Gereformeerde belydenis word verwerp as 'n "belaglike kompas" (Steenkamp, 1990:1) om die rigting in die Bybel te vind.
Om saam te vat kan in kort gestel word dat die Wit Teologie 'n teologie van haat verkondig, omdat hulle beweer dat die swarte nie jou naaste is nie en jy hom nie kan liefhê nie. Luister maar na die volgende uitspraak: "Deurdat ek vir 'n rondloper hond kos gee, maak nie van die hond my naaste nie. Dieselfde geld vir die swartman (Anon, 1990b:2).Die Wit Teologie probeer ook baie hard om te bewys dat hulle Israel van die Bybel is. Hulle wil graag fisies deel wees van Israel, maar wat die Wit Teologie vergeet is dat Israel onder die oordeel van God staan en daarom is Israel weggevoer in ballingskap en het God hulle verstrooi. Daarom bring dit jou onder die oordeel van God as jy probeer bewys dat jy 'n Israeliet is - dit bring jou in diskrediet en dit tel nie juis in jou guns nie.
Uit hierdie studie blyk dit dat die Wit Teologie se boodskap in die breë gesien, nie die Bybelse boodskap is nie. Die "Israelwaarheid" is hulle boodskap, weliswaar met Bybeltekste versier, wat die aandag aftrek van die sentrale boodskap van die Bybel, naamlik Jesus Christus, die gekruisigde en opgestane Here. Die Wit Teologie maak meer van ydele teorieë gebruik as die vanselfsprekende boodskap van die Bybel wat baie helder en duidelik is en nog altyd deur volk van God gehoor, geglo en bely is.
'n Mens word deur die Here vrygespreek omdat hy glo, en nie omdat hy die wet onderhou nie. Ook die wet van die biologiese afstamming behou ons nie in die koninkryk van God nie - en sluit ons ook nie daarvan uit nie. Of is God net God van die Jode, die Israeliete en die blankes en nie ook van die ander heidense nasies nie? Paulus antwoord hierop: "Ja, ook van die heidennasies, want daar is net een God" (Rom. 3:28,29). "Die Godsvolk is nie Godsvolk (Edms) Bpk nie, maar so wyd soos God se genade" (Van der Westhuizen, 1989:1). Die plek van alle nasies in die wêreldgeskiedenis is om God te dien in die tyd en plek waar hulle geroep is om voor God te lewe. Hulle hoogste roeping is om dienaars van God te wees. Die geluk en die saligheid van elke individu, rassegroep, volk en nasie wat in God sal glo, lê tog immers daarin dat uiteindelik elke knie voor God sal buig en elke tong sal bely dat Hy die Here is (Jes. 45:23; Rom. 14:11).Die Wit Teologie staan in die laaste instansie in 'n direkte konfrontasie met die heilige algemene Christelike kerk. Hulle verkondig 'n gruwelike dwaling, omdat "die God van die Bybel in hulle skema 'n eksklusiewe Witgod gaan word het wat sy rug op die skepping gaan draai het en die mensdom aan sy lot oorlaat met uitsondering van die blankes. Hierdie god is 'n etniese afgod en nie die God van die Bybel wat in sy skepping verheerlik wil word nie" (Venter, 1989:45).
Wat staan die kerk van die Here Jesus Christus te doen?
Soos teenoor alle dwaalleraars, moet die aanhangers en simpatiseerders van hierdie rigting liefdevol, maar ernstig vermaan word om hulle dwaling te laat vaar - ter wille van God se eer en hulle eie heil. Teenoor alle vervalsing van die evangelie van Jesus Christus, sal die gesonde leer van die Skrif gestel moet word. "Dit (alleen) kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Jesus Christus" (2 Tim. 3:15).
'n Gesprek met hierdie mense is moeilik. In plaas van eindelose twisvrae sal daar na die kern van die evangelie - die redding uit genade alleen deur die geloof in Jesus Christus - teruggekeer moet word.
©2006 GKSA. | |
Navrae: | Outeur: Ds GJ Kruger |
Webmeester |
Hierdie is die webblad van Dr Hennie van Wyk. Standpunte op hierdie blad is sy eie of die van outeurs wie se werk geplaas word, in watter geval die standpunte die van die genoemde outeur is.