SS Plus

Ekonomiese herstel/heropbou van agtergeblewe gemeenskappe.
Opgestel deur: Ds RP van Wyk (Grassy Park)

Doelstelling

Probleme

Afleidings

Moontlike oplossings

Kapitale inspuiting in agtergeblewe gemeenskappe

Agtergrond

Beredenering

Implementering

Persoonlike likiditeit

Befondsing

Identifisering van groepe

Implementering

Doelstelling

Die intensie van die Suid Afrikaanse regering is om die voorheen benadeelde en agtergeblewe gemeenskappe ekonomies te bemagtig, en om aan alle gemeenskappe van Suid Afrika gelyke geleenthede te verseker.

Beredenering : Gelyke geleenthede kan nie realiseer sonder daadwerklike pogings van die regering om agtergeblewe gemeenskappe te bemagtig om sodoende op gelyke voet met bevoordeelde gemeenskappe mee te ding nie.

Aksies : Die regering het verskeie programme geloods en wetgewing afgekondig soos:

Heropbou- en ontwikkelings-program (HOP)

Grondrestitusie

Toekenning van staatskontrakte aan swartbemagtigingsmaatskappye

Nuwe arbeidswetgewing

Probleme

Die President het tydens een van sy toesprake, sy teleurstelling uitgespreek oor die feit dat ten spyte van die pogings van die regering, die getal swartbemagtigingsmaatskappye sedert 1994 afgeneem het.

Die grootste deel van die agtergeblewe gemeenskappe is steeds in armoede gedompel. Die probleem word ook steeds groter vanweë geweldige eskalasie van voedsel- en huispryse.

Werkloosheid neem steeds toe vanweë die feit dat daar nie voorsien kan word aan die groter wordende vraag na werk soos wat studente die arbeidsmark betree nie. Verder verloor groot getalle mense hulle werk sonder dat daar alternatiewe werk vir hulle is.

Ter wille van oorlewing word mense uitgebuit deur sindikate en bendes en raak hulle betrokke by onwettige bedrywighede wat in baie gevalle met geweld gepaard gaan. Dit veroorsaak dat daar steeds ‘n groot groep mense is wat slagoffers van kriminaliteit is.

Daar bestaan persepsies wat die heropbou van die land ernstig belemmer. Hierdie persepsies is die volgende:

Daar is verset teen privatisering omdat dit net meer rykdom in die hande van voorheen bevoordeeldes plaas. Omdat wins hier die motief is, sal meer mense hulle werk verloor.

Die voorheen bevoordeeldes wil die ekonomiese mag steeds in hulle hande behou. Met behulp van buitelandse persepsie wat geskep word, keer dit dat hulle gedwing kan word om die ekonomie met die meerderheid inwoners van die land te deel.

Jong Afrikaners voel dat hulle gepenaliseer word vir ‘n bestel waarvoor hulle nie verantwoordelik was nie, selfs al het hulle voordeel daaruit getrek. Juis daarom gaan soek hulle ‘n heenkome in die buiteland, terwyl waardevolle investering in dié jongmense vir die land só verlore gaan.

Swart professionele persone op wie die hoop geplaas word om as entrepreneurs op te tree, aanvaar eerder aantreklike poste in maatskappye van bevoordeelde groepe, om so hulleself van ‘n goeie aftrede te verseker of om te kan bekostig om hulle kinders beter te laat oplei, sodat hulle op ‘n gelyke vlak met ander kan meeding.

Afleidings

Politieke bevryding kan nie ekonomiese bevryding waarborg nie, en ekonomiese revolusie kom sterk in mense se gesprekke voor.

Daar is reeds ‘n groot mate van ongeduld by voorheen benadeelde groepe wat met reg die vraag vra: Hoekom moet hulle na al die jare van verdrukking steeds geduldig swaarkry, terwyl die bevoordeeldes steeds die voordele van die land geniet?

Daar is geen manier waarop geweld effektief aangespreek kan word alvorens die probleem van armoede nie effektief aangespreek word nie.

‘n Groot deel van die probleem kom op die terrein van plaaslike owerhede voor, maar dit sal nie opgelos kan word sonder die nodige visie van plaaslike owerhede nie.

Die regering moet met nie-regeringorganisasies (met ‘n bewese betrokkenheid by die gemeenskap) vennootskappe vorm om die doelstellings van die regering te verwesentlik.

Moontlike oplossings

Kapitale inspuiting in agtergeblewe gemeenskappe

Agtergrond

Hierdie gemeenskappe was vantevore nie toegelaat om enige besighede in hulle gebiede te hê nie. Mense van die gemeenskappe was vervoer na “blanke areas”, waar hulle gewerk het en ook hulle verdienste spandeer het. Kapitaal het sodoende in die hande van hulle eienaars gebly, terwyl bloot produkte in die agtergeblewe gemeenskappe ingekom het.

Behalwe vir ‘n paar winkeleienaars, het die situasie nog nie verander nie en in groter gebiede soos byvoorbeeld Mitchell’s Plain (met ongeveer 750 000 inwoners), is daar geen noemenswaardige besighede wat hierdie gebied volhoubaar kan bedien nie.

Beredenering

Investering in hierdie gebiede is van die uiterste belang om so hierdie gemeenskappe in staat te stel om hulleself te help.

Werksgeleenthede in hierdie gebiede sal die ekonomie (juis vir hierdie gebiede) stimuleer, deurdat mense van die area hulle eie kapitaal daarin kan terugploeg.

Minder vervoerkoste plaas meer kontant in die hande van die huishoudings.

Hoe meer kontant en kapitaal in hierdie gebiede spandeer kan word, hoe meer nuwe geleenthede kan geskep word vir besighede en werksgeleenthede.

Implementering

Die regering bepaal die beleid waarin die besighede beloon word om besighede in agtergeblewe gemeenskappe te vestig. Dit sluit in belastingkortings, meer bekostigbare besigheidspersele en so meer.

Gemeenskappe ontvang mede-eienaarskap deur ‘n persentasie van die besighede (byvoorbeeld ongeveer 30%), aan mense van die gebied te verkoop. Hierdie aandeel kan byvoorbeeld deur die regering gesubsidieer word.

Gemeenskappe word toegerus om gebiede skoon te maak, met die vooruitsig dat daar werksgeleenthede geskep kan word.

Mense in geweldgeteisterde gebiede pas in elk geval tans bestaande besighede op, maar nou kan daar ‘n persoonlike belang by wees.

Persoonlike likiditeit

Befondsing

‘n Organisasie in Nederland wat fokus op ekonomiese bemagtiging gaan van die standpunt uit dat mense ekonomies bemagtig word deur hulle persoonlike likiditeit te verhoog. Die aspek waarop hulle konsentreer is om mense te bemagtig om eiendom te bekom. Hulle is bereid om mense te befonds indien die regerings grond voorsien wat die eiendom word van die mense wie hulle befonds.

Identifisering van groepe

Daar bestaan drie groepe vir die behuisingsmark:

diegene wat kwalifiseer vir ‘n lening by die bank;

diegene van ‘n sekere inkomste kategorie wat kwalifiseer vir HOP-huise;

diegene wat nie vir HOP-huise kwalifiseer en ook nie vir ‘n lening by die bank nie. Laasgenoemde groep woon in die buitegeboue van huiseienaars en betaal huur wat wissel tussen R800 en R1 500. Dit is dié groep waarvoor nie voorsiening gemaak word nie.

Implementering

Munisipaliteite allokeer grond vir hierdie spesifieke inkomstegroep.

Oorbruggingskapitaal word van oorsese organisasies verkry, wat bestuur word deur ‘n organisasie van hulle eie keuse en in oorleg met die regering.

Hierdie mense organiseer hulleself in forums wat verantwoordelik kan wees vir:

‘n selfbouskema wat die tipe huise bou wat hulle verlang;

‘n terugbetalingskema wat aanpas by die huur wat die mense tans betaal;

‘n gemeenskapsbouprogram wat die gehalte van hulle gemeenskap verseker.

Hierdie is die webblad van Dr Hennie van Wyk. Standpunte op hierdie blad is sy eie of die van outeurs wie se werk geplaas word, in watter geval die standpunte die van die genoemde outeur is.