Wanneer jy oor jou naaste skryf, mag dit nie anders gebeur nie as onder die diepe besef van die negende gebod wat volgens die verklaring van die Heidelbergse Kategismus (v/a 112) leer dat “ek die waarheid moet liefhê”.
Daar word algemeen aanvaar dat alhoewel William Miller (1782-1849) nooit self by die Sewendedag Adventiste aangesluit het nie, hierdie godsdiensgroep sy wortels in Miller se profesieë vind. Alhoewel Miller as ’n Christen grootgeword het, was daar ’n tyd dat hy as skeptikus die Bybel as openbaring verwerp het. In 1816 raak hy egter bekeer van sy skeptisisme waarop hy vir die volgende twee jaar intensiewe Bybelstudie doen.
Die gevolg van hierdie Bybelstudie was dat Miller tot die konklusie kom dat die wederkoms in 1843 sal plaasvind. Maar die uitbly van die wederkoms het tot heelwat teleurstelling onder sy volgelinge gelei. Saam met een van sy volgelinge (SS Snow) werk hy toe ’n nuwe datum uit, naamlik 22 Oktober 1844, maar ook dit blyk toe ’n foutiewe berekening te wees. Dit staan vandag nog in hulle geskrifte bekend as die “Groot teleurstelling” (vgl. Hiervandaan tot in die ewigheid, p. 143-159).
Dit is duidelik dat die gedagte dat die datum van die wederkoms bereken kan word, ’n sterk gevestigde godsdienstige motief by die Sewendedag Adventiste begin word het.
Hiram Edson – Edson, een van Miller se volgelinge wat ook met verwagting die wederkoms van Christus op 22 Oktober 1844 afgewag het, probeer om die fout van Miller te herstel deur ’n openbaring wat hy sou ontvang het die oggend na die verwagte datum.
Volgens Edson (se openbaring) was daar in die hemel ’n heiligdom wat met die Ou-Testamentiese heiligdom ooreengestem het. Op 22 Oktober 1844 het Christus volgens die openbaring van die heilige plek na die allerheiligste plek beweeg (en dus nie aarde toe gekom nie). Tydens die bediening in die heilige plek van die hemelse heiligdom (hemelvaart tot 1844) was Christus se werk die vergewing van sondes, en na 22 Oktober 1844 in die allerheiligste was dit die ondersoekende oordeel (of uitwissing van sonde).
Dit het vir die Adventiste baie beteken om ’n antwoord op die “Groot teleurstelling” te vind (vgl. Hiervandaan tot in die ewigheid, p. 185-191).
Joseph Bates – ’n Ander prominente figuur in die Adventistebeweging was Joseph Bates. Reeds vanaf 1839 is hy ’n aktiewe persoon in die beweging. In 1845 kom Bates sterk onder die indruk dat die Sabbat (op Saterdag en nie Sondag nie) deur die Christene gehou moet word nadat hy ’n artikel van TM Preble in dié verband gelees het. Bates se oortuiging oor die Sabbat was ook versterk deur ’n soortgelyke oortuiging van ’n Adventiste-prediker, naamlik F Wheeler. Dit is duidelik dat die gedagte van Sabbatsonderhouding gevestig is en sterk staan.
Ellen G White – Ellen White (1827-1915), gebore Harmon, word beskou as die persoon wat die sterkste invloed op die beweging uitgeoefen het. Sy het as Baptis grootgeword en het later ’n volger van Miller se leerstellinge geword. Haar groot bydrae het daarin bestaan dat sy veral twee baie belangrike openbaringe gehad het, naamlik in 1845 en 1847, waarin sy ’n bevestiging gekry het dat die leerstellinge van Bates rondom die hemelse heiligdom en dié van Edson rondom die Sabbatsheiliging inderdaad korrek is.
Samesmelting – Hierdie drie groepe (naamlik dié gelei deur Edson, Bates en White) het uiteindelik saamgesmelt om die Sewendedag Adventiste Beweging te vorm. Die jaar 1860 was die jaar waarin hierdie godsdienstige groep sy naam gekry het, naamlik Seventh-day Adventist of Sewendedag Adventiste soos dit algemeen bekend staan, terwyl 1863 die jaar is waarin dié godsdienstige groep sy eerste “algemene sinode” gehou het.
Die Sewendedag Adventiste het onlangs ’n “belydenisskrif” in Afrikaans bekendgestel. Hierdie belydenis word gevind in die boek Sewendedag Adventiste glo ... ’n Bybelse uiteensetting van 27 fundamentele leerstellings. In hierdie boek word 27 leerstellings (artikels) gestel en dan in diepte bespreek.
Dit is onmoontlik om in ’n artikel van hierdie omvang aandag aan al 27 leerstellings te gee en daarom is goedgedink om by een aspek van leerstelling no. 27 stil te staan. Die enkele aspek waaraan aandag gegee sal word, is die Sewendedag Adventiste se oortuiging van die “ondersoekende oordeel” van Christus:
Volgens Edson se openbaring het Christus nie in 1844 na die aarde toe gekom nie, maar het Hy van die heilige plek na die allerheiligste plek van die hemelse heiligdom beweeg. Wat doen Christus nou in die hemel? Volgens die Adventiste beoefen Hy ’n “ondersoekende oordeel”. Die ondersoekende oordeel word soos volg deur hulle beskryf:
“Die ondersoekende oordeel openbaar aan die hemelse wesens wie van die dooies in Christus slaap en daarom in Hom waardig geag word om aan die eerste opstanding deel te hê. Dit maak ook bekend wie onder die lewendes in Christus bly, die gebooie van God en die getuienis van Jesus hou en daarom in Hom gereed is om in sy ewige koninkryk opgeneem te word ... Die voltooiing van hierdie bediening van Christus sal die einde van die genadetyd vir die mensdom voor die Wederkoms insluit.”
DIE WEDERKOMS – Uit bogenoemde aanhaling is dit duidelik dat die Adventiste glo aan ’n tipe oordeel voor die koms van Jesus. Dit bots lynreg met die Skrif wat leer dat daar ’n oordeel na die koms van Christus sal plaasvind (vgl. Matt 25:31-32; 1 Tess 4:16; HK v/a 52; NGB art. 37).
ONDERSOEK – Onder die ondersoekende oordeel word verstaan dat Christus Hom en die “hemelse wesens” vergewis wie van die dooies (en die lewendes) waarlik in Hom glo. Christus stel vas (ondersoek) “wie van die dooies in Christus slaap”. Die probleem met hierdie leerstelling op hierdie punt is dat hulle God en Christus van hulle soewereiniteit (alwetendheid – vgl. Ps 139) beroof. Die indruk word gewek asof God en Christus eers “huiswerk” moet doen om vas te stel wie die ware geloof het al dan nie. Hierdie gedagte bots tog duidelik met die Skrif wat leer dat God al “voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies” het (Ef 1:4) en dat Christus sy skape “ken” (Joh 10:27). Myns insiens word die grootheid van God op hierdie wyse aangetas.
GENADE ALLEEN – Uit bogenoemde aanhaling word die indruk geskep dat daar nie net vasgestel word of daar ware geloof aanwesig is nie, maar ook dat daar vasgestel word “wie ... (van die lewendes) ... gebooie van God ... hou”. Dit is immers tog duidelik uit die aanhaling dat hulle wat in Christus bly en die gebooie onderhou “daarom” gereed is (vasgestel) om in die ewige koninkryk opgeneem te word. Die “daarom” slaan tog duidelik terug op geloof en gebooie.
Die onderskeid tussen dooies en lewendes is inderdaad verwarrend, want dit skep die indruk of hulle volgens verskillende maatstawwe beoordeel gaan word. By die dooies gaan daar vasgestel word (ondersoekend geoordeel) of hulle “in Christus slaap”, terwyl daar by die lewendes vasgestel gaan word of hulle “in Christus bly” en “die gebooie hou”.
Myns insiens verwar hierdie tipe formulering net die gelowige. Hoe dit ook al sy, die Bybel leer duidelik dat die “lewendes” alleen deur sy geloof regverdig is (as u wil, die ewige koninkryk binnegaan – Rom 3:28; HK v/a 60) sonder goeie werke (Jes 64:6; HK v/a 62). Glo en jy het die ewige lewe (Joh 6:47), leer die Bybel ons!
DADELIK BY CHRISTUS – Die Bybel en die Gereformeerde leer stel dit duidelik dat ek met my dood dadelik tot Christus, my Hoof, opgeneem word (Luk 16:22; Fil 1:21-23; HK v/a 57), daarom dat die Heidelbergse Kategismus Sondag 1 as troos kan aanvoer dat ek ook “in sterwe” aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort (Rom 14:8). Met my dood is ek by Christus. Hy hoef nie deur ’n ondersoekende oordeel vas te stel dat ek by Hom moet wees nie.
VOORSPRAAK – Myns insiens is daar ook groot verwarring by die Adventiste oor die werk van Christus tussen hemelvaart en sy wederkoms. Volgens die Adventiste is die “bediening van Christus” die ondersoekende oordeel. Tog leer die Bybel dat Christus nie nou Oordeler is nie, maar juis Voorspraak (Heb 7:25; NGB art. 26). Ons roep juis God aan deur ons Voorspraak, Jesus Christus.
Behalwe ons Voorspraak leer die Bybel ons ook dat Christus nou Hoof van sy kerk is deur Wie God alles regeer (HK v/a 50). Christus word ook aan ons geskets as die Gewer van gawes aan sy kerk terwyl Hy sy kerk beskerm en bewaar (HK v/a 50-51). ’n Verlosser wat so nou met sy kerk betrokke is, het mos nie nodig om in die hemel te “ontdek” wie aan Hom behoort nie.
GENADETYD NA DIE DOOD – ’n Mens kry ook die indruk dat daar na die dood vir jou nog genadetyd bestaan as daar in bogenoemde aanhaling staan: “Die voltooiing van hierdie bediening van Christus (ondersoekende oordeel) sal die einde van die genadetyd vir die mensdom vóór die Wederkoms aandui.” Die genadetyd eindig met die wederkoms. Lees ’n mens die volgende woorde van White (Hiervandaan tot in die ewigheid, p. 198), dan lyk dit of sy ook verstaan dat tot en met die wederkoms van Christus genadetyd vir lewendes en dooies is: “Die oordeel wat in 1844 begin het, moet voortgaan totdat elke geval, sowel die lewendes en die dooies, beslis is. Daarom sal dit aanhou totdat die genadetyd vir die mensdom sluit.”
Dit is duidelik dat daar, wat hierdie een punt betref, groot verskille tussen die Gereformeerde leer en die Sewendedag Adventiste is.
Op die vraag hoe ons gelowiges van hierdie beweging moet benader, gee prof. Hoekema die volgende aantal riglyne en ek sluit graag hierby aan:
Hierdie is die webblad van Dr Hennie van Wyk. Standpunte op hierdie blad is sy eie of die van outeurs wie se werk geplaas word, in watter geval die standpunte die van die genoemde outeur is.