SS Plus

Hierdie artikel het verskyn in DIE KERKBLAD 9 Okt 1996

Die Mormone

Danie Kruger

 

Kort oorsig van ontstaan en geskiedenis

Na bewering het twee hemelwesens aan ’n jong seun, Joseph Smith, gedurende die lente van 1820 verskyn. Hulle sou dan aan hom gesê het dat alle kerke vals en hulle leerstellings ’n gruwel vir God is. Joseph se lewenstaak sou wees om die ware evangelie wat vanaf die eerste eeu reeds vervals is, weer in ere te herstel (Baie Kosbare Pêrel – JS. 14-20). Die aand van 23 September 1823 het ’n engel genaamd Moroni aan Joseph verskyn en hom begin onderrig aangaande die herstel van die ware godsdiens.

Die uiteinde van die saak was dat ’n stel goue plate waarop die geskiedenis van die eertydse inwoners van Amerika in sogenaamde Hervormde Egipties geskryf is, aan hom oorhandig is vir vertaling met behulp van die Urim en Tummim van Ou Israel. Op hierdie wyse het die Boek van Mormon, wat hulle ’n alternatiewe testament van Jesus Christus noem en wat dan een van hulle openbaringsbronne is, die lig gesien. Ander gesagsbronne is: Die Leer en Verbonde, die Baie Kosbare Pêrel, die King James-vertaling van die Bybel waar dit nie in stryd met die Mormoonse leer is nie, Joseph Smith se vertaling van die Bybel, en openbaringe deur die President van die kerk.

Nadat Joseph Smith ’n redelike gevolg opgebou het, is die groep vort om hulle te vestig in die staat Illinois en bou hulle ’n dorp genaamd Nauvoo. Die plaaslike koerant Nauvoo Expositor het hom van veelwywery en dat hy veelgodery voorstaan, beskuldig, waarop hy heftig gereageer het deur die drukkery af te brand. Op 38-jarige ouderdom is Joseph Smith, terwyl hy in gevangenskap was vir brandstigting, in ’n skietgeveg dood. Hy is as leier van die Mormone opgevolg deur Brigham Young. Dit dien te weet dat navorsing die getal vroue waarmee Joseph Smith getroud was in die omgewing van 38 stel.

 

Beoordeling van die Boek van Mormon

Gemeet aan die oorspronklike uitgawe van die Boek van Mormon is daar tot op datum meer as 4 000 veranderinge in die boek aangebring. Hervormde Egipties as taal bestaan nie en het nog nooit bestaan nie. Dit is eenvoudig net een van Joseph Smith se talle hersenskimme.

Mormoonse sendelinge versoek gewoonlik dat die potensiële bekeerling sekere versies moet lees en daaroor bid of dit die waarheid is. So ’n benadering kom eerstens neer op ontkenning van die genoegsaamheid van die Bybel as dat dit die volkome leer van die saligheid bevat, en tweedens op versoeking van die Here. My indruk van die Boek van Mormon is dat dit ’n kombinasie van fantasie en spekulasie is, as literêre werk louter onsin en minder interessant is, en minder opvoedkundige waarde het as Rooikappie en die Wolf.

In ons benadering tot die Mormoonse geloof het ons ’n tweërlei uitgangspunt, naamlik: Leer en Evangelisasie.

Leer – Deel van die ampsdraers se herderlike taak in die gemeente, asook die opdrag aan gelowiges om na mekaar om te sien in die breër omset, is om te waak teen valse leraars en roofsugtige wolwe en huurlinge wat nie die eer van God se Naam of die welvaart en saligheid van mense soek nie.

Evangelisasie – Die sendingopdrag aan die gelowiges (Matt 28) het ook betrekking op ons verantwoordelikheid ten opsigte van mense wat onder die geesvernietigende invloed van die kulte verval het.

 

Weer die wolwe uit die kudde!

Gesien vanuit Bybels-Christelike oogpunt is Mormonisme ’n teologiese sisteem wat die eer van die enige ware God wat Homself in sy Woord geopenbaar het, op die mees gruwelike wyse skend. Die heerlike evangelie van Jesus Christus – die blye boodskap – wat die grote en heilige God uit grondelose barmhartigheid en liefde vir ons, sondaarmense, voorbeskik het en genadiglik onder leiding van die Heilige Gees onder vele stryd behoue laat bly, en in die wêreld laat verkondig het vanaf Pinkster tot vandag, word deur hierdie kulte verdraai, vermink en gereduseer tot ’n mensgemaakte, duiwel-geïnspireerde onding om by hule sonde-verduisterde verstand en hul openlike haat en vyandskap teen God en die waarheid aan te pas.

Op verraderlike wyse gee hulle voor om Christene te wees en misbruik hulle Christelike terme soos sonde, geloof, skepping, God se wese, versoening, ensovoorts om aansluiting by niksvermoedende kerkmense en ander onwetendes te verkry. Wat hulle meesterlik wegsteek is dat hierdie terme by hulle ’n radikale, hergedefinieerde betekenis verkry het. Verbysterend soos dit mag klink, as hulle gebruik van woorde met eksklusiewe Christelike inhoud, direk uit die Christelike teologie opgeneem, ontleed word, is die Mormone verder weg van die Christelike kerk as selfs die Moslems. Hulle bevind hulle heeltemal buite die kader van monoteïsme (die geloof in een God).

Die hart van die Mormoonse geloof is daarin geleë dat hulle die leer verkondig dat God (Elohim) eers ’n mens was wat deur ’n voorbeeldige lewenswyse op ’n ander planeet en deur aanvaarding van die Mormoonse evangelie tot ’n god gevorder het. Sodoende het hy die planeet aarde verkry om daaroor te heers en op gewoon menslike wyse deur natuurlike omgang met vele vroue die aarde te bevolk. Op dieselfde wyse kan mense vandag deur werke en aanvaarding van die Mormoonse geloof gode word met hul eie planete.

Die Woord van God ontmasker hierdie gruwelike God-onterende dwaasheid met ’n pennestreep waar die Heilige Gees by monde van die profeet Jesaja vir ons sê: “Ek is die Here, daar is geen ander nie, buiten My is daar geen God nie ...” (Jes 45:5).

 

Weerlegging van sommige Mormoonse sienings uit die Skrif

  1. • Die Mormone leer: Daar is meer as een God. Die Bybel leer: Daar is net een ware God (Jes 46:9; Deut 4:35; Eks 20:3).
  2. • Die Mormone leer: God het ’n liggaam van been en vlees. Die Bybel leer: God is Gees (Joh 4:24; Jer 23:4; Ps 139:7-10).
  3. • Die Mormone leer: God is ’n veranderlike wese. Die Bybel leer: God is onveranderlik (Jes 43:10, 11; Heb 13:8).
  4. • Die Mormone leer: Sommige sondes kan nie vergewe word nie. Die Bybel leer: Die bloed van Jesus Christus reinig ons van alle sonde (1 Joh 1:7-10).

 

Evangelisering van Mormone

Die Here maak gebruik van ons insette om die saad van die evangelie te saai. Dit is nie vir ons beskore om in die geheimenisse van God se raad in te sien nie, maar Hy sal dié wat Hy uitverkies het, op die regte tyd tot nuwe insig en geloof bring. Die Mormone wat met gememoriseerde lesse volgens ’n vooropgestelde leerplan – wat oor ’n paar lesse (weke) strek – by ons deur aanklop, bied die ideale geleentheid aan ons om gehoorsaam te wees aan die sendingopdrag en die suiwer evangelie aan hulle oor te dra.

Daar is verskeie metodes waarvan gebruik gemaak kan word om hul vertroue in hul organisasie te laat wankel, soos byvoorbeeld: die omstredenheid rondom die eerste visioen van die stigter Joseph Smith, vals profesieë wat onvervuld gebly het, of om verskille in hul openbaringsbronne teen mekaar uit te speel. Hierdie metodes is baie effektief, dog verg ’n taamlik intensiewe studie van die kulte se ontstaan en leer. Die volgende metode is binne die bereik van gelowiges met ’n redelike kennis van die Bybel:

Onderbreek die Mormoon gedurende gesprekke op hoflike wyse tydig en ontydig in sy lesaanbieding deur ’n opmerking te maak soos: “Ag, verskoon my asseblief, maar noudat jy dit noem, wil ek jou net vertel watter verandering die Bybel in my lewe gebring het ...” (klink entoesiasties – dis nie moeilik nie – ons het rede om entoesiasties te wees). Lees of laat die Mormoon toepaslike gedeeltes uit die Bybel lees om die waarheid by hulle te laat insink.

So onderbreek ons die man se lessie met kort, kragtige getuienisse en plant ons Bybelse saad wat daarop gemik is om soos ’n rekenaarvirus deur te werk om die program van die Mormoon, wat soos alle kultelede met valshede geprogrammeer is, te verwoes en die kiem daar te lê waaruit ’n gesonde geloofsbeskouing kan groei. Uiteindelik is dit waar dat ten opsigte van die verworpenes die saad wat gesaai is, teen hulle getuig, en ten opsigte van die uitverkorenes – met God se seën – kan dit nie anders nie as om te ontkiem tot die ewige saligheid van God se (op dié stadium) onwetende, soekende kind.

 

’n Moontlike raamwerk waarvolgens reageer kan word

Hierna volg nog verdere diskussies wat oor ’n paar weke strek. Gebruik dus elke geleentheid om hulle terug te bring na die Bybel – veral deur toepaslike gedeeltes te lees wat die Mormoon moontlik nog nooit gelees het nie.

Onthou! Hoe moeilik ook al, skram weg van terme met teologiese inhoud omdat hulle ’n heel ander begrip daarvan het. Dit mag help om gedurende u getuigsessies te verduidelik wat u onder sonde, verlossing deur genade, ewige lewe, ensovoorts verstaan.

Ons gebed is: “O Here, bekeer genadiglik almal wat nog van die waarheid wegdwaal, sodat ons U almal saam eendragtig dien in heiligheid en geregtigheid al die dae van ons lewe.” Sterkte vir u koninkrykswerk! •

Hierdie is die webblad van Dr Hennie van Wyk. Standpunte op hierdie blad is sy eie of die van outeurs wie se werk geplaas word, in watter geval die standpunte die van die genoemde outeur is.