INLEIDING
HISTORIESE OORSIG
KRITIESE UITEENSETTING VAN DIE LEER VAN DIE WIT TEOLOGIE
GODSBESKOUING
Leer oor die Drie-enige God
Raadsplan van God
God se unieke plan rondom Juda en Israel
Die stryd om die hede
Beoordeling van die Wit Teologie se leer oor die raadsplan
Die Name van God
MENSBESKOUING
Israel is die blankes
Israel blank geskape
Die swartes is diere
Tipes argumente as "bewys" dat Israel blank is
Naasteliefde
Anti-houding teen ander nasies
UITVERKIESINGSLEER
Slegs Israel uitverkies
Bloedverkiesing
Verlossingsleer
SKRIFBESKOUING EN SKRIFGEBRUIK
Skrifbeskouing
Skrifgebruik
Die Bybel bestaan uit voorspellings
KERKBESKOUING
Die Wit Teologie is anti-kerk
Sakramentsleer
SAMEVATTING EN SLOT
BIBLIOGRAFIE

KRITIESE UITEENSETTING VAN DIE LEER VAN DIE WIT TEOLOGIE

GODSBESKOUING.

Leer oor die Drie-enige God.

Die Wit Teologie erken en bely die Drie-enige God soos Hy Homself in sy Woord geopenbaar het. In 'n pamflet getiteld: "Belydenis van die gemeentevan die verbondsvolk", word die Wit Teologie se belydenis aangaande God soos volg gestel: "Ons glo en bely die enige Almagtige Yahweh van Israel, die Almagtige van ons vaders, soos geopenbaar in sy Woord as Vader, Seun en Heilige Gees. Hy is die enige Skepper wat was en is en sal wees, die Almagtige. In Yahshua geopenbaar in die vlees as ons Verlosser en Middelaar, deur die Heilige Gees inwonend in ons lewe as Trooster en Waarheidsleraar" (Anon, 1990a :4).

Die Wit teologie erken en bely dus dat God 'n Almagtige en Drie-enige God is soos Hy Homself in sy Woord geopenbaar het.

Wat egter opmerklik is in hulle geloofsbelydenis aangaande God is dat God nie bely word as God, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde nie (Apostoliese geloofsbelydenis), maar as "Jahwe van Israel, die Almagtige van ons vaders". Hier lê die kernprobleem by die Wit Teologie se Godsbeskouing. In teorie is daar niks verkeerd met hulle belydenis aangaande God nie, maar in die praktyk, soos dit in hulle geskrifte verder uitgewerk word, is dit baie duidelik dat die soewereiniteit van God oor sy ganse skepping, en daarom oor al die volkere, nie gehandhaaf word nie. God word nie bely as die God wat soewerein regeer oor die ganse skepping, oor alle mense en alle volke nie, maar God word gereduseer tot die "God van Israel, die God van ons vaders" (Anon, 1990a :4).

Ter beoordeling kan die volgende analoog getrek word: Die Wit Teologie maak net soos die Swart Teologie die fout om te veronderstel dat God aan hulle kant is (vgl. byvoorbeeld die "Kairos-dokument" by die Swart Teologie en die geskrif "die Afrikaner, 'n unieke volk" by die Wit Teologie). Die Swart Teologie sê God is aan die kant van die armes en onderdruktes (swartes), die Wit Teologie sê God is aan die kant van die blankes ( Israel). Die kern van die Evangelie naamlik Jesus Christus se verlossing en bevryding van sonde word aangetas. Beide die Wit Teologie en die Swart Teologie maak ook hier dieselfde fout: nie meer bevryding van sonde nie, maar by die Swart Teologie bevryding van vernedering en onderdrukking en by die Wit Teologie bevryding en verlossing omdat jou velkleur blank is.

Die Wit Teologie se verlossingsleer begin altyd by die volk of ras, en nooit by die Evangelie van Jesus Christus nie. Nooit word kinderlik gelowig aanvaar dat alle mense doemwaardig gelyk as sondaarmense voor God staan nie, nee, God sal jou red omdat jy 'n blanke Israeliet is.

By die Wit Teologie is die kernprobleem die ontkenning van die algenoegsaamheid van Christus. "In die laaste instansie is dit die Israelbloed in die are, in plaas van die Christusbloed aan die kruis, wat mense red. Daarin vertoon hulle 'n ooreenkoms met die rigtings waarteen Paulus (in Galasiërs en Kolossense) so sterk gewaarsku het. Ons Gereformeerdes aanvaar natuurlik ook nie 'n algemene versoening nie, maar ons bely onomwonde op grond van die Skrif dat Christus se soendood genoeg is om die sondes van die hele wêreld te versoen" (Straus 1991:14) (vgl. Dordtse Leerreëls, 2:3).

Die Christologie, of leer oor ons Verlosser Jesus Christus, word dus radikaal ingeperk tot die nakomelinge van die fisiese Israel. (Daar sal later in die studie (punt 3.3.3) breedvoerig oor die verlossingsleer van die Wit Teologie gehandel word).

By die Wit Teologie kom ook die Pneumatologie, die leer oor die Heilige Gees, nie tot sy reg nie. Die Gees wat soos die wind waai waar Hy wil (vgl. Joh. 3) word tot die fisiese Israel beperk. Die genadige werk van God, die Heilige Gees op Pinkster, waar die Heilige Gees uigestort is sodat al die nasies in hulle eie taal kan hoor van die groot dade van God (Hand. 2:8-11 en 2:5), word ontken deur die Wit Teologie omdat die Heilige Gees gereduseer word tot slegs Israel, slegs die blanke westerse protestantse nasies.

Die Wit Teologie se beskouing oor God is dus skeefgetrek omdat hulle leerstellings gegrond is op 'n kwasi-teologie. "Wit Teologie maak hom juis daaraan skuldig dat die kern van die evangelie aangetas word. Jesus Christus word verwerp en die lewe onder die heerskappy van God word 'n onreg aangedoen" (Naudé, 1989:13).

Raadsplan van God.

God se unieke plan rondom Juda en Israel.

Die geskiedenis ontvou volgens die ewige, onveranderlike raadsplan van God. Die Wit Teologie stel dan dat God 'n unieke plan het wat strek vanaf die skepping van Adam tot aan die einde van die duisendjarige vrederyk (chiliasme) met die aanbreek van die ewigheid.

Die kern van die Wit Teologie se leer aangaande die raadsplan van God sentreer rondom die stelling dat die huis van Israel (tien stamme) en die huis van Juda (twee stamme) afsonderlik bly tot en met die wederkoms van Christus. In hierdie verband stel Neser (s.a.(1):20): "Ons het gesien dat die Huis van Israel (tien stamme) en die huis van Juda (twee stamme) nog afsonderlik moet wees tot en met die wederkoms van Christus...Daarom moet hulle albei, die Twee Stamme (Juda en Benjamin) sowel as die Tien Stamme vandag nog uitkenbaar wees".

Neser (s.a.(1):21) gaan dan verder en stel: "Indien Satan daarin kan slaag om die Huis van Israel (die Tien stamme) te vernietig, of deur uitwissing of deur vermenging van hulle bloed, kan die herstel van Israel nie plaasvind nie, en kan Jesus nie terugkeer na die aarde om sy koninkryk te vestig nie. Satan kan dan nie gebind word nie en hy kan voortgaan met sy duisterwerk op aarde. Daarom stook hy die nasies van die aarde op teen die Blanke Christen-nasies van die Weste. Die venyn is op die oomblik op Suid-Afrika en Rhodesië gekonsentreerd. Dit is egter net die begin. Die mikpunt is die vernietiging of vermenging van die ganse Westerse Beskawing...Indien hulle daarin slaag, kan (my beklemtoning) Jesus nie Sy Duisendjarige Vrederyk oprig nie, want Sy Koningskap is beloof om oor Israel te wees".

(Om te sê dat Jesus Christus wat self God is, iets nie kan doen nie, is darem baie gewaagd. Daar bestaan nie vir God so iets dat hy nie kan nie. Deur dit te sê word die almag en soewereiniteit van God aangetas).

Die Wit Teologie sien dan die gebeurtenisse in die geskiedenis soos skakels in 'n ketting. As die een skakel nie 'n werklikheid word nie (bv. dat Juda en Israel eers herenig moet word), verhinder dit die aanbreek van die duisendjarige vrederyk en kan Christus se wederkoms nie plaasvind nie. Daarom sê Hayes (s.a.(1):94) met betrekking tot die Afrikanervolk: "Ons geslag gee nie 'n flenter om wat van die Godsplan word nie. Ons steur ons nie daaraan of ons sy knegte is wat dit moet uitvoer nie - ons verroer nie 'n vinger as sy Naam ontheilig word nie, solank ons net hemel toe kan gaan".

Die Wit Teologie maak ook veel daarvan dat daar in die Bybel 'n radikale onderskeid gemaak sou word tussen Juda en die tien stamme van Israel, en dat die afstammelinge van die tien stamme geen aandeel gehad het aan die verwerping en kruisdood van Jesus Christus nie, soos blyk uit veral Neser se geskrifte.

Die absolute skeiding tussen Juda en Israel wat deur die Wit Teologie gemaak word, kan egter volgens die Skrif nie gehandhaaf word nie. In Handelinge 2:22-23 byvoorbeeld, praat Petrus met die Jode (Juda) en dan noem hy hulle "Israeliete" en sê verder dat hulle (die Israeliete) Jesus gekruisig het. Ook in die Ou Testament word Juda soms as Israel (en omgekeerd) aangespreek. Die profete Jeremia en Esegiël dui byvoorbeeld na 722 voor Christus (die datum van die wegvoering van die tien stamme) in hulle profesieë Juda as Israel aan (vgl. Jer. 2:31; 5:15; 10:1; 14:8; 17:13; 18:6). Dit is ook opvallend dat Esegiël die Judese ballinge in Babel verskillende male as Israel aanspreek (Eseg. 11:5; 17:2 en 20:27).

Die Bybel ken dus nie so 'n radikale skeiding tussen Juda en Israel nie, maar handhaaf wel 'n onderskeid. Dit is ook opvallend dat in die Nuwe Testament met ` Israel' meermale al twaalf stamme bedoel word (vgl. Jak. 1:1).

Die stryd om die hede.

Omdat die uitvoering van die raadsplan van God vlot moet verloop, is die hede 'n baie belangrike skakel in die raadsplan van God. Die hede word deur die Wit Teologie gesien as die tyd waarin die onvervulde profesieë vervul sal word.

Die stryd om die hede in die Wit Teologie se denke kom in essensie op die volgende neer: Die hele menslike geskiedenis vanaf Adam word deur 'n stryd om heerskappy gekenmerk. Dit is 'n stryd tussen God en Satan en daarom is dit ook 'n sigbare stryd op aarde tussen die familie of kinders van God en die familie of kinders van die Satan. Die belangrike vraag wat deur die Wit Teologie gevra word is: wie is die kinders van God en wie is die kinders van Satan? Hierop word geantwoord: die kinders van God is Adam, wat Israel genoem word en die kinders van Satan is Kain, wat Jood genoem word. Interessant is die "bewys" hiervoor wat Swart in sy boek "So spreek die Woord" uit Judas:6 en 7 aanbied: "In beginsel was die engele geestelike wesens en manlik. As hulle hul eie beginsel verwerp of verlaat het, kon hulle dus vleeslike en vroulike vorme aangeneem het, of sommige manlik en ander vroulik. So het hulle dan "op dieselfde manier as die mense van Sodom", "gehoereer en agter vreemde vlees aan geloop"...en 'n nageslag verwek wat amper soos mense gelyk het en van wie die argeoloë deesdae skedels en beendere opgrawe om die sogenaamde "vermiste skakels" in hulle sogenaamde "ewolusieteorie" te ontdek" (Swart, s.a.:4). (Teenoor hierdie beweringe van Swart leer die Skrif egter in Mattheüs 22:30 dat die engele nie trou nie, en nie kan voortplant nie.)

Swart gaan dan verder en sê: "Hierdie benadering verklaar ook die enigsins vreemde bewoording van Genesis 1:26 toe God gesê het: Laat ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis....wat suggereer dat daar mense was wat nie na die beeld en gelykenis van God was nie...Dit verklaar ook die opdrag in Gen. 2:15: Toe die Here God die mens in die tuin van Eden gestel het om dit te bewerk en te bewaak. Teen wie moes hulle dit bewaak anders as teen die nageslag van die gevalle engele - die kinders van die Bose?" (Swart, s.a.:5). En dan kom Swart tot die koddige slotsom: "Satan het moontlik ook nog verduidelik dat "leer ken" en "beken" dieselfde is want: Genesis 3:13...en die vrou antwoord: Die slang het my bedrieg... Uit hierdie bedrog en verleiding en die feit dat Adam sy vrou beken het, is 'n tweeling gebore: Kain as die kind van die Bose en die eerste mensemoordenaar; en Abel die kind van Adam en van die geregtigheid. Vergelyk die sinsnede in Genesis 4 vers 2: "Daarna het sy ook sy broer Abel gebaar". Tog het die mens sy vrou Eva net een keer beken!" (Swart s.a.:7).

Hierdie siening van die Wit Teologie word verder gegrond in die woord van 1 Joh. 3:12: "Moenie soos Kain wees nie. Hy het aan die Bose behoort en sy broer vermoor". Kain word hiermee beskryf as die werklike vleeslike kind van Satan. Sommige voorstanders van die Wit Teologie soos die beweging "Studiegroep Aktueel" in Windhoek beskou ook vir Esau as die fisiese kind van Satan, omdat hy en Jakob reeds in die moederskoot in stryd met mekaar was. Daarom word gesê: "die saad van die slang en die draer van die saad van die vrou het binne-in dieselfde baarmoeder beland!" (Neser, 1982:38).

Die Wit Teologie sê ook dat die addergeslag in Mattheüs 3:7 die geslag van die duiwel is, hulle is "kinders (fisies) van die duiwel" (Burger, s.a.:31). Hulle is die slanggeslag en dit is die Jode. (By party skrywers is dit sommer al die ander nie-blanke nasies.)

Só het die stryd ontstaan tussen die Jood en die ware Israel. Vir die Wit Teologie is hierdie stryd belangrik vir die hede, omdat volgens die onvervulde profesieë hierdie stryd nou, in vandag se tyd, 'n felheid sal bereik wat beslissend sal wees vir die raadsplan van God. Die Studiegroep Aktueel Windhoek (s.a. Die Raadsplan van God soos aangehaal deur Naudé, 1989:16) stel dit soos volg: "Die aard van hierdie stryd is dat die Jood as nageslag van Satan na wêreldheerskappy strewe. Dit is die Jood wat die leuen geskep het dat die Sionistiese Jood die volk van God is en onaantasbaar is. Die ware Godsvolk, naamlik Israel, die Witman in Suid-Afrika, word deur die Jood as uitvaagsels beskou. Om simpatie vir die Jood by oningeligte Westerlinge te wek, word die leuen vertel dat ses miljoen Jode in die gaskamers van Hitler vermoor is. Dit word gedoen terwyl die Jood in werklikheid besig is om beheer te verkry oor die meeste regeringstelsels. Hulle beheer die kapitalisme, kommunisme, pers, die rolprentwese en die televisie. Hulle gebruik slagspreuke soos humanisme, vryheid, vrede, gelykheid, dialoog, konsensus, broederskap, geregtigheid en menseregte met die oog op die skepping van 'n teelaarde vir rassevermenging en die verbastering van die volk van God".

Die Wit Teologie lê egter ook nog klem op die tweede aspek van die stryd in die hede. Die volk van God (blanke westerlinge) verkeer ook in 'n stryd met die swartes. Op hierdie aspek het veral Hayes (omtrent in elke geskrif van die Wit Teologie word hierop ingegaan) baie klem gelê in sy boek getiteld "Die lewendes en die dooies". Hayes sê dan die volgende: "Die mens, wat God geskape het, se naam was Adam en hy was Blank, want dit is wat "Adam" beteken. Let asb. daarop dat dat die woord "beeld" verwys na fisiese beeld en nie morele beeld nie. Die Companion Bible bl. 4 sê, dit verwys uitsluitlik na die liggaam en nie na eienskappe nie. God is Blank. Daar is meer as 30 biologiese en anatomiese verskille tussen Blankes en Swartes. Swartes is nie Homo Sapiene nie. Hulle word wel so geklassifiseer. Selfs ons bloed verskil van die Swartes se bloed en hierdie feit, dat hul bloed verskil, is die bewys dat hulle nie mense is nie, want alle mense (Adamiete) het dieselfde bloed (Hand. 17:26). Al die onkunde en verwarring word deur Satan uitgebuit om ons uit te wis" (Hayes, s.a.(2):1,7).

So probeer die Wit Teologie met allerlei teorieë bewys dat die swartmense nie mense is nie, maar diere. Die swartes is dan ook die kinders van die Bose, die sogenaamde onkruid (Mat. 13) wat deur Satan gesaai is (vgl. Hayes, s.a.(1):235). Daar is egter wel sommige voorstanders van die Wit Teologie soos die `Studiegroep Aktueel' en Neser wat hierdie teorieë verwerp en aanvaar dat die swartman 'n mens is.

Oor die algemeen gesproke verkondig die Wit Teologie dat die profesie van Jesaja 18:6 in die hede vervul word. Jesaja 18:6: "Die ranke word oorgelaat aan die roofvoëls uit die berge en aan die wilde diere" word so verklaar dat die wingerd waarvan hier sprake is, die witman is, wat verniel sal word deur die swartman wat die wilde diere is. Voorbeelde wat genoem word, is dat die swartes weier om huishuur te betaal, terwyl die witman hiervoor moet instaan (vgl. Hayes, s.a.(1):54). Skole en boeke word verbrand, onderwysers en parlamentslede moet betaal word en die swart state moet onderhou word. Die vervulling van die profesie van Jes. 18:6 word saamgevat in die woorde: "Sonder om 'n skoot te skiet, met vuurhoutjies en buitebande neem 'n totaal onderontwikkelde ras se ongeletterde kinders die beheer oor by slim geleerde doktors en professors, by 'n volk met die sterkste weermag in Afrika" (Hayes, s.a.(1):54).

Die beskrywing van hierdie stryd in die hede bring 'n denkrigting na vore wat totaal onbybels is en nog erger: dit druis in teen die wese van God. Wanneer die Wit Teologie die oorname van die land beskrywe deur die swartman, dan sê Hayes (s.a.(1):54): "God gee dit aan hulle", en verder stel hy in die skerpste taal "dat God die swartes in ons huise plant om informasie na die vyand naamlik die ANC en UDF te stuur! God gaan swartes gebruik om te saboteer en inligting na die vyand te stuur, want twee-derdes van die volk moet sneuwel!" (Hayes, s.a. (1):272).

Die hongersnood van Afrika word deur die Wit Teologie gesien as deel van die Godsplan om die eindtyd te verhaas en om die witman van totale uitwissing te red. Volgens 'n onvervulde profesie (Eseg. 38:5) word deur die Wit Teologie gestel dat Afrika op die Witman in Suid-Afrika sal toesak, maar die massas sal nie krag hê om so ver te loop nie. Daarom word die juigkreet deur Hayes geuiter: "Prys die Here vir die hongersnood in Afrika!" (Hayes, s.a.(1):115).

Beoordeling van die Wit Teologie se leer oor die raadsplan.

Met die bogenoemde stelling van Hayes word dit baie duidelik wat die resultaat van die handhawing van hierdie skeefgetrokke ewige, onveranderlike raadsplan van God is. In hierdie verband stel Naudé (1989:18) met betrekking tot die Wit Teologie: "Die geskiedenis beweeg in 'n vaste baan. Dit het 'n vaste beginpunt en 'n vaste eindpunt. Die datum van hierdie vaste eindpunt of wederkoms van Christus kan daarom ook bepaal word. Verder het die geskiedenis 'n vaste verloop en is gebeurtenisse bepaal, sodat die daad van die mens as God se daad verstaan word. Hiermee word God die outeur van die sonde gemaak en word die verantwoordelikheid van die mens vir sy beslissings en optrede misken. Hierdie beskouing doen 'n onreg aan God: God word met die mens gelykgestel en die mens word met God gelykgestel!"

Die absolute, onveranderlike raadsplan van God soos wat dit by die Wit Teologie geleer word (lw. skeefgetrokke by die Wit Teologie), tas die soewereiniteit van God aan. God se vrye wil en beslissing word onveranderlik gebind aan 'n vaste raadsplan, so asof God se raadsplan 'n bloudruk is waarvan Hy, die soewereine God, afhanklik is en waaraan Hy móét voldoen en dus waaraan Hy ondergeskik is. Só verstar God en kan Hy vanuit die verloop van die geskiedenis bevraagteken word. Hayes maak juis die skreiende opmerking dat "as daar nie 'n suiwer oorblyfsel van Israel in die suidpunt van Afrika is tydens die Wederkoms nie, sal God 'n leuenaar wees, want dan kan Sef. 3:10 nie vervul word nie" (Hayes, s.a.(1):340). As die geskiedenis nie volgens die Wit Teologie se weergawe van die raadsplan van God in 'n voorafbepaalde patroon of raadsplan verloop nie, dan word God bevraagteken!.

Ter beoordeling van bogenoemde siening van die Wit Teologie oor die raadsplan van God kan aan die hand van 'n paar Skriftekste die volgende gemeld word: Dit is waar dat die lewende God onveranderlik is (Jak. 1:17; Ps. 102:27,28; Jes. 41:4; Mal. 3:6; Heb. 1:11). God is onveranderlik in sy Wese. In Exodus 3:14 openbaar die Here Homself as "Ek is wat Ek is". Die kerk het dan ook van die begin af bely dat God in sy wese, eienskappe, woord en daad altyd God bly.

Dit is ook waar dat God se raad of raadsplan onveranderlik is en dit gee aan die nietige mens troos en verskaf aan hom geborgenheid. "Die planne van die Here staan vir alle tye vas, sy besluite van geslag tot geslag" (Ps. 33:11; vgl. Heyns, 1984:74). As die Here van die leërskare besluit het, sal niemand dit kan verydel nie (Jes. 14:27, vgl. 46:10; Spr. 19:21; Heb. 6:17). Maar wat die Wit Teologie nou doen is om alles wat húlle dink en sê, alles wat hulle uit hulle verbeelding opdiep, toe te skryf aan die raadsplan van God. So word die Wit Teologie se leerstellings en gedagtes sommer God se raadsplan gemaak. Daarom is hierbo melding gemaak van die skeefgetrokke raadsplan waaraan die Wit Teologie vashou.

Die Here is onveranderlik en Hy het 'n vaste raadsplan gegee waarin Hy oor alles wat met die mens en met die hele wêreld gebeur en sal gebeur, regeer. Maar dit bly God se raadsplan waaroor Hy beskik en Hy alleen weet wat die inhoud van sy raadsplan is. Vir die mens is God se raadsplan verborge, behalwe wat God gewil het om uit genade aan ons te openbaar in sy Heilige Woord. God het nie sy Woord, die Bybel, gegee om daaruit presies sy raadsplan af te lei nie, nee, God het sy Woord gegee omdat Hy Homself aan die mens daarin wil openbaar. Die Bybel is dus openbaring van God, en nie primêr openbaring van God se raadsplan nie, en allermins 'n volledige openbaring daarvan om die mens se nuuskierigheid te bevredig.

Die primêre fout van die Wit Teologie is dat hulle uit die Bybel God se raadsplan presies wil aflees soos uit 'n futurologiese handboek. Vir die Wit Teologie is die Bybel dus bestem om hierdie voorafbepaalde plan bekend te maak. Omdat God ewig en onveranderlik is, is hierdie plan ook onveranderlik. Die Bybel is volgens die Wit Teologie dan noukeurig rondom hierdie Godsplan opgebou en skakel volkome ineen. Elke woord "pas net op daardie plekkie waar dit oorspronklik geskryf is..." (Hayes, s.a.(1):201).

'n Biblisistiese rekonstruksie van hierdie "raadsplan" word dus uit die Bybel gemaak. Dit word weer op sy beurt deur die Wit Teologie as die verklaringsmodel gebruik van waaruit die samehang en betekenis van die Bybel afgelei kan word. Hierdie samehang van die Bybel is egter vir die Wit Teologie niks anders as die blanke identiteit nie. Waar die Bybel self by herhaling aandui dat dit in die skepping uiteindelik gaan om die eer en verheerliking van God, die Skepper van dit alles; om die deelname van die volle skepping met sy volle verskeidenheid en magdom van nasies aan die lofprysing van God, word alles deur die Wit Teologie verabsoluteer tot slegs die uiteindelike heil van die blankes. Die Bybel word ook in 'n "plan" ingeforseer wat nêrens in die Bybel self bestaan nie. Om vanuit die volgorde van die Bybelboeke so 'n plan te wil aflei is 'n futiele poging, soos al by herhaling bewys is.

Dit is nie na een of ander plan nie, maar na die wil van God, waarna die gelowige in die Bybel moet soek.

Die Name van God.

Die Wit teologie gebruik nie die Name van God soos Here, Jesus en Christus nie, want "die woord "Here" is nie 'n naam nie en beteken maar net "meneer", "Meester", "baas" of "Baäl", 'n "afgod" (Steenkamp, 1989a:5).

Veral Steenkamp het Hom sterk uitgespreek teen die vertaalde gebruik van die Naam van die Here. In 'n boekie getiteld "Laat U Naam geheilig word" stel hy dat die Skepper Hom aan sy Hebreeus sprekende volk geopenbaar het as Yahweh. Moses en die ander Bybelskrywers het dan ook in die Hebreeuse skrifkarakters sy Naam geskryf. Daarom sê Steenkamp: "Kom weg van vervalste Name van ons Skepper wat ons nie kan identifiseer na die Hebreeusnie. Elke kweekskoolstudent weet dat hy daar van Yahweh praat, maar as hy op die kansel klim is dit "Here" wat niemand kan regverdig nie want as hy nou wil Afrikaans praat kan hy mos van ons Almagtige, ons Vader, ons Verlosser, ons Losser of van die gesalfde praat. Maar SY NAAM IS YAHWEH en die Verlosser is YAHSHUA - Yahweh verlos!" (Steenkamp, 1989a:1).

Steenkamp maak dan verder die saak uit dat dit absolute sonde is om die Naam van die Here vertaald te gebruik. "Yahweh is 'n eienaam en geen mens het die reg om hierdie Naam te verander of te vertaal nie. In ons Afrikaanse Bybel is dit vertaal met HERE, afkomstig van die woord LORD in Engels. Nou weet ons dat Here geen naam is nie. Dit word gebruik as 'n titel ook vir mense...In die Nuwe Testament word die Griekse woord Kurios = Lord = Here gebruik. Dit is ook geen naam nie. Tussen die Ou en Nuwe Testament is daar ook verwarring in die Afrikaans, want Yahweh en Kurios word albei vertaal met Here" (Steenkamp, 1989a:4,5).

Myns insiens is dit dus vir Steenkamp 'n probleem dat die Hebreeuse Yahweh in die Ou Testament, vertaal is met die Griekse Kurios in die Nuwe Testament. Die geïnspireerde skrywers van die Nuwe Testament het dus 'n fout gemaak om die Hebreeuse Yahweh te vertaal. Dit is dus duidelik dat Steenkamp as verteenwoordiger van die Wit Teologie nie die taal waarin die Nuwe Testament (Grieks) geskryf is, wil aanvaar as dit rondom die Naam van die Here handel nie.

Steenkamp (1989a:6) sê self: "Die volgende Naam wat in gedrang kom is die Naam van die Seun van God. "Jesus" kom van die Griekse begrip "Iesous" en beteken "verlosser". Dit is eerstens onmoontlik dat die Engel met Maria Grieks sou praat. Die Naam sou in Aramees/Hebreeus wees. Matt. 1:21 "En jy moet hom Yahshua noem, dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos" - SY VOLK, NIE ALMAL NIE" (beklemtoning G.J. Steenkamp).

Dan gaan Steenkamp verder en gee die Jode die skuld dat die Naam van God so verander is. Die Jode het glo 'n groot rol gespeel in die verandering vanaf Yahoshua na Yeshua na Jesohu na Iesou na Jesus = Verlosser. "Die Jode vorm die naam in die uitspreek tot 'n vloek van die naam. Hoe geweldig is die spel van Satan!" (Steenkamp, 1989a:7).

Ook oor die Naam Christus het Steenkamp beswaar, want die Hebreeuse Naam is Messiah = Yahweh is Gesalfde of Heerser, en die Naam Christus is oorgeklank uit die Grieks en beteken slegs "Gesalfde". "Ons sien dat ook hier die Heilige Naam weggeneem is" (Steenkamp, 1989a:7).

Interessant is hier dat die fout nie by die Afrikaanse Naam Christus lê nie, maar alreeds by die Griekse Naam "Christos". Sou Steenkamp dus die feit dat die Name van die Here en van sy Seun Jesus Christus in die Grieks vertaal is, verwerp? Wie dit doen tas die inspirasie van die Heilige Gees aan, want die Heilige Gees het die Griekse skrywers van die Nuwe Testament geïnspireer om ook die Eienaam van ons Verlosser, in Grieks te skryf en nie in Hebreeus nie.

Steenkamp sluit dan sy betoog af en sê dat dit by die doop nodig sou wees om die Name Yahweh en Yahshua te gebruik omdat "Vader" en "Seun" volgens hom bloot titels is (Steenkamp, 1989a:7). Die woorde van Mattheüs 28:19 moet dan seker so lui: "doop hulle in die Naam van Yahweh, en Yahshua en die Heilige Gees". Dit is merkwaardig dat Steenkamp nie die Hebreeuse Naam vir die Heilige Gees gebruik nie!

©2006 GKSA.
Navrae: Outeur: Ds GJ Kruger
Webmeester