INLEIDING

HISTORIESE OORSIG

KRITIESE UITEENSETTING VAN DIE LEER VAN DIE WIT TEOLOGIE

GODSBESKOUING

Leer oor die Drie-enige God

Raadsplan van God

God se unieke plan rondom Juda en Israel

Die stryd om die hede

Beoordeling van die Wit Teologie se leer oor die raadsplan

Die Name van God

MENSBESKOUING

Israel is die blankes

Israel blank geskape

Die swartes is diere

Tipes argumente as "bewys" dat Israel blank is

Naasteliefde

Anti-houding teen ander nasies

UITVERKIESINGSLEER

Slegs Israel uitverkies

Bloedverkiesing

Verlossingsleer

SKRIFBESKOUING EN SKRIFGEBRUIK

Skrifbeskouing

Skrifgebruik

Die Bybel bestaan uit voorspellings

KERKBESKOUING

Die Wit Teologie is anti-kerk

Sakramentsleer

SAMEVATTING EN SLOT

BIBLIOGRAFIE

KRITIESE UITEENSETTING VAN DIE LEER VAN DIE WIT TEOLOGIE

MENSBESKOUING

Israel is die blankes.

Israel blank geskape.

Die Wit Teologie voer aan dat die mens as 'n blanke geskape is. Net soos Adam, was Set, Noag, Abraham, Isak en Jakob blankes en daarom is ook die nageslag van Abraham, die Israeliete blankes. Die verskeidenheid van nasies, stamme, volke en tale waarvan die Bybel praat (o.a. Open. 7:9) word deur die Wit Teologie verklaar as die menigte blanke nasies wat uit Abraham sou voortspruit. Uit die mond van die Wit Teologie self: "Al die Skrifte...praat nêrens van "al die rasse nie". Hierdie menigte van nasies spruit almal voort uit God se belofte aan Abraham en later Efraim (Gen. 48:19), hoofstam van die Tienstammeryk - húlle het 'n groot menigte geword - baie stamme, tale, volke en nasies MAAR ALMAL VAN BLANKE SEMITIESE AFKOMS VIA ABRAHAM, ISAK EN JAKOB. Hulle is 'n uitverkore ras (1 Pet. 2:9,10)" (Anon, s.a.(2):9). (Onderstreping en beklemtoning deur die skrywer).

Swart "bewys ook onomwonde" dat Israel blank was. Hy sê dat die bewys dat Israel blank was, opgesluit en verskuil lê (dit is 'n verborge geheimenis - soos Swart dit stel) in verse soos Esegiël 36:32: "Skaam julle en bloos oor julle weë, o huis van Israel".

Die "bewys" en argumentering loop dan soos volg: " Israel was en is dus 'n volk wat bleek kan word en kan bloos, met 'n blanke vel en blosende rooi wange en lippe. Hierdie eienskappe is eie aan die Blanke Westerse nasies en as 'n mens die Israel van die Bybel vandag wil gaan soek, is jy beperk tot die Duitsers, Hollanders, Franse, Engelse en die ander Blanke volke van Wes-Europa en die lande wat deur hierdie volke gekolonialiseer is soos Suid-Afrika, Australië, die VSA, Kanada, Nieu-Seeland, ens." (Swart, s.a.:32).

Swart gaan dan verder en maak die gevolgtrekking: "Israel van die Bybel was Blankes net soos u en ek terwyl die kinders van die Bose, die krom en verdraaide geslag, anderskleuriges was" (Swart, s.a.:31).

Die swartes is diere.

Die Wit Teologie voer aan dat die swartes diere is en dat die Bybel daarvan getuig. Von Moltke sê in die verband dat daar in Genesis 1:24 van drie soorte diere gepraat word naamlik vee, kruipende diere en wilde diere. Die "wilde diere van die aarde", die derde groep in Genesis 1:24 is dan verskillend van die vorige diere anders sou hulle nie apart genoem word nie. Dan maak Von Moltke die volgende gevolgtrekking: "Die Hebreeuse woord is "chay" en beteken "a living thing that lives". Die woord - aarde - kom van die Hebreeuse woord "erets" en beteken die hele fisiese wêreld. Die "chay erets" is dus die lewende wesens van die aarde, en let wel, hulle is geskape "volgens hulle soorte". Dit verklaar die groot verskeidenheid van nie-wit of gekleurde rasse....Dit verklaar ook hoe die Rooihuide in Amerika gekom het, die Inkas in Suid-Amerika en die Maoris in New Zeeland. As hulle almal van Adam, via die toring van Babel gekom het moes hulle met skepe daarheen gegaan het baie eeue voordat Columbus en da Gama hulle ding gedoen het" (Von Moltke, 1984:3).

Hoe meer 'n mens die Wit Teologie se geskrifte lees, hoe groter word die teenstrydighede. Eers is daar gesê dat Satan die swartes geskape het (vgl. punt 3.1.2.2) - (L.W. Aan Satan, 'n gevalle engel, 'n skepsel van God, word skeppingsmag gegee!) Nou word weer gesê dat God die swartes geskape het - en wel as diere!. Hulle is beslis nie mense nie, want sê Von Moltke, na sy koddige gevolgtrekkings uit Gen. 1:24: "Kom ons lees nou Gen. 1:26. Hier word mense geskape. Adam beteken 'n wit mens - of rooierig - of om te kan bloos - of om bloed in die gesig te kan wys, en daarvoor moes sy vel wit gewees het" (Von Moltke, 1984:4).

Hoe dit ookal sy, hier kom die kern van die Wit Teologie se standpunt na vore: die blankes is vandag se Israel en die swartes is diere. Die belangrikste gevolg van hierdie standpunt is nou dat die Wit Teologie alles wat in die Bybel oor Israel gesê word, letterlik op die blankes toepas.

Vir die Wit Teologie is dit ook 'n uitgemaakte saak dat dat Israel tot die blanke ras behoort. Eksteen (1988:39) stel dit kort en saaklik: "Die Israeliete is witmense".

Tipes argumente as "bewys" dat Israel blank is.

Die Wit Teologie gebruik hoofsaaklik drie tipes argumente om aan te toon dat Israel blank moet wees. Om hierdie argumente te kan verstaan, is dit belangrik om eers die aandag daarop te vestig dat die Wit Teologie se redenasies in die reël 'n spesifieke patroon - 'n kringloop - vertoon. Die redenasies begin eintlik in die onderbewussyn by die bekende eienskappe vandie blanke Westerling. Die vertrekpunt is met ander woorde wesenlik die eie bekende wêreld van die Wit Teologie. Hierdie bekende sake word dan oorweeg as die moontlike sake waarna die Bybel verwys. Omdat hierdie verbintenis "logies" lyk, word nou sonder meer aanvaar dat die Bybel nooit iets anders bedoel het nie as net hierdie bekende sake uit die hede. Die volgende stap is om te verklaar dat die Bybel self so sê. Hierdie "Bybelse" uitsprake word dan letterlik op alles in die hede toegepas. Daarmee is die kringloop voltooi.

So aanvaar die Wit Teologie dat daar tussen die blankes en Israel punte van ooreenstemming is. Die volgende stap is dat hulle so oortuig is van hulle afleiding, dat hulle nou sê: die Bybel self sê dat die blankes Israel is. Op grond daarvan word dan verskillende Bybelgedeeltes letterlik op die hedendaagse blanke Westerling oorgedra, asof die Bybel net van hulle en van niemand anders gepraat het nie.

In meer besonderhede loop die Wit Teologie se argumente soos volg:

  1. Die eerste soort argument is die van letterlike identifisering. Die blanke Westerse nasies sou dieselfde dinge doen as wat Israel doen. In Jesaja 43:21 sê die Here: "Die volk wat Ek vir My geformeer het, hulle sal My lof verkondig". Nou sê die Wit Teologie die volgende: "Die blanke Westerse Protestantse nasies, alhoewel in 'n teruggevalle toestand, verkondig tog die Lof van die Ewige Waaragtige God en van Sy Seun Jesus die Christus. Hulle druk en versprei die Bybel, stuur sendelinge uit, druk Christelike lektuur, erken die Godheid as Opperste Gesag, en so meer...Die gevolgtrekking is duidelik: die BLANKE WESTERSE NASIES verteenwoordig die TIEN STAMME VAN ISRAEL (Beklemtoning Neser)" (Neser, s.a.(1):23,24). Die Wit Teologie verswyg gerieflikheidshalwe die groot aantal kinders van God in China, Japan, Afrika en noem maar op, wat Sy lof verkondig.
  2. Die tweede stel argumente ken fisiese eienskappe toe aan ou Israel, wat hom met die blanke van vandag identifiseer. Esegiël 36:32 sou verklaar dat Israel kan bloos en soos reeds aangetoon sê die Wit Teologie dat hierdie eienskappe eie is aan die blanke Westerse nasies. Hier is dit baie duidelik dat die argument begin by die Westerling, sy eienskappe oordra op Israel van ouds, sodat weer van ou Israel af terug geredeneer kan word dat die blankes met Israel identies is. Om te kan bloos is boonop nie uniek aan die Westerlinge nie. Selfs die donkerste mens kan bleker word van skrik en ook die Oosterse nasies kan bloos. Hierdie soort argument kan tog nie van deurslaggewende waarde wees nie.
  3. Die derde soort argument wat deur die Wit Teologie gebruik word, werk met woordassosiasies. So word geredeneer dat die Huis van Jakob 'n verskeidenheid van name gehad het. "Een is Libanon, die landstreek vanwaar Jakob se moeder en vroue afkomstig is, en Libanon beteken Blank" (Hofmeyr, s.a. Hoor van Gods Apartheid soos aangehaal deur Venter, 1989:35). Hierdie argument van die Wit Teologie toon nie net hoe raakpunte veralgemeen word nie, maar toon ook die uiterste onkunde oor die wêreld van die Bybel. Libanon beteken wel wit, maar verwys nie na mense nie, maar na 'n bergreeks met wit kalkklip op die toppe wat dikwels in die winter met sneeu bedek is. Om bloot net op woorde op die klank af argumente te bou, is 'n riskante onderneming wat jou argument eerder verswak as versterk.

In hierdie verband kan ook verwys word na die soort klank-eksegese wat Hayes doen: "Maar Hy (dit is Jesus) het ons geleer, dat die koring is oorspronklik en is tot aan die einde van die dae gemeng met onkruid, meer korrek, vals koring. Dit lyk soos koring (die swartes lyk ook soos mense), maar die vrug is swart en giftig. Die Griekse woord wat Christus gebruik het vir hierdie "onkruid" is zizania. Dit is die "Azanians people" van vandag. Daarom wil hulle die land se naam verander na Azanië. Hulle is reg. Afrika behoort aan die onkruid!! Lees dit in Mat. 13:24-30 en 36-41 en slaan dit na in die Grieks" (Hayes, s.a.(2) 1:9).

Om die minste hiervan te sê: dit getuig van uiterste onkunde. Die Griekse woord zizania dui op 'n parasitiese plant of onkruid (die Wes-Transvaalse boere ken dit) wat sy wortels om die wortels van die koring draai. Daarom sê ons Here Jesus in Mattheüs 13:29 in die gelykenis van die onkruid, dat die diensknegte van die heer nie die onkruid terwyl hulle groei al moet uithaal nie, want hulle kan dalk die koring daarmee saam uittrek, omdat die "zizania" sy wortels om die koring se wortels gedraai het. Hulle moet dit saam laat groei tot die oes toe, dan sal die maaiers die onkruid van die koring skei en dit verbrand (vers 30).

Al hierdie argumente word gevorm vanuit die ervaringsveld van die Wit Teologie met al sy vooroordele en selfbeskouings. Dit is belangrik om raak te sien hoe eensydig hierdie tegnieke is en hoe bevooroordeeld die Bybel so gelees kan word.

Naasteliefde.

Die Wit Teologie leer dat slegs die blankes hulle naaste is. Volgens Neser (1984:7) kan 'n swartmens nie die naaste van 'n blanke wees nie, want sê hy: "Nou word daar baie keer vir ons gesê, hier is die swartes nou in ons land, hulle is ons naaste. Hulle is NIE ons naaste volgens die Skrif nie; hulle behoort nie eens aan ons ras nie. Hy behoort nie aan my nasie nie; hy is nie my "friend/companion" nie; " He is not the one near/close to me" (beklemtoning Neser)".

Swart (s.a.:42,45) sê in die verband dat die sinsnede "jy moet jou naaste liefhê soos jouself" soos volg gelees moet word: "Jy moet jou naaste soos jouself, liefhê". Hy stel dan verder: "Dit wil ook voorkom of hierdie teks in Hebreeus die betekenis het van: jy moet dié wat soos jy is, liefhê...dus, die kinders van jou volk is jou naaste".

Die Wit Teologie verklaar dan ook die gelykenis van die barmhartige Samaritaan in terme van bogenoemde. Die "sekere man" wat deur rowers oorval is en daar gelê het (Luk. 10:25-37), se nasionaliteit word nie vermeld nie. Volgens die Wit Teologie kon dit egter net 'n Samaritaan gewees het, want die man wat daar verby geloop het en aan die "sekere man" wat daar gelê het, barmhartigheid bewys het, was 'n Samaritaan. Dan word op grond van die veronderstelling dat net jou eie volksgenote jou naaste is, sonder meer aanvaar dat die man wat daar gelê het ook 'n Samaritaan was. Dus as Christus vra: "Wie van hierdie drie dink jy, was die naaste van hom wat die rowers oorval het", dan is dit volgens die Wit Teologie tog logies: Die Samaritaan was die ander Samaritaan wat deur die rowers oorval is, se naaste. "Hulle was dus nie aldrie sy naaste nie!...As die woord naaste in die verhaal van die barmhartige Samaritaan met volksgenoot vertaal sou word, sal daar geen twyfel of onduidelikheid wees nie (beklemtoning H. Swart)" (Swart, s.a.:45,46). En vir Hayes is daar geen onduidelikheid nie: "Volksgenote is mekaar se naaste en help mekaar, Israeliete help Israeliete, Samaritane help Samaritane, Zoeloes help Zoeloes en die Boere help die Boere. Soos dit nou is, moet die Boer almal help, terwyl almal probeer om hom te vernietig (Hayes, s.a.(1):263). Wat die Wit teologie hier doen is om die gelykenis van die barmhartige Samaritaan aan die hand van Levitikus 19:18 uit te lê. Daarvolgens sê die Here: "Jy mag nie wraak neem of 'n grief koester teenoor jou volksgenoot nie, jy moet jou naaste liefhê soos jouself". Die Wit Teologie beskryf dus tereg die beskouing van die naaste in die Ou Testament as die eie volksgenoot. Maar as Levitikus 19:18 die naaste as volksgenoot beskryf, is dit nog nie te sê dat die persoon wat deur die rowers aangeval is, 'n Samaritaan moet wees net omdat 'n Samaritaan aan hom barmhartigheid bewys het nie. Volgens die Wit Teologie was die barmhartige Samaritaan dus 'n naaste nog voordat hy enige hulp betoon het, omdat hulle volksgenote van mekaar was (Hayes, s.a.(1):263).

In hierdie redenasie van die Wit Teologie word drie foute gemaak. Eerstens, die gelykenis vermeld nie die nasionaliteit van die man wat deur die rowers aangeval is nie, en daarom kan nie sonder meer op grond van bogenoemde argumente aanvaar word dat dit 'n Samaritaan was nie. Tweedens, word dit veronderstel dat dit 'n Jood was (vgl. Greijdanus, Korte Verklaring der Heilige Schrift bl. 280) om daarmee juis die speerpunt van die gelykenis na vore te bring: die priester en Leviet - Jode- wou een van hulle eie mense nie help nie, maar die vreemdeling (Samaritaan) het hom gehelp. Daarop kon Christus die opdrag gee: "Gaan en doen jy net so" (Luk. 10:37). Die derde fout wat gemaak word is dat Levitikus 19:33 en 34 (weer net verder in dieselfde hoofstuk) geïgnoreer word: "Wanneer daar 'n vreemdeling by julle in julle land woon, mag julle hom nie onderdruk nie. Julle moet hom soos 'n medeburger behandel en hom liefhê soos julleself. Julle was immers self ook vreemdelinge in Egipte".

Die vraag is nie net: "wie is my naaste nie?", maar ook moet ons vra "vir wie kan ek 'n naaste word?" Naasteliefde beteken dus nie om liefde net aan bepaalde mense te betoon nie, maar om liefde as naaste te betoon. Die naasteliefde word ook bepaal deur God se liefde vir ons en ons wederliefde vir Hom (Mat. 22:34-40). Ons liefde vir ons naaste en vir onsself vloei voort uit ons verhouding tot God. God se liefde in Jesus Christus is universeel (Joh. 3:16). Daarom is naasteliefde ook universeel alhoewel dit nie die liefde vir die eie tot niet maak nie.

Anti-houding teen ander nasies.

Die Wit Teologie openbaar 'n anti-houding teenoor alle ander nasies. Jesus word beskou as die Koning en Verlosser van sy volk Israel, die letterlike afstammelinge van Abraham, Isak en Jakob. "Jesus is nie die Koning van die Egiptenaars, Kusiete, Kanaäniete, Jafetiete, Zoeloes of Indiërs nie" (Hayes, s.a.(1):156). Daarom sê die Wit Teologie dat die ander nasies by hulle gode gelaat moet word. "Hulle doen nie sonde as hulle hierdie goed aanbid nie, God het dit aan hulle gegee!" (Hayes, s.a.(1):191).

Volgens Hayes is die Skrif ook net besig met Israelnasies. Wanneer die Skrif soms praat van volke, tale en nasies, dan lyk dit asof dit die hele wêreld insluit, maar die Skrif bedoel slegs die menigte Israelnasies wat uit Abraham sou ontstaan. So is slegs die blankes die kinders van Israel en die letterlike kinders van Jakob en die "Zoeloes is nie van Jakob se nageslag nie" (Hayes, s.a.(1):207).

Volgens die Wit Teologie is die Bybel alleenlik geskryf vir die blanke ras. "Dit is 'n geskiedenisboek van en vir die blanke ras. Ander rasse kom nie voor in die Bybel nie" (Anon, s.a.(2):5). Omdat die Wit Teologie oortuig is dat daar in die Skrif nie sprake is van van verbonde tussen God en ander nasies nie, word al die ander nasies verwerp en buite die onveranderlike raadsplan van God geplaas (Hayes, s.a.(1):224).

Die Wit Teologie is daarom, soos reeds aangedui, anti-swart. Dit word baie duidelik gestel dat as iemand nie wit gebore is nie, daardie persoon deel van 'n subras is. Die oortuiging word dan ook gestel dat "hoe donkerder die vel, hoe minder die geneigdheid tot Christelikheid, geregtigheid en regverdigheid" (Hayes, s.a.(1):65). Die wit vel word deur die Wit Teologie gesien as 'n gawe van God om hom te onderskei van die duisternis, dit is die swartman. Alleen as witmens is jy die beeld van God, omdat God net een mens gemaak het en dit 'n witmens was. Hayes gaan selfs so ver en maak die skreiende, lasterlike opmerking: "Die Here het gesê dat die mens gemaak is na sy beeld, en God het nie twee beelde, een wit en een swart nie!" (Hayes, s.a.(1):148).

Sommige voorstanders van die Wit Teologie, maak dan ook die swartmense in die skerpste taal af as diere. Daar word gesê dat telkens as die Bybel verwys na mens en dier, dan beteken dit dat die swartes onder die diere gegroepeer word. "Toe Noag die diere in die ark geneem het, het hy twee swartmense ook daar ingejaag. Dis hoe die swartmense die vloed oorleef het. Die Bybel onderskei mos tussen twee- en viervoetige diere". En verder: "Rassevermenging word verbied in die Bybel omdat God gemeenskap tussen mens en dier verbied. 'n Swartman en mense met "gekleurde" bloed kan daarom nie gered word nie...Daar sal wel swartes in die hemel wees soos wat daar honde en katte sal wees. Ons kan net nie sê watter diere en watter swartes is nie...SENDING EN EVANGELISASIEWERK ONDER DIE SWARTES IS DAAROM TYDMORS! Diere het tog nie die evangelie van Christus nodig nie!!" (Anon, s.a.(2):4,5). Die Wit Teologie is daarom ook anti-sending. Dit spreek eintlik vanself dat as die nasies en die swartman verwerp word, daar geen sprake kan wees van sending nie. Die gedagte by die Wit Teologie is dat slegs Israel die bevel kry om in Jesus Christus te glo. Daarom moet die Mohammedane, die swartes met hulle voorvaderlike geeste en al die ander nasies met rus gelaat word.

Die Wit Teologie stel dit nog sterker: "Om die beloftes wat aan Israel gemaak is vir die ander nasies aan te bied, is 'n gruwel voor God. God het hulle niks belowe nie. Hy is slegs met Israel besig" (Hayes, s.a.(1):180). Volgens die Wit Teologie is geen profete na die nasies gestuur nie. Selfs Christus het nie probeer om hulle te red of te bekeer nie. Daarom word die standpunt deur die Wit Teologie gestel: "Sendingwerk moet dringend gestaak word" (Hayes, s.a.(1):178).

Op grond van die Wit Teologie se mensbeskouing en al die klem wat dit in hulle denke ontvang, moet dit gestel word dat die Wit Teologie eerder 'n antropologie (leer oor die mens), as 'n teologie (leer oor God ) bring. Nog sterker gestel: die Wit Teologie verkondig uit 'n politieke oorweging 'n ideologie aangaande die blanke mens en nie 'n teologie nie. Want teologie is die leer aangaande God en nie aangaande mense nie. Met die behandeling van die Wit Teologie se uitverkiesings- en verlossingsleer in die volgende punt, sal bogenoemde stelling nog duideliker word.

©2006 GKSA.
Navrae: Outeur: Ds GJ Kruger
Webmeester