INLEIDING
HISTORIESE OORSIG Oorsprong van Wit Teologie se Israel-visie
Uitbreiding van Israel-visie deur Herbert W. Armstrong
Israel-visie in Suid Afrika
KRITIESE UITEENSETTING VAN DIE LEER VAN DIE WIT TEOLOGIE
SAMEVATTING EN SLOT
BIBLIOGRAFIE

HISTORIESE OORSIG

Oorsprong van Wit Teologie se Israel-visie.

Omdat daar byna geen literatuur oor die oorsprong van die Wit Teologie is nie word 'n historiese oorsig hoofsaaklik aan die hand van Pont (1989:3-11) gegee.

Die argument word tans deur die Wit Teologie aangevoer dat die Afrikanervolk hier in Suid-Afrika, die afstammelinge sou wees van die verlore tien stamme van Israel. "Omdat dit so sou wees, het die Afrikanervolk eintlik niks te vrees nie, want die almagtige God sal nie toelaat dat sy besondere, uitverkore volk hier oorspoel of vernietig word nie" (Pont 1989:3). Volgens Pont (1989:3) wil dit voorkom asof die belangstelling in die sogenaamde Israel-visie (Wit Teologie) toeneem soos die Afrikanervolk al meer onder druk geplaas word, vanweë die geleidelike afskaffing van die apartheidsmaatreëls, en die daarmeegepaardgaande integrasie van alle volkere in Suid-Afrika.

Pont (1989:3) stel verder dat "die oorsprong van hierdie Israel-visie ver terug in die geskiedenis lê en saamhang met die feit dat die Wit Teologie nie aanvaar dat die tien stamme van Israel, wat in 722 v.C., in die regeringstyd van koning Hosea van Israel deur koning Salmaneser van Assirië weggevoer is, sonder nakomelinge in die vergetelheid verdwyn het nie (2 Kon. 17: 3-6)".

In dieselfde hoofstuk in 2 Konings 17:18 staan daar egter duidelik dat "die Here so toornig op Israel geword het dat Hy hulle verwerp het" en ook in 2 Konings 17:23: "Uiteindelik het die Here hulle laat vaar soos Hy deur al sy dienaars, die profete, gewaarsku het" (1983-vertaling).

Die Skrif leer dus slegs dat die tien stamme wel na Assirië weggevoer is, en sê niks van wat verder met Israel gebeur het nie, maar "die moontlike verdere lotgevalle van die tien stamme het baie mense laat nadink, waarskynlik omdat dit moeilik is om te aanvaar dat die Here hulle finaal en onherroeplik, vanweë hulle ongehoorsaamheid en sonde, verwerp het. Die oudste mededeling dat die tien stamme nie resloos in die heidendom verlore gegaan het nie, word in die apokriewe vierde boek van Esra gevind. Daar word vermeld dat hulle oor die bolope van die Eufraat-rivier getrek het na die onbewoonde land met die naam Assaret (4 Esra 13:39-47)" (Pont 1989:4).

Op grond van die feit dat hierdie woorde in die apokriewe boek Esra as gesagvol aanvaar word, is verskillende teorieë geformuleer wat probeer om 'n antwoord te gee op die vraag: "Wat het van die tien stamme geword?"

"Daar word selfs beweer dat die nasate van die tien stamme die Rooi Indiane van Amerika sou wees, terwyl ander die moontlikheid voorgehou het dat hulle uiteindelik in Japan sou uitgekom het" (Pont:1989:4).

Die opvatting wat egter die grootste aanhang gekry het, is dat die tien stamme die Britse eilande sou beset het. Die teorie is die eerste maal deur Richard Brothers (1757-1824) uiteengesit in 'n werk wat in 1822 in London gepubliseer is: "A Correct Account of the Invasion and Conquest of this Island by the Saxons, necessary to be unknown by the English Nation, the Descendants of the greater part of the Ten Tribes" (Pont, 1989:4).

Brothers se opvattings is deur John Wilson gepropageer wat vanaf 1838 groot moeite gedoen het om Brothers se opvattings verder te voer. Wilson het heelwat sukses gehad en selfs ampsdraers van verskillende Engelse kerke vir sy opvattings gewen. Wilson het sy uiteensettings in 1844 gepubliseer in 'n boek getiteld: "Our Israelitish Origin, or the British Christians a Remnant of the true Israelites" (Pont, 1989:4).

Geleidelik het die beweging gegroei en in 1872 is die eerste "British-Israel" kongres in Londen gehou onder die voorsitterskap van biskop Samuel Gobat van die Anglikaanse Kerk. Die beweging het so vinnig uitgebrei dat in 1919 die "British-Israel World Federation" gestig is, en 'n enorme hoeveelheid lektuur is versprei waarin gepoog word om te bevestigdat die Britte die fisiese afstammelinge van Israel sou wees (Pont, 1989:4).

Dit is belangrik om op die essensie van hulle argumente te let om aan te toon op watter merkwaardige gronde die opvatting gebou is. In 1962 is 'n pamflet, "British-Israel Identity Truth", hier in Suid Afrika versprei.

Daarin word gestel dat die woord British afgelei is van die Hebreeuse woorde "berit" (beteken verbond) en "ish" (beteken man). Dan word gestel: "Consequently all members of the Covenant-Race, all nations that are part of Israel, are included under the title of the Berith-ish, British" (Pont, 1989:5). Dan word verder gesê dat die Angele, die Sakse en die Kelte, wat die basiese samestelling van die nasie van die Britse eilande vorm, die direkte afstammelinge van die Israel van ouds is, deur wie God beloof het dat Hy sy koninkryk op aarde sou vestig (Pont, 1989:5).

As bewyse vir hierdie argument word aangevoer dat die Engelse koning, Alfred the Great, reeds in 871 dié waarheid vasgelê het, want in een van sy proklamasies stel hy: "Vex thou not...Strangers in the land, for ye were formerly strangers in the land of the Egyptians" (Pont, 1989:5).

Daar word verder aangevoer dat "Josef van Arimatea in 38 n.C. in Glastonbury die Christelike geloof in die Britse eilande gevestig het. Daar word selfs beweer deur 'n sekere F. Haberman dat saam met Josef ook Maria, Marta, Lasarus en nog 'n paar ander na Engeland gekom het en dat Josef in 76 n.C. daar oorlede is" (Pont, 1989:5).

Haberman verwys ook na 'n kopie van die boek "Handelinge van die apostels", in die Turkse argiewe in Konstantinopel wat glo 'n 29ste hoofstuk bevat (Pont 1989:5). In dié 29ste hoofstuk sou dan vertel word van 'n reis wat Paulus ook na Engeland gemaak het waar hy dan die evangelie sou verkondig het. Baie het Christene geword maar van daardie oorspronklike Christene sou nie veel oorbly nie, want hulle is omtrent almal uitgewis deur die invallende Angele wat een van die verlore tien stamme van Israel was en eers later gekersten sou word. Hoe dit ookal sy, die afleiding word konsekwent gemaak dat die Engelse die direkte voortsetting van die tien stamme van Israel is.

Dit is opvallend dat die "British Israelites", met die aanhaling van verskillende tekste uit die Ou Testament probeer aantoon dat die eertydse Britse seemag, sy rykdom as die sentrum van die destydse "empire" en sy verheffing bo ander volkere, die resultaat is van profesieë wat op die tien stamme betrekking sou hê. So sou met die uitspraak van Genesis 22:17 en 24:60 die Engelse "empire" bedoel word. "Dit laat die indruk ontstaan dat die "British Israelites" hulle teorieë gebruik het om 'n soort teologiese basis en regverdiging vir die Engelse "empire" te kry" (Pont 1989:6).

Volkekundig gesproke, is die teorieë van die "British Israelites" net so onwaarskynlik, want daar kan nie op 'n bevredigende wyse aangetoon word dat die Kelte, Saksers en Angele uit die ou Nabye-Ooste voortkom en dat hulle in wese Semitiese volke is nie. "Taalkundig bestaan daar ook geen verwantskap tussen die taal van bogenoemde volke en die Hebreeuse taal wat deur die tien stamme gepraat en geskryf is nie. Dit lyk ook baie onwaarskynlik dat die tien stamme in hulle vaderland al kon gelees en geskryf het, maar as hulle dan uiteindelik as Kelte, Saksers en Angele in Engeland aankom, dan kan hulle glad nie meer lees of skryf nie" (Pont 1989:6). Pont (1989:7) maak dan die volgende stelling: "Die uitleg dat die woord "Saxon" byvoorbeeld 'n verbastering van die begrip "Isaac-sons" sou wees, lyk meer na verbeelding as waarheid".

Uitbreiding van Israel-visie deur Herbert W. Armstrong.

Dit is nodig om kortliks aandag te gee aan Herbert W. Armstrong wat vanaf 1934 hierdie hele Brits-Israel-teorie op 'n besondere manier uitgebou het. Wie is hierdie Herbert W. Armstrong?

Hy is die man wat in 1934 die organisasie "The Radio Church of God", later genoem die "Worldwide Church of God" gestig het. In dieselfde jaar begin hy in Pasadena in Kalifornië met die glanstydskrif "The Plain Truth" as reklameblad vir sy sienings asook met die " Ambassador College" waarin 'n internasionale korrespondensiekursus in "Bybelbegrip" aangebied word.

Die tydskrif "The Plain Truth" wat wyd in Suid-Afrika gelees word ('n lesertal van 500 000 net in die RSA), bring die leer van die Brits-Israelisme as een van sy hooftemas. Daarvolgens het slegs die tweestammeryk uiteindelik die Joodse volk geword. "Die tien stamme het verlore geraak tot hulle uiteindelik in Europa (veral Engeland) en later ook in Amerika ontdek is. Hulle sou dan uit Assirië weswaarts beweeg het na Europa. Hieruit moet nou die oorsprong van dele van die Duitse, Franse, Hollandse en Engelse nasies verklaar word. Name soos Danzig en Danube sou, volgens dié siening, duidelik aantoon dat die stam van Dan eers daar gewoon het. Historici wat die geskiedenis van die Europese volkere nagevors het, vind hierdie teorieë egter totaal onjuis en belaglik" (Anon, s.a.(1):3). Armstrong het ook met behulp van die Brits-Israel visie 'n groot godsdienstige en finansieële ryk opgebou. Hy was 'n baie magtige man en was byvoorbeeld persoonlik bevriend met koning Hoessein van Jordanië.

"Die "Worldwide Church of God" het bates van meer as R150 miljoen (lidmate moet tot 30 % van hulle maandelikse salarisse aan dié "kerk" gee). Armstrong se persoonlike salaris as genootskaphoof is R500 000 per jaar. Hy besit onder andere 'n straler van R17 miljoen" (Anon, s.a.(1):3).

Armstrong se opvattings bring allerlei koddighede mee. "Een van die merkwaardiges is dat die Engelse vorstehuis die direkte voortsetting van die koningshuis van Dawid sou wees. Dit word dan bewys deur die feit dat die "stone of Scone", wat in Westminster Abbey onder die troon lê waarop die Engelse vorste gekroon word, niks anders sou wees as die klip wat Jakob op 'n keer as kopkussing gebruik het nie (Gen. 28:11). Die profeet Jeremia sou glo dié klip met 'n geleentheid na Engeland geneem het. Die probleem is egter dat 'n ondersoek aangetoon het dat die "stone of Scone" uit Skotse sandsteen bestaan. Dié natuurwetenskaplike bevinding het Armstrong egter nie van sy verhaal laat afsien nie" (Pont, 1989:7).

Omdat Armstrong se blad, "The Plain Truth" wyd in ons land versprei en gelees word en waarskynlik ook bydra om die Israel-visie in Suid-Afrika te propageer, is dit ook nodig om 'n laaste opmerking oor Armstrong te maak.

'n Eertydse volgeling van die "Worldwide Church of God", John Robinson, het onlangs 'n boek getiteld "The Tangled Web" in die V.S.A. gepubliseer, waarin Armstrong, sy tydskrif en sy sekte aan die kaak gestel word. Daarin beweer hy onder andere dat "Armstrong 'n alkoholis is, dat hy jarelank bloedskande met sy suster gepleeg het en dat hy 'n sekspervert is. Al hierdie bewerings kon gestaaf word en Armstrong het dit teen wil en dank erken. Sy seun en dogter het hom nou verlaat en hom in die openbaar veroordeel. Hy is ook onlangs van sy vrou, Lorna (vyftig jaar jonger as hy) geskei" (Anon, s.a.(1):3).

Na die verskyning van die boek "The Tangled Web" het die "Worldwiders" se ledetal in die V.S.A. geweldig afgeneem. Die probleem is egter dat lidmate van die "Worldwide Church" in Suid-Afrika, verbied word om enige buite-kerklike publikasie oor Armstrong te lees.

Dit is nodig om deeglik kennis te neem van Armstrong en sy tydskrif "The Plain Truth" omdat hierdie tydskrif ook in die kringe van die Wit Teologie gebruik word om die Israel-teorie te propageer.

Israel-visie in Suid Afrika.

Die Wit Teologie in Suid-Afrika is net 'n variasie op die tema van die "British Israelites", wat na vore gekom het toe gestel is dat elkeen van die Europese volke 'n afstammeling sou wees van een van die verlore tien stamme van Israel. Teenoor die "British Israelites" se teorie dat die Engelssprekende lande die somtotaal van die verlore tien stamme van Israel is, stel die Wit Teologie dat die Engelse nasie net één van die tien stamme is. Swart (s.a.:32) stel dit soos volg: "Ons Westerse geskiedenis begin op 'n geheimsinnige wyse met die Germane, Wes-Gote, die Hunne, Vandale, ensovoorts, wat Europa vanuit die Noord-Ooste binnegetrek het, en niemand weet kamtig werklik wie hierdie mense was en waarvandaan hulle regtig gekom het nie. Dit was egter Blankes soos wat die tien stamme van Israel wat in die verstrooiing en verborgenheid gegaan het, ook Blankes was. Dit lyk dusvoor-die-hand-liggend dat die verlore tien stamme van Israel die voorvaders was van die Duitsers, Hollanders, Franse en Engelse en indirek dan ook van die Blanke Suid-Afrikaners en ander blanke volke van die Nuwe wêreld. Israel kan dus vandag gesoek word onder die blanke volke van die aarde".

Neser het in hierdie verband reeds in 1956 die Israel-verhaal op Suid-Afrika betrek met die volgende stelling: "God het die Room van die Reformasie in die persone van Geus en Hugenoot na hierdie Suidpunt van Donker Afrika gestuur. Hulle is later aangevul deur die ewe vrome 1820 Britse Setlaar. Dit was verwante groepe en almal afkomstig van hierdie Anglo-Saksies-Keltiese en verwante groepe van wie daar onweerlegbare bewyse bestaan dat hulle die nakomelinge van die sogenaamde Verlore Tien Stamme van Israel is; dus die Verbondsvolk van God, wie se roeping dit was om die Kanaal te wees deur wie God Homself aan die wêreld sou openbaar. Ons is dus God se uitverkore volk, nie om voorgetrek te word nie, maar vir diens en vir seën van die wêreld" (Neser 1956:10).

Die bewyse wat die Wit Teologie aanvoer vir hierdie argument is dan veral Jesaja 43:21 en Mattheüs 24:9. Die probleem is egter dat die Wit Teologie 'n teksvers uit die Bybel as 'n losstaande geheel sonder sy verband aanhaal, want verder in Jesaja 43 in vers 28 sê die Here: "Ek het Jakob iets gemaak wat uitgeroei moet word, Israel iets wat bespot moet word" (1983-vertaling); en 'n paar verse verder in Mattheus 24 in vers 14 sê Jesus: "En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot 'n getuienis vir al die nasies" (1953-vertaling). Wanneer die tekste in hulle verband gelees word, is dit duidelik dat die tekste wat die Wit Teologie aanhaal ter ondersteuning van hulle stellings, nie juis hulle stellings bewys nie.Interessantheidshalwe kan daarop gewys word dat ds. G.W.A. van der Lingen (1804-1869), die bekende Paarlse predikant uit die vorige eeu, ook al op hierdie sake ingegaan het. "Sy biograaf, M.C. Kitshoff, wys daarop dat Van der Lingen 'n besondere voorliefde gehad het vir die studie en uitleg van die Bybelse profesieë. Dit het tot gevolg gehad dat hy sy studiewerk in 1842 gepubliseer het onder die titel: "Aanwijzingen betreffende de afkomst en bestemming van sommige Noordsche Volken". Hiermee kan Van der Lingen beskou word as een van die vroeë woordvoerders van die Israelvisie. Dit bly merkwaardig dat die hedendaagse woordvoerders van dié opvatting, sover nagegaan kan word, nooit na hierdie werk terugverwys nie" (Pont, 1989:10).

Die essensie van die Wit Teologie se argument is dus dat die blankes van Suid-Afrika en dan in besonder die Afrikanervolk, God se uitverkore volk is en so die middel waardeur God Homself aan die wêreld gaan openbaar. "Dit is merkwaardig dat die koddige opvatting van die negentiende-eeuse Engelsman, Richard Brothers, vandag in ons land aangewend word om die Blankes in Suid-Afrika in hulle omstrede posisie in die wêreld te `bemoedig'" (Pont:1989:12).

©2006 GKSA.
Navrae: Outeur: Ds GJ Kruger
Webmeester