INLEIDING

HISTORIESE OORSIG

KRITIESE UITEENSETTING VAN DIE LEER VAN DIE WIT TEOLOGIE

GODSBESKOUING

Leer oor die Drie-enige God

Raadsplan van God

God se unieke plan rondom Juda en Israel

Die stryd om die hede

Beoordeling van die Wit Teologie se leer oor die raadsplan

Die Name van God

MENSBESKOUING

Israel is die blankes

Israel blank geskape

Die swartes is diere

Tipes argumente as "bewys" dat Israel blank is

Naasteliefde

Anti-houding teen ander nasies

UITVERKIESINGSLEER

Slegs Israel uitverkies

Bloedverkiesing

Verlossingsleer

SKRIFBESKOUING EN SKRIFGEBRUIK

Skrifbeskouing

Skrifgebruik

Die Bybel bestaan uit voorspellings

KERKBESKOUING

Die Wit Teologie is anti-kerk

Sakramentsleer

SAMEVATTING EN SLOT

BIBLIOGRAFIE

KRITIESE UITEENSETTING VAN DIE LEER VAN DIE WIT TEOLOGIE

UITVERKIESINGSLEER

Slegs Israel uitverkies.

Die essensie van die argument van die Wit Teologie is reeds na vore gebring naamlik dat die blankes van Suid-Afrika, as fisiese afstammelinge van Israel, God se uitverkore volk is en daarom die middel waardeur Hy Hom aan die wêreld gaan openbaar. Dit klink pragtig, want in die argument lê dan die gedagte opgesluit dat die blankes in Suid-Afrika behoue sal bly, want anders word God se openbaringsmedium vernietig. (L.w. 'n volk is nou openbaringsmedium, en nie meer alleen die Woord van God nie).

Die kernteks waarmee die Wit Teologie werk wanneer dit kom by die uitverkiesing is 1 Petrus 2:9: "Maar julle is 'n uitverkore geslag...", of soos die Wit Teologie dit vertaal: "Julle is 'n uitverkore ras" (Anon, s.a.(2):9). Die "julle" waarvan Petrus praat is dan volgens die Wit Teologie slegs die geslag van Israel. Steenkamp beweer dan dat die Skrif nêrens die gedagte ken dat mense uit die hele wêreld uitverkore is nie. "Dit is altyd 'n sekere volk of geslag en enkelinge binne hierdie volk of geslag...en dit is Israel!" (Steenkamp (G.J.), 1988:9).

Die afleiding word dan verder gemaak dat die blankes, of die Adamitiese ras of die Ariese ras ongetwyfeld die afstammelinge van die tien stamme van Israel is, en daarom is slegs hulle die uitverkore ras. Om dit te bewys kom die Wit Teologie met 'n enorme aantal Bybeltekste maar die tekste word gedwing om te buikspreek eerder as om te spreek. So word telkens vertel dat die Bybel 'n "verborge boodskap" sou hê, wat moedswillig deur die kerk en predikante verswyg word. Die verborge boodskap is dan die Wit Teologie se verhaal dat die verlore tien stamme vandag se blankes is en dat die Woord van God net vir hulle bedoel is. Daar word selfs gesê dat dit die taak van die "Israelvolke" is om hulle van ander volke af te skei, want hulle is 'n heilige volk. (Heilig dui op aparte volk.) Daar word ook 'n oproep gedoen om die kennis van die Woord van ander volke te weerhou, veral dié wat dan nie deel is van die "Adamitiese ras" nie, want alleen die "Adamitiese ras" is op verlossing geregtig (vgl. Pont, 1989:11).

In sommige van die Wit Teologie se geskrifte word "die blankes van Suid-Afrika gesien as die uitverkorenes, as die laaste hoop van die blanke ras. Daar word selfs gestel dat Tafelberg die plek is waar die Here Jesus Christus met sy wederkoms sy verskyning sal maak" (Pont, 1989:11).

So is almal wat die Wit Teologie aanhang, en by name veral Robert Hayes van Oos-Transvaal, ds. Gert Steenkamp van Kuruman ('n voormalige N.G.-predikant) en die Windhoekse studiegroep se uitgangspunt dat die Bybel ons eintlik, in sy diepste sin, iets wil vertel van die lotgevalle en die toekomsverwagtings van die verlore tien stamme (met of sonder Juda en Benjamin daarby), die enigste werklike uitverkorenes. Uitverkorenheid word hier bepaal deur afstamming en dit is beperk tot óf die Blankes, óf die Engels-Amerikaanse wêreld, óf net die blankes in Suid-Afrika, óf net die Afrikanervolk. Die vyande van die uitverkorenes word deur die Wit Teologie ook met sorg aangedui en dit is dan óf die Humaniste, die Liberaliste, die Sosialiste, die Kommuniste, die Jode, die groot geldmag, die kerke óf die predikante of sommer almal saam. "Die kwaadwilligheid, geslepe vyandigheid of kortsigtige domheid van die vyande van die uitverkorenes word met skerp woorde geteken" (Pont, 1989:11).

Bloedverkiesing.

Die Wit Teologie stel die verbondenheid met Israel as 'n voorwaarde vir verlossing. Die hele Godsplan of raadsplan (waaroor reeds gehandel is, vgl. 3.1.2) wentel om Israel, die witman aan die suidpunt van Afrika. Daarom stel Hayes (s.a.(1):3) die volgende: "As jy nie 'n gebore Israeliet is nie, kan jy jou nie beroep op die beloftes wat God aan Israel gedoen het nie". Die evangelie is hiervolgens net bedoel vir die witman en vir niemand anders nie. Omdat die verlossing net vir die witman beskore is, is dit vanselfsprekend dat swaar klem gelê sal word op die suiwerheid van afkoms. "Jesus moet met die Wederkoms 'n suiwer oorblyfsel van die twaalf stamme kry, anders kan die Skrifte nie vervul word nie" (Hayes, s.a.(1):108).

Die geweldige klem op die suiwerheid van die bloed van die witman impliseer dat daar 'n stryd sal wees om beskerming van hierdie suiwer bloedlyn. Die stryd waarvoor die witman in Suid-Afrika te staan gekom het, is 'n stryd teen vermenging. "Dit word deur die Wit Teologie as 'n deel van Satan se plan gesien om die witman te laat verbaster. Met vermenging word egter nie net die vermenging tussen wit- en swartmense bedoel nie, maar veral die vermenging tussen Israel en die ander blanke nasies wat nie Israel is nie. Die stryd om suiwerheid kulmineer in die politieke stryd tussen links en regs, verkramp en verlig, wat 'n kwessie is van twee bloedstrome. Hierdie stryd teen vermenging loop dan uiteindelik uit op wat genoem word, die huisskoonmaakproses in Suid-Afrika. Dit word met klem gestel dat twee-derdes van die "vredeliewende" Afrikaners in hierdie stryd gaan sterf" (Naudé, 1989:20). Volgens die Wit Teologie is dit die enigste hoop vir 'n suiwer bloedlyn. Dit wat gebeur het in die Akorlaagte (Jos. 7) toe die hele Israel vir Akan en sy familie met klippe doodgegooi het, sal weer in hierdie stryd in Suid-Afrika gebeur. Ter wille van suiwerheid van bloed, sal diegene wat vermeng (dit is nou die linkses en die verligtes) in die hande van die volk oorgegee word. Die opmerking word dan ook deur Hayes (s.a.(1):149) gemaak dat soos Israel hulle volksgenote met klippe doodgegooi en verbrand het, die ANC dit vandag doen en dat God dit goedkeur.

Vanuit bogenoemde redenasies van die Wit Teologie is één ding baie duidelik: Alles draai om die uitverkiesing en uitverkiesing word as bloedverkiesing verstaan. Dit word dan as die evangelie beskryf: dat 'n mens hierdie uitverkore bloedlyn in jou are het!

Die konsekwensie van hierdie siening van die Wit Teologie oor die uitverkiesing skep 'n valse gerustheid aan die een kant en verslaentheid aan die ander kant. As iemand fisies nageslag van Israel en daarom uitverkore is, word net hy gered en dit is 'n toestand waaraan niks verander kan word nie. Dit gee valse versekerdheid (verbonds- of volksoutomatisme). Net so skep dit 'n verslaentheid en ongeloof by diegene wat (volgens die Wit Teologie) nie die uitverkore bloedlyn het nie, maar tog in God glo en Hom wil dien. Op hierdie wyse beskik God nie oor die uitverkiesing nie. "Dit word 'n menslike monster waardeur gelowiges vernietig word" (Naudé, 1989:22).

Die uitverkiesing wat die Skrif leer het allereers 'n genadekarakter wat die wonder van die uitverkiesing onderstreep. Uitverkiesing is genade en dit is genade om genade te ontvang. By die Wit Teologie vind ons 'n skeefgetrokke beskouing oor genade, want die "genade" word verdien deur diebloed in jou are. Uitverkiesing is onverdiende genade, anders sou dit geen genade kon wees nie. Daarom vind uitverkiesing nie plaas op grond van sekere spesiale kwaliteite van die mens nie - ook nie afstamming of suiwere bloedlyn nie! Uitverkiesing is en bly 'n vrye daad van God. Deur die uitverkiesing handel God in vryheid en in liefde. Hy sal Hom ontferm oor wie Hy Hom wil ontferm (Rom. 9:15). " 'n Mens word nie uitverkies vanweë sy bloedlyn nie, maar vanweë die bloed van Christus! (Naudé, 1989:24).

Verlossingsleer.

Oor die verlossingsleer van die Wit Teologie is reeds in die voorafgaande een en ander gesê. Ter wille van duidelikheid kortliks net die volgende: Vir die Wit Teologie is die versoeningsleer van minder belang as die verbondsleer. Hulle leer die volgende: Yahweh het net een verbond, 'n ewige verbond met Abraham en sy fisiese nageslag gesluit. Die Sinai-verbond was 'n herhaling van daardie ewige verbond. Toe Israel later van Yahweh afgedwaal het, het Hy hulle 'n "Skeibrief" gegee (vgl. Jes. 50:1; Jer.3:8). Vir die Wit Teologie lê Jesus Christus se betekenis daarin dat Hy met sy soendood die verbond met Abraham, of dan Israel, kom herstel het. Toe kon al die goddelike beloftes vir Israel in vervulling gaan. Christus se versoening geld dus net vir die fisiese nageslag van Israel, en vir niemand anders nie (Vgl. Straus, 1991:14). Jesus Christus (aan wie alle mag in hemel en op aarde gegee is) het net vir Israel kom verlos.

Hierdie verlossingsleer van die Wit Teologie is onaanvaarbaar en is nie gegrond op die Skrif nie, want die verlossing geld vir alle nasies (Hand. 10:43,35) en nie vir die "Israelnasies" soos die Wit Teologie wil lees nie (vgl. by Hayes, s.a.(1):206).Dit is egter nie verkeerd van die Wit Teologie om die verband tussen Ou en Nuwe Testament vas te hou nie, maar hulle oorbeklemtoon die Ou Testament ten koste van die Nuwe Testament. Soos die Wit Teologie die Skrif gebruik verklaar die Ou Testament die Nuwe Testament en nie omgekeerd nie.

Die gedagte van die fisiese, uitverkore volk in die Ou Testament, bly ook by die Wit Teologie die enigste gedagte in die Nuwe Testament, asof Handelinge 10 en Romeine 10 en 11 nooit geskryf is nie. Die lig van die Nuwe Testament word dus nie altyd deur die Wit Teologie bygebring nie. Daarom oorbeklemtoon hulle die eenheid van die ou en nuwe verbond ten koste van die onderskeid. Op dié manier word die nuutheid van die nuwe verbond totaal ontken.

Christus het egter gekom - so leer die Nuwe Testament - nie net om die ou verbond te herstel nie, maar om dit te vervul (d.w.s. "sy volle betekenis te laat kry" - Mat. 5:17). God se oorspronklike, allesomvattende bedoeling met sy verbond met Abraham ("in jou sal al die volke van die aarde geseën word" - Gen. 12:3) kom deur Jesus Christus nou ten volle aan die lig. Toe die Here vir Abraham geroep het, "het hy die belofte ontvang dat uit sy nageslag die Verlosser gebore sou word wat 'n seën vir die hele wêreld sou wees" (Malan, 1990:4). Buys (1989:18) sê ook in hierdie verband: "Dit was die Here se hele doel met die afsondering van die verbondsvolk in die Ou Testament: hulle moes slegs instrument wees om sy lig na al die nasies toe te bring. (Vgl. Gen. 12:3 en Jes. 49:6.)

Die verlossing in Jesus Christus word nie bereik deur bloedbande nie, maar is werklik wêreldwyd, sodat Paulus kan getuig dat almal wat aan Christus behoort (afgesien van ras, of gestand of geslag) "nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God is" (Gal. 3:29).Die Wit Teologie verwerp hierdie Bybelse getuienis deur klem te lê op die suiwer bloedlyn. As verwoording van hulle standpunt word gesê" "Mense behoort aan Christus omdat hulle die nageslag van Abraham is" (Hayes, s.a.(1):169) Hiermee word die woorde van Galasiërs 3:29 en die Bybelse boodskap omgedraai: "As julle aan Christus behoort is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename". Dit is dus volgens die Skrif eerder so dat elkeen die nageslag van Abraham en daarom die volk van God (fisies - mans, vroue en kinders) is as die geloof in Jesus Christus gehandhaaf word. Israel het dit juis nie gedoen nie; hulle het nie geglo nie, maar die heidene het wel die evangelie gehoor en dit geglo. Daarom ontvang die gelowiges uit die heidendom die genade van God (Hand. 28:28; Mat. 21:31). "Hiermee het God nie ontrou aan sy beloftes geword soos die Wit Teologie beweer nie. God is juis getrou aan sy beloftes deur goedheid te betoon aan diegene wat Hom eer" (Naudé, 1989:24). Die heidene is deel van God se volk gemaak om Israel jaloers te maak. Israel moet positief hierop reageer deur in Christus te glo. Hiervan getuig Paulus in Romeine 11:11-24. So word die heidene wat tot geloof gekom het 'n instrument in die hand van God. Paulus verduidelik dit met die beeld van 'n mak en wilde olyfboom in Romeine 11. Israel is die mak olyfboom waarop die takke van die wilde olyfboom, die heidene, ingeënt is. Sommige van die takke van die mak olyfboom is afgebreek vanweë Israel se ongeloof. In hulle plek word takke van die wilde olyfboom op die stam van die mak olyfboom ingeënt en dit geskied deur die geloof van die heidene. Hierdie boom met sy mak olyfboomtakke en wilde olyfboomtakke is die Israel van God, die Israel van die belofte.

Die Skrif leer dan dat die Israel van God, die volk van God, uit mense bestaan, mense uit Israel en uit die heidene. Hierdie `deel word' van die volk van God geskied langs die weg van die geloof in Jesus Christus alleen deur God se genade - dit geld vir die mak olyfboomtak en die wilde olyfboomtak, vir Israeliet en vir heiden. Met hierdie beeld word dit duidelik gestel: God het die grense van sy volk uitgebrei om ook die heidene te omvat! Daarom is ook Afrikaners, Jode, Swartmense, Indiërs, Chinese, Koriane, Russe, Engelse, Zoeloes, Xhosas, ensovoorts, wat in Jesus Christus glo, deel van Israel, die fisiese volk van God. Hierdie Israel is daar deur die geloofsbande met Jesus Christus en nie deur bloedbande nie! Dat God sy volk uitgebrei het om ook die heidene te omvat, word ook in ander gedeeltes van die Nuwe Testament bevestig soos Romeine 3:11-31 en 2 Korinthiërs 5:19.

Die gelowige blanke Afrikaner is dus deel van Israel omdat God gewil het om hom in sy volk Israel in te plant. As Romeine 11 gelees word, kan dit nie anders nie as om aan die Wit Teologie te sê: Wie is jy o mens, om God se genade net vir jou en jou volk op te eis.

As dit God behaag het om Israeliet én heiden in Christus in te plant en so deel te maak van sy volk op aarde wat deel is van sy koninkryk, kan en mag die Wit Teologie nie mense wat hulle beskou as sogenaamde nie-Israeliete, daardie voorreg ontsê om deel te wees van God se volk in Jesus Christus nie.

©2006 GKSA.
Navrae: Outeur: Ds GJ Kruger
Webmeester